Geite, giere en grille is soos klitsgras het oom Daantjie altyd gesê. Wanneer dit eers gegryp het, los dit nie.
Welkom in die solderkamer. Hopenlik het jy reeds ‘n stomende beker koffie in die hand.
Die Verwyt
Ons het almal ongure gewoontetjies wat ons kinders soms agter rusbanke laat induik. Opmerkings soos Ek skaam my morsdood óf Ek sal nooit weer my gesig by die skool kan wys nie is nie so seldsaam in normale huishoudings nie.
En al wat jy gedoen het om na die eindes van die aardbol verban te word, was om tydens jou dogter se langdradige prysuitdeling verveeld met ‘n stokkie tussen jou tande te krap. Jy het gereken dit hou gesondheidsvoordele in terwyl sy voel dat jou optrede ondenkbaar gross was.
Daarom verwys my kinders partykeer na my gewoontetjies eerder as afwykings, want hulle is van oordeel dat dit nie met die optrede van jou normaalgeskape mens strook nie.
Wil jy eerder na die video van ons geselsie kyk?
Die Kriewel
Alhoewel ek begryp dat die jeug in ‘n bui van hartvogtige oordeel jeens hulle ouers kwessies te kras kan stel, het ek inderdaad ‘n probleem om stil te sit. Sou ek twintig jaar later die skoolbanke bestyg het, was ek beslis met aandag-afleibare-sindroom gediagnoseer en sou ek gedwonge ‘n pilletjie of twee moes sluk.
Dis nie dat ek ongeërg staan teenoor die irritasie wat ek ander besorg nie. Soms pla dit my ook. So sal ek tydens gesprekke spontaan begin rondkyk terwyl ek wesentlik nog na my geselser luister.
Tot my skaamte het vele sprekers al in die middel van ‘n sin ophou praat omdat hulle dink ek het heeltemal belangstelling verloor.
Af en toe is my eie vrou aan die ontvangkant en dan staar bevriesing van weke se huweliksregte my in die gesig.
Die Wip
Eintlik het ek ‘n reeks van onaardige gewoontetjies. Word ek gedwing om stil te sit, ontwaak ‘n wippende regterbeen. Sou jy in ‘n kerk ‘n harde houtbank met my deel, loop jy gevaar om ligte harsingskudding op te doen.
My wippende been word ook gesneller wanneer ek diep oor die lewe nadink. Hierdie bepeinsing vind meestal voor slapenstyd op ons dubbelbed plaas. Vroulief beweer dat die skommeling vergelykbaar is met die marteling om ‘n springkasteel met vyf kinders te deel. Gewoonlik bring die bloedstollende gil lê stil! my been tot bedaring.
Die Agie
Maar steeds is dit niet het einde. Tussen gewoontetjies kan dodelike vennootskappe vorm. So het my onvermoë om stil te sit met my onbegrensde nuuskierigheid saamgesweer.
Gevolglik word daar binne familieverband na my as Meerkat verwys. My uitermate lang nek het waarskynlik tot die naamgewing bygedra.
Maar geen gewoontetjie ontstaan ooit met die gedagte dat jy die wêreld se oë op jouself wil vestig nie. Daarom het ek aanvanklik nie begryp dat dit lekkerder vir my is om rond te kyk, as vir ander mense rondom my, om na my te kyk, wanneer ek rondkyk nie.
Die Besoek
Die insig het my eers tydens hoërskooljare getref toe die gewoonte reeds sterk gevestig was en ek vir die eerste keer die wêreld se verset teen ‘n kyklustige gees sou ervaar.
Verdronke in die geur van romanse, word ek deur ‘n jong dame uitgenooi om haar na die gereformeerde kerk in ons tuisdorp te vergesel.
My ywerige belangstelling in my medemens en omgewing het ongelukkig nie naatloos met die godsvrugtige atmosfeer versmelt nie.
Dis nie dat my moeder nie sedert peuterdae die opdrag sit stil binne kerklike verband by my ingedril het nie. En dis nie dat ek hierdie opdrag, wat meermale met ‘n plathand op my boude ingebrand is, vergeet het nie. En dus ook nié dat ek een of ander rebelse streep in my gehad het nie.
Maar jy kan tog nie ‘n kind alleen in ‘n soetgoedwinkel los en verwag hy gaan nie van die lekkergoed eet nie.
So bevind ek myself op ‘n snerpende koue Sondagoggend, met die winterryp wat swaar op die grasperke lê, op ‘n krakende houtbank binne hierdie erg vrome milieu.
My oë het dadelik in die ontsagwekkende goue kanselkleed verdrink. Die borduursel het my voortydig na die hiernamaals en die goue strate van Jerusalem weggevoer. Tot op daardie stadium van my grootwordjare in die sanderige Kalahari het ek nog nooit iets so asemrowend gesien nie
Die Raaisel
Vanaf die preekstoel doer bo in die lug het my oog na die houtrame op die mure weerskante gedwaal. Ingeskuifde letters en syfers was die verkorte leidraad vir die oggend se gesange, psalms en bybeltekste. Gebore uit my natuurlike nuuskierig móés ek net die tekste se geheime kode ontrafel.
“Fil” vir Filemon was maklik, maar “Sef” vir Sefanjé het ‘n diepdelwing deur twee orrel-liedere heen geverg wat eers beëindig is toe die dominee self aangekondig uit watter tekste hy preek.
Die Loer
Met hierdie worstelstryd afgehandel, het my verspieding van die omgewing onbevange na die kerkgangers verskuif.
In die Kalahari myndorp waar ek opgegroei het, was daar min aansporing om weer ‘n pak klere ná jou troue aan te koop. In die somer het die mans in die versengende hitte safaripakke kerk toe gedra.
Slegs op ‘n yskoue wintersdag soos daardie Sondag beleef is, sou pakke afgestof word. Sommiges het reeds twintig of meer jare diens gedoen. Met geil eetgewoontes oor dekades heen was dit altyd ‘n strydvraag of die waagstuk aangegaan kon word om die baadjies oor negemaande-oue swangerskappe te probeer toeknoop.

Dit was eintlik ‘n ernstige kwessie want uit eerbied moes kerkbaadjies formeel toegeknoop word. Die goue middeweg was om ten minste die knoop onder die borslyn vas te maak.
In die syvleuel waar ons gesit het, was my uitsig oor die res van die kerkgangers onbelemmerd. Vele mans se eenknoop-baadjiepante het soos vlerke om hulle boepe in die lug getwêr.
Ek kon nie help om aan ‘n swerm hommelbye te dink wat op die punt staan om uit ‘n heuningkorf op te styg nie.
Met die vroue was ek summier in ‘n verdere raaisel gedompel. In ’n myngemeenskap ken almal mekaar ten minste vaagweg. Opgetof egter in vele lae grimering, fênsie kerkrokke en sierlike hoede was dit ‘n tergende, maar bevredigende uitdaging om hulle werklike identiteit te probeer uitpluis.
Die Begrafnisruiker
Tot in die middel van die preek het my kuiertjie in die gemeente, volgens eie oordeel, hoogs genotvol en prikkelend verloop. My vreugde het egter net voortgeduur totdat ek ‘n onmiskenbare sisgeluid agter my gehoor het.
My eerste gedagte was dat ‘n toneel uit die tuin van Eden afspeel en ek een of ander verlokking sou moes weerstaan.
‘n Swaar vinger het hard in my skouer geboor. Met die omdraaislag het ek in swierige hoed vasgekyk wat soos ‘n reuse begrafnisruiker oor my gehang het.

Die toorn van die dame in haar laat sestigs het in vlamme op haar nek uitgeslaan. “Kyk boetie,” het sy soos onweer gedreun, “ek weet nie wie jy is nie, maar skuif nog eenmaal op daai bank rond en oom Koos dra jóú aan jou broek se belt by die kerkdeur uit.”
Vrees is ‘n wonderlike instrument. Vir die res van die kerkdiens het ek gevries gesit.
Op ‘n dag besluit my vrou om my ware natuur aan ons voorskoolse kinders te ontboesem. Nadat almal in die sitkamer byeen was, het sy sorgsaam verduidelik: “Julle weet dat pappa soms snaakse goed doen, soos sy kop heeltyd heen en weer draai. En julle onthou daardie diertjies wat ons anderdag gesien het wat hulle lyfies so lank kan rek. Dit was meerkatjies en julle pappa is een van hulle.”
“Ons wéét Mamma,” het my oudste dogtertjie doodluiters geantwoord asof dit ou nuus was en die kinders het sonder verdere kommentaar verder gaan speel.
Twee dekades later kan ek verklaar dat ons broeisel oor die jare heen hulleself in my geite, giere en grille berus het, alhoewel hulle agteraf stilletjies fluister dat hulle tog hoop dat my Meerkat-DNA nie in enige kleinkinders opduik nie.
Die Einde
En daarmee het ons sandglas ongelukkig uitgeloop. Dit was heerlik om saam te kuier.
Groete totdat ons weer in die solderkamer gesels.