Omtrent Myself

Christo Jordaan

INSIG IS NET ‘N VARS

GEDAGTE WEG

Kleurskets gesig Christo Jordaan

Welkom in my solderkamer.

Vir sover as wat my geheue in die verlede kan raap, het ek mense se fieterjasies nog altyd interessant gevind.

So het ek van kleinsaf met ‘n ongebreidelde drang die omies en tannies in die kerk beloer met gevolglike brandboude omdat die krakende houtbanke my nuuskierigheid verklap het. So het my vrou ook kort na ons huwelik die regstreekse verband tussen myself en ‘n meerkat raakgesien.

Twee vrae het deurlopend my lewensreis oorheers: “Hoe werk dinge?” en “Waarom werk dit so?” Volgens gerugte het ek voorskool reeds my oudste broer se splinternuwe brandweerwa as kersgeskenk so omvangryk uitmekaar gehaal dat niemand die stukke weer sinvol inmekaar kon pas nie.

Mense was net ‘n faset van dieselfde nuuskierigheid. Ek het hulle optrede bekyk en gewonder met watter rede hulle dinge doen. Heel bo aan die lys het ek oor myself gewonder.

So het ek in my twintigs ‘n hele jaar van my lewe uitgekoop in ‘n poging om te vas te stel wie ek waarlik is.

Sedertdien het baie jare en water in die see geloop. Nou bevind ek myself in die post vyftig-garde met die voorreg om terugskouend te loer. Toegegee geskied dit met ‘n dikvellige verkyker want wie ek is, het ek geword vanweë die aard van my reis tot hede. Ek het op hierdie stadium van my lewe nie meer nodig om my unieke waardes en geestelike siening aan enigiemand te probeer verduidelik of verskonend daaroor te wees nie.

Wanneer ek onomwonde verklaar dat Christus Jesus my daaglikse asemhaling is, kom die stelling nie uit ‘n stuk teologiese verpakking nie. Dit ís my werklikheid gebore uit dekades se onbevange soeke na dieper waarheid.

Nietemin glo ek dat ‘n soeker nooit in sy eie denke mag verstok nie. Daar is altyd nuwe dinge om te ontdek en nuwe insigte om te verwerf.

So dink ek meermale anders oor dinge na as ‘n week, maand of jaar tevore en skroom nie om te erken wanneer ek in onkunde die bal skrams geskop het nie. Dit is vir my veel belangriker om deurlopend eerlik teenoor myself en andere te wees op die plek waar ek myself op ‘n gegewe tydstip bevind.

Daarom dra die protea wat ek op die gesigskets tussen my tande vasbyt sterk simboliese waarde. Om saad vry te stel, het ‘n protea vuur nodig. Sonder ontwrigting van jou bestaande situasie sal nuwe lewe en vars groei beswaarlik moontlik wees. Die webjoernaal se naam Vuursout vertel iets van hierdie proses. Vuur bring verandering mee waarvan sout die varsheid daarvan bewaar sodat die nuutontdekte smaak mettertyd vrygestel kan word.

Jy mag wonder wat ek vir ‘n beroep doen. Dit help immers met die boksie wat ons rondom mense trek om hulle êrens tasbaar in ons gedagtes vas te pen.

Maar boksies sê dikwels meer van die geskenkpapier as van die geskenk self.

Soms sal ek dinge doen, en het ek al dinge gedoen, wat mense glad nie in hulle geykte siening omtrent myself verwag nie. Hier bedoel ek nie optrede van karakter nie.

Ontdek eerder meer omtrent myself soos ons saam in hierdie webjoernaal reis. Dalk vind jy uit waarom my kinders frons wanneer ek kliphard vir Mr Bean en Garfield lag.

Ontvang nuutste plasings

Welcome Back!

Teken aan in jou rekening hieronder

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Add New Playlist