Anderdag stap ek flink deur die strate van ons middedorp toe ek agter ‘n ouer paartjie op ‘n sypaadjie vashaak. Sonder keuse word ek deel van hulle leefwêreld soos my sole rokerig agter hulle rem trap.
“Pieta,” sê die tannie met die yl grys haartjies, “wil jy ‘n kaas en konfyt skon by die Koekblik Kombuis eet?”
Ek merk dat die naambord van die restaurantjie slegs enkele treë vorentoe wink.
“Nee Moeksie, ek het nie een saamgebring nie,” antwoord die oom geïrriteerd. “Ek het jou dan gesê dit gaan nie vandag reën nie.”
Die tannie skud haar kop driftig en haal diep asem. “Jy hoor by die dag al vrotter.”
“Maar wat wil jy met ‘n sambreel maak as jy kan sien daar is nie ‘n wolkie in die lug nie?” wil die oom verbaas weet terwyl ‘n bewerige vinger lugwaarts wys.
Die tannie vererg haar dat werwels klap soos sy haar rug reguit trek. Die oom is ‘n kop langer as syself, maar sy gryp hom aan ‘n oorlel en trek hom op haar skouerhoogte af. Met die vry pinkie van die ander hand werk sy die oom se gehoorstuk dat sy kop soos ‘n boei op die see dobber.
“Wil jy ‘n skon hê?” skree sy met ‘n stewige greep op sy oor.
“Ag, dit sal nou lekker wees,” sê die oom. “Jy kon al vroeër gepraat het. Amper loop ons verby die Koekblik Kombuis.”
Synde self aan die verkeerde kant van vyftig het ek die grootste empatie met die geite van ouer word, maar ek kon nie help om proesend skuins tussen die karre deur koers te kies nie.
Later dieselfde dag dink ek weer aan die omie en tannie en wonder of die Here nie soms lus voel om ons aan ons ore te gryp nie. Óf omdat ons Hom nie lekker hoor nie, óf omdat ons heeltemal verkeerd hoor.
Wil jy eerder na die video van die praatjie kyk?
Krisis
Kom ons wees eerlik. Wanneer alles hankiedorie gaan, pla dit ons nie regtig veel as ons nie van God hoor nie. Wanneer ‘n katastrofe egter opduik, ontwikkel ons meteens hierdie onblusbare versugting na Sy stem. Ek praat uit vele persoonlike ondervindings.
Ek en die Ontvanger het destyds ‘n jarelange relletjie gehad met myself wat uiteindelik aan die betaalkant van ‘n massiewe bedrag gestaan het. Wanneer jy die belastinggeld het, is daar die keuse om dikmond daarvan afstand te doen. Wanneer jy nié die geld het nie en ‘n amptenaar van die Ontvanger persoonlike genot daaruit put om jou onophoudelik met die ratwerk van die gereg te dreig, styg jou stresvlakke gou hemelwaarts.
Dis dan wanneer jy die broers vir ernstige gebed byeen roep om te verneem hoe die Here jou uit die mag van die wêreld gaan red. Ondanks hulle én my beste geestelike pogings het ek geen leidraad omtrent die verligting van my skuld jeens SARS ontvang nie. Die goddelike stilswye was angswekkend.
Maar die Here se reddingsplan het mettertyd uit Sy hand ontvou soos tyd aangestap het. Dit het my geleer dat stilte nie beteken dat niks agter die skerms gebeur nie.
Stilte anker die fondament van jou geloof om onwankelbare vertroue in die Here se plan te hê.
Wonderwerk
Soms kom antwoorde vinnig. Jare gelede ontvang ons die slegte nuus dat my broer se jongste dogter ernstige skedelbreuk opgedoen het. Op daardie tydstip was sy in ‘n ambulans na ‘n hospitaal in die stad oppad. Met breinbloeding en gepaardgaande swelling was die prognose dat sy waarskynlik sal sterf of onomkeerbare breinskade opdoen.
Ek pleit huilend agter ‘n toe toiletdeur by God vir uitkoms. Amper onmiddellik hoor ek duidelik die Here wat sê dat sy volkome sal herstel. ‘n Vrede wat alle verstand te bowe gaan, spoel oor my.
‘n Duisend kilometer verder in ‘n hospitaal vind ‘n wonderwerk plaas wat spesialiste verstom laat. Ons hoor later groepe reg oor die land het sonder ophou vir haar herstel gebid.
Loopbaan
Miskien soek jy by die Here na antwoorde waaroor jy reeds beskik. Op ‘n tydstip moes ek ‘n kritiese loopbaanbesluit neem. Ek onttrek vir ‘n oggend in die lowergroen hange van ons dorp se berge om die saak met die Here te bespreek. Met spoeg wat in ses verskillende rigtings spat verduidelik ek wat my situasie behels en waarom hemelse insig en wysheid nodig is.
Na drie ure het ek egter nog niks behalwe die voëltjie se gekwetter gehoor nie. Ek trek toe effe suur en vra die Here of Hy besef dat ek ‘n werksoggend afgevat het, die moeite gedoen het om Hom te raadpleeg en nou praat Hy nie met my nie.
Die Here moes genoeg van my knaende gesanik gehad het. Ek hoor Sy stem droogweg sê: “Gebruik jou verstand.” Ek het dadelik geweet wat om te doen en hét dit later geblyk wel die regte besluit te wees.
Verhouding
Dit het al meermale gebeur dat ‘n broer in die geloof my half skaam in ‘n hoekie intrek en wil weet hoe hoe hierdie “hoor”-ding nou eintlik werk, want hy het nog nooit die stem van die Here gehoor nie. Hy vertel hy maak maar asof Hy ook hoor, om nie soos ‘n gelowige idioot te lyk nie. Kan ek help?
Ons almal “hoor” God se stem in die Bybel en dit rig ons lewens.
Maar waarna ons eintlik smag, is daardie “hoor” wat uit ‘n intieme en persoonlike verhouding met Jesus Christus voortspruit.
Daar is derduisende artikels en boeke geskryf oor hoe ons God se stem kan hoor en het ek self by vele baat gevind. Maar dit bly metodes en formules indien ons nie bo alles eers na ‘n verhouding met Jesus Christus hunker nie.
Dit is slegs wanneer jy in ‘n verhouding met Hom wandel en dit koester, dat jy Sy stem leer ken en weet hoe dit klink. Anders sit jy heeltyd met die twyfel of dit nie net jou eie gedagtes en begeertes is wat die praatwerk doen nie.
Ek verstaan hierdie besorgdheid heeltemal. Bykans al my hoorwerk vind plaas deur woorde wat ek in my gedagtes hoor, gedagtes wat spontaan by my opborrel, indrukke en vaste wetes.
Die enigste waarborg wat ek, behalwe vir die riglyne in die bybel, teen selfmisleiding het, is dat ek by herhaling en deurlopend myself daaraan herinner om altyd my oë op Christus gevestig te hou. Prakties sien ek dit as die prentjie in Johannes 15:4-6 van die druiwestok en die loot met ék wat in Christus ingeënt is, en Christus se lewe wat in en deur my vloei om vrug te dra.
Ek weet maar al te goed dat ek nooit myself kan vertrou nie, maar die Here weet dat ek Hom absoluut en ten volle vertrou om my in my eie swakheid te bewaar. Daarom verknies ek myself nie juis veel of ek dalk verkeerd mag hoor nie.
Solank my hart suiwer, opreg en in liefde teenoor Hom gerig is, sal Hy in Sy genade selfs my foute ten goede laat meewerk.
Dit bied my ‘n veilige ruimte om vreesloos vorentoe te beweeg.
Die room-affêre
Wanneer jy verby die punt beweeg dat God net Sondae in ‘n kerkdiens of tydens geestelike samekomste in jou lewe werk, moet jy Sy stem oral en in alle omstandighede verwag. Ek het al die mees insigryke geestelike dinge in bisarre oomblikke gehoor.
Hier in my prille twintigs woon ek ‘n kerkbyeenkoms van die volwasse jeug by wat met bakke vol skons en room afgesluit word. Dit blyk dat die room heelwat meer as die skons was en ‘n onbevange smeerdery van mekaar se gesigte breek uit.
Na ‘n rukkie merk ek hierdie pragtige dame in die hoek op waarop niemand nog ‘n vinger gelê het nie. Ek het eers later verneem dat geeneen die waagmoed gehad het nie omdat sy geen nonsens van niemand gevat het nie.
In opregte pret merk ek haar speels op die wang as ‘n eenstreep-korporaal. Met twee donderblitse wat summier uit haar oë flits het ek instinktief geweet dat my goeie gesondheid op die spel was. Van daardie oomblik af ontvou alles in stadige spoed.
Binne sekondes was ‘n groot plastiese lepel vol room in haar hand.
Ek sien hoe die kop van die lepel onder die gewig van die room terugtwêr soos sy haar heupe kragtig agter ‘n slingerskoot inswaai.
Toe vlieg ek as ‘n eertydse hoogspringatleet ter wille van oorlewing hemelwaarts in wat as ‘n klassieke uitvoering van die Fosbury flop beskou kan word. Die bol room, met reeds ‘n vyftien sentimeter deursnee, het onder die kruis van my rug deurgevlieg en die houtdeur in wit dons geklee.
Op die hoogste punt van my sprong hoor ek duidelik die Here se stem: “Dit is die vrou wat ek vir jou uitgesoek het.” Die geweldadige afskop buite rekening gelaat, is sy reeds dekades lank aan my sy, die moeder van my kinders en die wonderlikste maat wat die Here vir my kon uitgesoek het.
Die seun met die flentershemp
Laastens ‘n praktiese opmerking.
Vertroue om die Here se stem reg te hoor neem toe soos jy daaraan gehoorsaam is.
Vroeg in my loopbaan werk ek een aand laat. Geld is min, dit reën en ek is doodmoeg en honger. Wanneer ek uit my kantoor stap, is daar twintig rand in my sak om iets te ete oppad huis toe te koop.
‘n Entjie van my voertuig op die parkeerruimte staan ‘n jong seun bibberend in net ‘n kortbroek en flentershemp. Hy sê niks. Staan net daar en kyk na my. Ek hoor dat ek vir hom kos moet koop. Maar eintlik wil ek net in my kar klim en huis toe ry.
Tog stap ek na hom. “Is jy honger?” vra ek.
Hy knik.
“Stap saam,” sê ek en ons loop na ‘n kiosk om die hoek. Die vrou wil hom dadelik verjaag, maar ek keer haar. Vir twintig rand kon ek daardie tyd ‘n stewige hamburger met ‘n bakkie vol skyfies koop. Ek wag dat sy dit vir hom gee en keer terug na my voertuig.
In die parkeerruimte word ek deur ‘n onsigbare hand tot stilstand gepluk. Kragtige golwe spoel herhaaldelik oor my. Wanneer dit ophou, het al die moegheid uit my liggaam verdwyn en ek is nie meer honger nie.
Jesus sê in Johannes 6:48 dat Hy die brood van die lewe is. Met Sy woorde voed Hy al die hongerte wat jy ooit in jou lewe mag hê. En wanneer jy daardie brood uitdeel soos en wanneer jy dit van Christus ontvang, gee dit ook kosbare lewe aan die mense rondom jou.
Met daardie gedagte is ons geselsie by die waterbak vandag op ‘n einde.
Seënwense en groete uit die solderkamer.


