Vuursout
  • Tuis
  • Nuutste
  • Gedagtes
    • Waterbak
    • Soutbak
    • Vuurbak
  • Meerkat
    • Stories
  • Vulpenfles
    • Skryftegnieke
    • Boeke
  • Allerlei
    • Omtrent Myself
    • Saamgesels
    • Kontak
Geen Resultaat
Sien alle resultate
Vuursout
  • Tuis
  • Nuutste
  • Gedagtes
    • Waterbak
    • Soutbak
    • Vuurbak
  • Meerkat
    • Stories
  • Vulpenfles
    • Skryftegnieke
    • Boeke
  • Allerlei
    • Omtrent Myself
    • Saamgesels
    • Kontak
Geen Resultaat
Sien alle resultate
Vuursout
Geen Resultaat
Sien alle resultate
Tuis Vuurbak

Leef nou reeds ewig

VUURBAK

deur Christo Jordaan
19 Mei 2024
Vader en seun in duine

Soms vergeet ons om voluit in die oomblik te leef omdat ons harte uitverkoop is om op heuwels te dans wat eers aan die einde van ons lewensreis lê.

Oë op eindstreep

Ons aandag kan só op die eindstreep gefokus wees dat ons die kosbare belewings op pad daarheen misloop. Ongelukkig is dit die manier waarop ek voertuig bestuur. Ek kan ‘n reis-skedule op my GPS uitwerk dat ons gesin ‘n duisend kilometer verder binne minute van die vooraf bestemde tyd arriveer.

Maar dit kom teen ‘n prys. Vroulief kan net verdwaas na al die verruklike padstalletjies staar wat teen 120 kilometer per uur verby flits. Behalwe daardie een keer toe ons ‘n vier ure rit in ‘n sewe ure ontdekkingstog omskep het. Nie dat ek enige krediet daarvoor durf mag neem nie.

So reis ons in gelid saam met ‘n ander voertuig waarvan die bestuurder dit sy missie ag om elke gebeurlikheid langs die pad avontuurlik in te asem.

Die trauma van een van sy afdraaie spook steeds by my.

Ons verlaat die hoofpad om na die “oulike “hasies” in ‘n kamp by ‘n vulstasie te kyk. ‘n Driekwart-uur later beloer ons steeds die hasies terwyl die sekondes op my horlosie soos ‘n tydbom tik.

Vra egter my kinders meer as ‘n dekade later watter gesinsrit onthou hulle steeds en hulle sal jou van die snoesige spikkelkol-hasies vertel.

Verhoudings

Soos ek ouer word, besef ek al hoe meer dat verhoudings en daardie oomblikke wat ons saam beleef, al werklike dinge van waarde is wat aan die einde van ons tydsreis oorbly. Doelwitte verdwyn soos dit bereik word. Geld en besittings kom en gaan, en vervul opsigself niks blywend nie.

Jare lank het ek aan kompeterende sport deelgeneem.

Maar prestasie vervaag en uiteindelik bly net ‘n krat met sertifikate, medaljes en bekers onder ‘n stoflaag oor.

Wat ek egter soos gister steeds helder by my vasgebrand lê, is die vele vele oomblikke van pyn, bloedsweet en toewyding wat ek saam met mede-atlete ervaar het, en hulle wat later soos eie familie geword het.

Ewige lewe

As gelowiges kan ons maklik net die eindstreep raaksien en vergeet dat elke oomblik van ons lewe ‘n kosbare gawe is waarin ons voluit moet leef. So het die woorde ewige lewe iets aangenaams daar doer ver in die hiernamaals geword waarna ons uitsien wanneer ons uiteindelik die laaste asem op aarde uitblaas.

Jesus se verduideliking van wat die ewige lewe is, hou egter ‘n heerlike verrassing in.

Kort voordat Hy na die tuin van Getsemane sou vertrek om die laaste ure voor sy kruisdood deur te bring, tree Hy in Joh 17:2 met Sy hemelse Vader in ‘n ernstige gesprek waarin Hy ‘n aangrypende versoek op die tafel plaas.

Hy vra dat die Vader Hom sal verheerlik sodat Hy die Vader kan verheerlik ten einde ‘n kosbare geskenk weg te gee aan elkeen wat die Vader Hom gegee het. Hierdie kosbare geskenk sê Jesus is die ewige lewe.

Verduideliking

Jesus verklaar onmiddellik daarna in Joh 17:3 wát die ewige lewe is. En dit is hier waar ‘n ongelooflike ontdekking lê wat ons geloofspad op ‘n ander wentelbaan kan plaas, indien ons dit verstaan.

Jesus sê in Joh 17:3

En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus.

Jesus kon gesê het dat die ewige lewe ‘n plek is wat aan die einde van ons lewens vir ons wag wanneer ons op aarde getrou in die geloof vasgebyt het.

Wil jy eerder na die video kyk?

Griekse betekenis

Maar dit is nie wat Hy sê nie. Hy verklaar dat die ewige lewe ‘n verhouding is. Dit blyk des te meer wanneer ons effens dieper in die Grieks krap.

Kom ons kyk eerste na die woord ewige of Aiṓnios. Die Griekse vertaling omskryf die begrip soos volg:

Aiṓnios life operates simultaneously outside of time, inside of time, and beyond time. It does not focus on the future per se, but rather on the quality of the age it relates to. Thus believers live in “eternal life” right now, experiencing this quality of God’s life now as a present possession.

Die woord “lewe” in ewige lewe is die Griekse woord zóé wat soos volg omskryf word:

It is life that always and only comes from and is sustained by God’s self-existent life.

Die “ken” wat ons verhouding met die Vader en Seun omskryf, is die Griekse woord ginṓskō wat beteken:

To know, especially through personal experience.

Met ander woorde om iemand persoonlik te ken teenoor om net van iemand te weet.

Intiem

‘n Intieme verhouding met Jesus Christus begin alreeds wanneer Hy die Koning van ons lewe word soos Jesus in Johannes 15:4-5 verduidelik:

Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot nie uit sy eie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook as julle nie in My bly nie. Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug.

In daardie verhouding word Christus se lewe in jou die enigste bron. En in daardie verhouding leef Hy Sy hemelse lewe in en deur jou uit.

Leef nou in verhouding

Dit was altyd vir my ‘n misterie hoe Paulus soveel erge ontberings kon beleef en in die haglikste omstandighede as gevangene aangehou word, maar God steeds kon loof en prysgesange sing.

Ek dink die antwoord lê in Jesus se beskrywing van die ewige lewe as ‘n verhouding. Die vreugde en volheid van jou lewe word nie in jou omstandighede gevind nie, maar in jou verhouding met Jesus Christus.

Wanneer ons die ewige lewe slegs sien as iets wat in die toekoms sal gebeur, loop ons die gevaar dat ons min begeerte het om ons verhouding met Christus vandag nog te koester.

Maar wanneer ons besef dat die ewige lewe alreeds hierdie oomblik binne ons verhouding met Christus ‘n werklikheid is, sal ons sonder versuim en met elke greintjie krag in onsself na Christus se arms wil hardloop.

Vervulling

Iemand sê onlangs dat ons as gelowiges ‘n groter begeerte het om met mekaar fellowship te hê as met Christus. Ons verhouding met mekaar as ‘n liggaam is uiters belangrik, maar indien ons eerlik wil wees, steek daar tog waarheid in hierdie stelling. En ek wonder of dit nie die rede is waarom ons as gelowiges dikwels ‘n beperkte vervulling ervaar nie.

As te ware is dit amper makliker om die ewige lewe eers in die verre toekoms te sien. So ‘n siening bevry ons van die vretende vraag en verantwoordelikheid of daar nie ‘n groter geestelike belewing in hierdie oomblik vir ons in Christus lê en wag nie. Wat ons immers reken nie daar is nie, hoef ons nie te soek nie.

Toets

Miskien moet jy toets waar jy staan. Is jy een van diegene wat saam in geselskap oor die verskriklike uitdagende omstandighede kla, en dan almal bemoedig deur te verklaar dat hulle nog net ‘n rukkie langer hierdie dinge moet verduur want Christus se wederkoms met al die tekens is duidelik om die draai?

Indien wel, wonder dan oor hoeveel van die ewige lewe in Christus Jesus jy tans alreeds ervaar.

Die wynstok-lewe in Christus is ‘n lewe ongeag wat ookal.

Ek was bevoorreg om voorbeelde daarvan in my lewe te kon aanskou.

Lewende voorbeeld

My ouma was een van die blymoedigste mense wat ek ooit geken het. ‘n Vrou in wie die vrug van die Gees prakties geopereer het; ‘n vrou wat in ‘n diep verhouding met Christus Jesus gestaan het. Eers jare na haar afsterwe het ek van al die steil berge en heuwels te wete gekom wat sy oor dekades heen moes uitklim.

Aan die einde van haar lewe word sy met water op die longe gehospitaliseer. Die dokters laat weet dat sy by die poorte van die dood staan. Vier geslagte is by haar bed verteenwoordig. Dit is ‘n spesiale oomblik van afskeid. Iemand stel voor dat ‘n foto geneem word.

Ouma dring aan dat haar hare gekam word en sy regop sit. In die middel van die kiekie is sy die een met die glimlag. ‘n Uur later sterf sy.

En daarmee is ons geselsie op ‘n einde.

Groete totdat ons mekaar weer in die solderkamer ontmoet.

Ontvang nuutste plasings

Etikette: geestelikvuurbak
DeelTweetPin
Vorige Artikel

Meerkat bely sy geite, giere en grille

Volgende Artikel

In nagedagtenis van die skryfster, Marie Reyneke

Volgende Artikel

In nagedagtenis van die skryfster, Marie Reyneke

Skryf 1 - Inleiding

Vuursout

© 2024 C Jordaan - Kragkos vir siel en gees

Inligting

  • Omtrent Myself
  • Voorwaardes
  • Privaatbeleid
  • Kontak

Sosiale Media

Welcome Back!

Teken aan in jou rekening hieronder

Forgotten Password?

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Teken aan

Add New Playlist

Geen Resultaat
Sien alle resultate
  • Tuis
  • Nuutste
  • Gedagtes
    • Waterbak
    • Soutbak
    • Vuurbak
  • Meerkat
    • Stories
  • Vulpenfles
    • Skryftegnieke
    • Boeke
  • Allerlei
    • Omtrent Myself
    • Saamgesels
    • Kontak

© 2024 C Jordaan - Kragkos vir siel en gees