Na dekades van saamroei op ons huweliksbootjie gesels ek en Linda oor ons reis en die kosbare ontdekkings in mekaar.
CHRISTO:
Liefste Linda
Tyd verloop in ‘n oogwink.
Kansel
Een en dertig jaar gelede het ek senuweeagtig met droë lippe en groot afwagting voor die kansel gestaan en gewag dat jy as bruid in die paadjie afstap sodat ons ‘n lewe saam kan begin.
Reeds op daardie tydstip was dit duidelik dat die Here ons vir heelwat opwinding voorberei deurdat ek in my musikale onkunde verkeerde troulied opgegee het.
En jy gevolglik die kerk op ‘n dawerende en dramatiese lied binnegestap het wat nie een van ons twee al ooit gehoor het nie.
Na die huweliksermonie het jy my daarop gewys dat ek nie tydens die aflegging van die troubeloftes vir jou gekyk het nie, maar opwaarts.
Ek het besef dat dit waar was. Want my beloftes was veel meer omvattend as om net trou aan jou alleen te belowe.
Gebore in die hemel
Ons paadjie se ontstaan was immers nie uit onsself nie, maar was in die teenwoordigheid en uit die beskikking van God gebore. Hyself het jou as ‘n kosbare geskenk vir my uitgesoek.
Ek het die Here lank vir iemand besonders gesmeek vir wie my menslike plafonne nie sou saakmaak nie.
Want met drie broers en ‘n Kalahari-agtergrond was ek so “awkward” onbeholpe met meisies dat my vriende op universiteit selfs weddenskappe aangegaan het dat ek nooit sou trou nie.
So het die Here jou oneindige geduld gegee om vir ‘n jaar lank vas te byt tussen die oomblik wat ek alreeds dolverlief op jou was en die eerste keer toe ek in die botaniese tuine in Port Elizabeth die moed gehad het om aan jou hand te vat.
Romanse
Ons eerste soen het heelwat later gekom, maar daardie maanligaand op die kaai by Victoriabaai is vir ewig in my gedagtes as een van my mooiste herinneringe vasgevang.
En daardie herinnering is deur die jare deur vele ander aangevul en word daagliks uitgebrei wanneer ek na jou kyk en my hart steeds hoepie-tie-hoep gaan.
Want jy bly vir my pragtig.
En vir die rekord. Die Here het gesê dat ek vanaand net vir jou hoef te kyk, want Hy ken reeds die bedoeling van my hart.
My anderhelfte
Ek loer terug en sien my vele tekortkominge oor jare heen, maar terselfdertyd ook hoe die Here geweet het dat jy my krake sou inkleur om van my ‘n voltooide mens te maak.
Ek kan slegs ten volle ék wees omdat jy deel van my is.
En wéét dat ek oor die jare opgemerk het hoe jy telkens onbaatsugtig jouself vir my en die kinders opoffer. Jou eiebelang het meermale ‘n agterstoel ingeneem om ‘n platform vir ons te skep.
Opoffer
Jy het my eindloos ondersteun om my drome te verwesenlik en sodoende vir my kosbare geleenthede te skep.
In 2008 en 2012 het jy sonder skroom jou swaarverdiende spaargeld onttrek sodat ek aan die kampioenskappe in die VSA en Brittanje kon deelneem.
My dankbaarheid ken geen perke nie.
So hoop ek ons kinders kyk eendag terug en besef hoe jy jouself steeds tekort doen sodat hulle kan en kon studeer om ‘n onbevange toekoms te hê.
Wil jy graag na die video van die geleentheid kyk?
Liefling en geesgenoot
Oor die jare heen was jou onbegrensde liefde my vaste fondament; was en bly jy oor al die tye heen my geesgenoot in die Here.
Ek het nog nooit vir ‘n enkele oomblik in jou integriteit getwyfel nie. Die wete dat ek jou volkome kan vertrou om my maat, vertroueling en mede-jukdraer te wees, gee my vlerke om die wêreld te verower.
Ek is te bang is om eers te dink hoe my bestaan sonder jou sou wees en die pragtige kinders wat jy vir ons in die lewe gebring het.
Jare kruip aan
Ons beide besef stadigaan dat ons ouer raak met ander tipe uitdagings wat op die horison lê. Dit is nie meer moontlik om jou vingers deur my vol kuif in sy uitgedunde bles toestand te stoot nie.
Maar ek hoop dat jy my ondanks my kreukels en voue steeds aantreklik sal vind omdat jy my hart ken.
Ek kan ook nie meer waarborg dat ek die krag het om jou in my arms by die trappe op te dra nie, maar miskien kan ons maar net saam op die stoep sit en hande vashou.
Uitdaging
Ek besef dat om beloftes teenoor mekaar te maak soos ons ouer word, eintlik moeilik is, want na ‘n leeftyd is ons maar al te bewus van ons eie gebrokenheid en feilbaarheid as gewone skepsels.
Daarom moet ek tog weer vir ‘n oomblik opwaarts kyk, want my krag en my vermoë om enigiets na te kom wat ek vandag belowe, lê alleen in die Here.
Meer nog, ek weet dat ek heeltemal van Hom afhanklik is en slegs uit Sy genade leef.
Ek het lank daaroor nagedink en tot die slotsom gekom dat dat ek net een belofte teenoor jou kan maak.
Maar in daardie belofte is ‘n omvangryke hoeveelheid ander beloftes vanself opgesluit. En daardie belofte se bron is God self.
Grootste van alle beloftes
Daarom belowe ek vanaand om jou in moeilike en goeie tye, wanneer ons in mekaar se arms lê en wanneer ons kwaad vir mekaar is en wanneer die lewe ‘n vrolike lied of ‘n droewige orrelspel is, jou lief te hê selfs wanneer ek in my brose menswees nie so voel nie.
En omdat my en ons enigste hoop in hierdie lewe in die Here lê, beloof ek ook om my oë op Christus Jesus gevestig te hou en Hom te vra om my te help om jou so lief te hê as wat Hy as bruidegom, Sy bruid liefhet.
LINDA:
My beminde.
Soos wat die jare verbystreep en ons nog ‘n broodkorsie in ons mandjievol broodbrokkies pak, besef ek weer eens hoe bevoorreg ons, en spesiaal ook ek, is om vir 31 jaar ‘n lewe saam te leef.
Passievol
Soos wat jy soms tereg opmerk, is jy ‘n persoon wat in vele nuanses en fasette jou lewe uitleef.
By die ernstige kant het ek vir seker 33 jaar gelede aanklank gevind en verlief geraak op die man wat met woorde kan toor, die man wat met integriteit sy dagtaak aanpak, die man wat doelwitte stel en dit passievol najaag.
Aantreklik
Dit het ook natuurlik gehelp dat jy vir my aantrekliker as net aantreklik was en dat jou spiere my maag laat rondomtaliedraai het. (‘Skuus, vir die Hooglied-moment)
Vandag, Christo, is jy steeds vir my my droomman: die man wat met sagte oë mense bekyk, ‘n traan kan pink en die mooi in ander mense raaksien.
Die man wat steeds sy drome passievol najaag en wat ‘n mens volkome jou hart en drome mee kan deel.
Kreatief
Die slim man met ‘n verstand wat verbysterend vol kreatiewe idees en planne is, die goedhartige man wie se hart selfs nog groter is as die slimste plan wat hy kan bedink. Die man wie se oë kan lag en huil, die man wat maklik kan lag en laat lag.
Leier
Op hierdie 31ste huweliksherdenking streef en beloof ek om steeds onvoorwaardelik aan jou sy te bly, jou drome te troetel asof dit my eie is. Ek beloof om jou as die Christelike leier in ons huis te eer en te weet dat jou leiding Christus-gebore is.
Versorg
Ek beloof om jou nie te gereeld met ‘n honger magie te laat gaan slaap nie; al is ek nie ‘n wafferse kok nie. Ek beloof om na jou om te sien, al sou die knieë moeisaam knak, die ouderdom ongenadig toeslaan en kinkels in ons lewenspad laat.
Onderskraag
Ek beloof om jou lief te hê met alles wat mooi in my hart inge-ets is. Ek beloof om my aardse pad voluit langs jou sy te stap, jou te onderskraag in elke oomblik van ons lewensavontuur saam.
Dankbaar
Hiermee wil ek nie net dankie sê vir 31 jaar saam nie, maar ook dankie vir dit wat jy aan ons kinders voorleef. Dankie dat jy ‘n Godgegewe man is, maar ook ‘n Godsman.
Weet dat ek ontsettend baie lief is vir jou en nie my lewe kan, of wil, indink sonder jou nie.
Hoe spesiaal om vannaand hierna te luister en saam met julle die Vader te dank vir die genade van ‘n spesiale band wat jul soveel jare saam kan beleef en in genade ontvang het uit die Vaderhand. Wat jul het is deesdae ‘n rariteit. Mag jul vir nog soveel jare vir mekaar gespaar word. ‘I salute you’
Van ‘n kennis uit jul vroeë jare saam.
Groete Nelia Victor.
Dankie, Nelia. Ons waardeer. Jy was inderdaad ‘n getuie van my en Linda se eerste ontmoeting in 1991 by die BKJA in George. Wie sou die prentjie 31 jaar later op daardie tydstip kon raai?