My eerste kiekies van ‘n bedrukte gees is reeds as ‘n klein seuntjie geneem. Noem dit die Sunday afternoon blues.
Na die Sondagmiddag-ete was dit verpligtend om vir twee ure lank in stilte te gaan rus. Ek moes deur die gleuf in die gordyne toekyk hoe die res van die buurt se seuns met hulle kiskarre teen die heuwel afjaag.
‘n Somber wolk sou oor my hart kom lê.
Ek het nie regtig geweet hoekom nie. Miskien was dit omdat ek vasgevang gevoel het. Omdat my lewe vir twee ure lank sonder betekenis moes stilstaan.
‘n Ander Lens
As volwassene sou ek telkens in soortgelyke situasies beland, maar die nadraai in my siel was veel erger. Want op agtjarige ouderdom het ‘n traumatiese ervaring my bril vir die res van my lewe ‘n ander lens gegee.
Op ‘n Sondagmiddag toe ek eintlik vir twee ure lank moes rus, het ek op ‘n bonatuurlike wyse ‘n sekere dood in ‘n sterk rivierstroom vrygespring. Toe ek sink, land my voete op die enigste uitstaande rotspunt in daardie deel van die rivier.
Waarom is my lewe teruggegee? het die tema van my bestaan geword.
My worsteling. My vraag om te beantwoord. My soektog na betekenis.
Tydens my skooljare moes prestasie my lewe waarde gee. Maar ek was heeltyd van ‘n veel dieper versugting bewus wat nie wou verdwyn nie.
Hierdie versugting word ‘n skaduwee wat my oral agtervolg. ‘n Bedruktheid wat ek vir almal wegsteek. In my tienerjare lees ek dat Winston Churchill sy mismoedigheid Swarthond gedoop het.
My skaduwee kry dieselfde naam.
Leegste leeg
Aan die einde van my derde jaar op universiteit word my soeke na betekenis op ‘n spits gedryf. Iemand vra my wie ek waarlik sonder my prestasies sou wees.
Binne daardie paar woorde van die vraag val my lewe uitmekaar.
Ek beleef die leegste leeg van my hele bestaan.
Drie weke lank kruip ek in my koshuiskamer weg. Maak asof ek nie daar is nie wanneer mense herhaaldelik aan die deur klop.
In genade skraap ek op ‘n manier dinge bymekaar en voltooi my studies die volgende jaar. Maar my lewe sou nooit weer dieselfde kon wees nie. Ek móés die betekenis vir my bestaan vasstel.
Die reis van ‘n duisend kilometer
Na universiteit en weermag groet ek die loopbaan wat uitgestipppel voor my lê. Met net twee tasse reis ek ‘n duisend kilometer per bus na ‘n dorp waar ek seker was dat niemand my sou ken nie en ek ongemerk kon wegraak.
My plan was om twaalf maande lank aan die samelewing te onttrek ten einde onbevange antwoorde op my vrae te soek.
Die werklikheid van die lewe het egter veel gouer my voorstoep besoek as wat ek beplan het.
My opgepotte geldjie het briekloos in ‘n bodemlose put van uitgawes verdwyn.
Dit het al my planne erg deurmekaar gekrap. Ek moes dringend ‘n inkomste verdien. Sestig werksaansoeke later was ek steeds ewe onsuksesvol. Ek het my selfvertroue en hoop verloor. In plaas daarvan om diepsinnig lewensvrae te beantwoord, was ek in ‘n stryd om oorlewing gewikkel.
Dit het ook nie juis gehelp dat ek te trots was om hulp te vra nie. Om te erken dat ek in dieper moeilikheid was as wat ek kon hanteer nie.
Die swarthond wil byt en verskeur
My swarthond was nou ‘n tierende wolf wat my wou verskeur. Ek het na donker dieptes gespiraal wat ek nog nooit voorheen besoek het nie.
Met die laaste paar muntstukke in my beursie koop ek ‘n groot pak rys by Shoprite. Elke dag kook ek ‘n porsie op.
So word ‘n bakkie rys die hoogtepunt van my dag.
Ek ontdek ‘n botteltjie Holbrooks Worcestershire-sous agter in ‘n kas van die woonstelletjie wat ek huur. Die rys verkry meteens ‘n hemelse smaak.
Dae later sou alles in ‘n oomblik inplof. Met my rys reeds opgekook, gryp ek oorywerig na die Worcestershire sous. Die botteltjie gly uit my hand en breek in duisend glassplinters op die vloer.
Net daar breek ek ook flenters.
Ek het nie krag oorgehad om langer te veg nie. Arms uitgestrek het ek op my maag gaan lê met my wang teen die koue vloerteëls.
Ek wil doodgaan, het ek gedink. In daardie posisie het ek aan die slaap geraak. Salig onbewus dat my storie op daardie oomblik aan ‘n lewensmoment van ‘n groot Godsman geraak het.
Kom ons lees 1 Konings 19:4-5:
1 Konings 19:4 Hy self (Elia) het egter die woestyn in gegaan, ‘n dagreis ver. Daar aangekom, het hy onder ‘n witbesembos gaan sit en gevra dat sy lewe tot ‘n einde moet kom. Hy het gesê: “Dit is nou genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is nie beter as my voorouers nie.” 5 Hy het gaan lê en aan die slaap geraak onder die enkele witbesembos. Skielik was daar ‘n engel wat hom aanraak en vir hom sê: “Staan op, eet!”
Die klop aan die deur
Ure later word ek wakker en gaan sit by die tafeltjie in die woonstel. Teen middernag hoor ek ‘n duidelik stem in my gedagtes:
Môre-oggend 11h00 sal daar ‘n klop aan die woonsteldeur wees en ‘n man sal vir jou werk gee.
Die volgende oggend tik die sekondes pynlik stadig verby terwyl ek die wyser op my armhorlosie dophou. Presies 11h00 is daar ‘n klop aan die deur. Ek maak oop.
Die man vra of ek ‘n kraaghemp en das het. Ek knik. “Trek aan,” sê hy, “en kom saam met my.”
Ek het werk gekry. Ek kan opstaan en eet.
Wil jy eerder na die video van die boodskap kyk?
Depressie is kompleks
Depressie is eintlik geweldig kompleks, besef ek toe ek oor die onderwerp nalees. Dit ontstaan op velerlei wyses en is dikwels die gevolg van verskeie gebeure in ons lewe wat op ‘n gegewe oomblik saamloop. Vlakke van depressie kan ook wyd wissel.
Talle Afrikaanse woorde omskryf die emosie van depressie: swaarmoedig, neerslagtig terneergedruk, moedeloos. Vir sommiges is hierdie emosies die beginpunt van ‘n afwaartse spiraal na kliniese of major depressie; ‘n toestand van psigotiese swartgalligheid.
Jou ondernemingsgees verdwyn; jou lewe word sinloos. Hoe jy dink, optree en die wêreld rondom jou sien, beland in ‘n swart put. Alles lyk hopeloos.
Een oggend het jy nie meer die krag om uit die bed op te staan nie asof iemand oornag die gordyne op jou verhoog toegetrek het.
Ek lees verder dat die wortels van depressie eintlik maar daardie goed is wat elke dag met elkeen van ons gebeur: verlies, verwerping, finansiële probleme, siektetoestande, oorgange na nuwe lewenstye, skuldgevoelens, die onvermoë om die betekenis van jou lewe raak te sien. So gaan die lys aan en aan.
Elia se donker put
Maar waarom het juis Elia in ‘n toestand van depressie verval, wonder ek. Tot die mate dat hy selfs gewens het om dood te gaan.
Ons handhaaf dikwels die wanpersepsie dat reuse godsmanne in die liga van Elia van toestande soos depressief gevrywaar is.
Hulle het immers ‘n direkte geestelike kanaal na God, dink ons.
Wat dit nog meer onverstaanbaar maak, is dat Elia kort tevore die grootste oomblikke in sy lewe beleef het. In 1 Konings 18 verteer God die hele klipaltaar voor die Baalprofete met vuur.
Logika sê Elia moes eintlik op wolke van vervoering geloop het en nie jammerlik onder ‘n besembos gelê het nie.
Elia vertel ons in 1 Konings 19:4 waarom hy neerslagtig was.
1 Konings 19:4 Hy het gesê: “Dit is nou genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is nie beter as my voorouers nie.”
Die redes
Vir ons gewone suigelinge vertel die vers nie regtig veel nie en was ek nuuskierig om te sien wat die bybelontleders daaroor te sê het.
Die hebreeuse woord vir “voorouers’ is eintlik “vaders” en dui dikwels op meer as net ‘n biologiese vader. Dit wys ook op die verantwoordelike rol wat ‘n persoon in groepe speel.
Ons weet dat Elia aan die spits van verskeie profetiese groepe gestaan het en ‘n vadersfiguur vir hulle was. Die meeste ontleders meen derhalwe dat “vaders” na die profete verwys wat hom voorafgegaan het asook dié wat hy as profetiese vaders opgelei het.
Gedagtig hieraan identifiseer die ontleders twee moontlike gronde vir sy depressie.
1. Skuldgevoelens
Die eerste is skuldgevoelens.
In aanloop tot 1 Konings 18 waar God die klipaltaar by Karmel met vuur verteer, het Isebel God se profete oraloor tot behoud van die Baäl-godsdiens uitgemoor. Elia verklaar dat hy alleen as profeet van die Here oorgebly het.
Vanweë die afgodery het God reën van die land weerhou. Iets drasties en buitengewoons sou moes gebeur om God se seën te ontvang en Sy almag te herstel.
Dit lei tot die aangrypende gebeure met die klipaltaar op Karmelberg, waarna Elia toesien dat Isebel se 450 Baälprofete doodgemaak word. Daarna teen alle verwagtinge in die erge droogte, laat God ‘n geweldige reënbui oor die land uitsak.
1 Konings 18:46 beskryf hoe die hand van die Here van Elia besit geneem het en hy so begeesterd was dat hy voor die strydwa van koning Agab tot in Jisreël vooruit gehardloop het.
Isebel egter was allermins met Elia beïndruk. Sy soek wraak.
In 1 Konings 19:1 lees ons die volgende:
1 Konings 19:1 Toe Agab vir Isebel alles vertel wat Elia gedoen het en hoe hy al die profete met die swaard doodgemaak het, 2 stuur Isebel ‘n boodskapper na Elia om vir hom te sê: “Mag die gode my swaar straf as ek nie môre teen hierdie tyd jou lewe maak soos die lewe van een van hulle nie.” 3 Hy het bang geword, gereed gemaak en uit vrees vir sy lewe padgegee. Toe hy in Berseba, wat aan Juda behoort, aankom, het hy sy dienaar daar agtergelaat.
Die ontleders meen Elia het skuldig gevoel omdat hy in vrees gevlug het terwyl die ander profete met hulle lewens vir hulle oortuiging geboet het. Ook miskien omdat hy God, wat pas twee verstommende wonderwerke in ry gedoen het, nie genoegsaam met sy lewe kon vertrou nie.
Hy het gevoel dat hy God gefaal het.
Persoonlik reken ek dat die vernietigende krag van skuldgevoelens heeltemal onderskat word. Hoofsaaklik omdat dit so subtiel en onder die radar lê.
Vrygemaak van skuld
In my vroeë dertigs het ek op dramatiese wyse van die houvas daarvan bewus geword.
My skoonsuster woon ‘n Christelike kamp by wat haar geestelik transformeer. Op die kantlyn is ek erg skepties.
In my menswees wonder ek hoe lank hierdie borrel van euforie gaan hou.
Na ses maande het haar vars geestelike standplaas nie slegs dieper wortels geskiet nie, maar so gegroei dat ek verwonderd gestaan het. Meteens het ek met alles binne myself na die ontwaking gesmag wat ek in haar gesien het.
Wat ek nie besef het nie, was dat ek ‘n intieme ontmoeting met Jesus Christus begeer het. Hy alleen kon doen wat ek in haar lewe aanskou het.
Ek reël ‘n afspraak met dieselfde geestelike leiers wat haar begelei het. Ek is so opgewonde dat ek sommer my kantoor vir die dag sluit.
Na ure saam is dit egter duidelik dat daar êrens ‘n reuse blokkasie in my lê. Ek het dit geweet en hulle het dit geweet.
Wat ek nie op daardie stadium lekker verstaan het nie, was dat ware intimiteit met die Koning van alle konings ‘n volkome oorgawe verg.
Daar is ‘n rede daarvoor. Hy het nie net vir ‘n paar goedjies in jou lewe aan die kruis gesterf nie, maar vir álles.
Jy kan Christus nie soos ‘n kredietkaart gebruik nie.
Tot op daardie stadium het die geestelike leiers my al deur ‘n hele proses van oorgawe geneem, maar ek was nie volkome eerlik met hulle nie. Sekere dinge was net te persoonlik om op die tafel te plaas. Ek het soos ‘n neut aan my trots en beeld as goeie Christen met ‘n ystergreep vasgeklou.
Op die kantlyn het ek met die Here onderhandel. Laat my toe om U vryheid te betree en ek belowe om met al my goggas die volgende dag te deel. Ek nooit gehoor dat die Here sê dis orraait met Hom nie, maar ons het mos die gewoonte om God aan eensydige ooreenkomste gebonde te hou.
Iedergeval sou so ‘n ooreenkoms nooit kon werk nie. Johannes 8:36 sê uitdruklik dat wanneer die Seun ons vrymaak, ons waarlik vry is. Nie net halfpad nie.
My geestelike mentors vra of daar enigiets is wat ek hulle nog nie vertel nie.
“Nee, hoegenaamd nie,” lieg ek gladweg, gedagtig daaraan dat ek mos ‘n side deal met die Here gemaak het.
Hulle wil weet of hulle kan gaan bid en die Here vra om te openbaar waar die geestelike versperring lê.
“Natuurlik,” sê ek, “julle het my volle toestemming.” My eensydige ooreenkoms met die Here sou my mos teen enige vorm van verleentheid beskerm, reken ek.
Veertig minute later is hulle terug. Hulle weet wat aangaan, verklaar hulle. Het hulle my toestemming om dit aan die lig te bring?
“Natuurlik,” sê ek weer, en herinner die Here aan ons eensydige ooreenkoms.
Hulle openbaar die goggas waarvan net ek en die Here geweet het.
Ek bars in trane uit. Dit word die bevrydenste oomblik van my lewe.
‘n Rivier vloei oor my wange. En daarmee saam word al my skuldgevoelens weggewas. Ek huil ‘n hele boks sneesdoekies klaar. Oorvloedig dankbaar dat die Here ons eensydige ooreenkoms geïgnoreer het.
Daarmee saam merk ek dat die swaarmoedige wolk wat voorheen oor my gehang het, verdwyn het. Ek sweef gewigloos in Sy liefde.
2. Betekenislose lewe
Die tweede grond wat bybelontleders vir Elia se toestand van depressie aanvoer, is die oorweldigende belewing dat sy lewe inderwaarheid sonder betekenis was.
Elia vra homself af wat hy nou eintlik meer as sy voorgangers bygedra en vermag het. Rondom hom het inderwaarheid niks verander nie. Isebel slaan steeds die kitaar. Daarby is hy ook nou ‘n vlugteling.
Ons hoor die moedeloosheid en gevoel van mislukking in Elia se woorde wanneer die Here hom ‘n tyd daarna by die berg Horeb ontmoet.
1 Konings 19:14 Hy (Elia) het geantwoord: “Ek het my volle ywer getoon vir die Here, die God van alle magte, want die Israeliete het u verbond verlaat, u altare het hulle afgebreek en u profete met die swaard om die lewe gebring. Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem.”
Dis verstommend hoe vinnig ons by ‘n plek kan beland waar ons dink dat ons lewe betekenisloos is. En dit maak nie saak of ons nog gister gedink het dat ons die mees waardevolle lewe op die aardbol lei nie.
Barometer met voorbehoude
Deur die jare het ek ‘n barometer vir die betekenis van my lewe daargestel in ‘n poging om my teen myself te probeer beskerm. Ek het die Here gevra om my te help verstaan hoe Hy my uniek geskape het. Solank ek uitdrukking hieraan kon gee op ‘n manier wat waarde aan ander mense se lewens toevoeg, het ek betekenis beleef.
Maar daar was drie voorbehoude wat my jare geneem het om regtig te verstaan.
a) Beweeg deur die lewe
Aanvanklik wou ek my rol in die lewe ontdek deur met ‘n duvet oor my kop daaroor na te dink. Maar jy kan slegs ontdek wie jy is, soos en wanneer jy deur die lewe beweeg en gebeure en omstandighede met jou gebeur.
b) Ontsnap van selfbejammering
Daar is ‘n tweede dierasie wat betekenis uit jou lewe kan suig. Wat maak dat jy nooit vorentoe kan kyk nie, maar gaan vashaak by die dryfsand om jou enkels.
Ek het met selfbejammering gesukkel. Dit het verdwyn die dag toe die Here ‘n vriend na my stuur om te verneem of dit vreeslik lekker is om ‘n slagoffer te wees.
Nie alleen het ek dit geniet nie, maar my in selfbejammering verlustig. Dit het nie veel insig geverg om te begryp dat ek nooit in die lig van Christus se oorwinning sou kon staan, terwyl ek doelbewus verkies om in die varkhokke rond te ploeter nie.
c) Reis na Horeb
Maar daar is ook ‘n derde insig wat ek as uiters waardevol beskou. Een wat ek slegs kon raaksien toe ek oor dekades van my eie lewe begin terugkyk.
Tussen die besembos en die berg Horeb waar ons die Here vir nuwe instruksies ontmoet, lê ‘n veertig dae tog. ‘n Louteringsproses wat jou moet stroop en voorberei vir die nuwe dinge wat voorlê. En hierdie proses gaan telkens in jou lewe herhaal.
Hierdie proses bestaan uit twee dele. Eerstens moet jy onder die besembos opstaan. Dit gaan waarskynlik vrek moeilik wees.
Jy gaan meer as een keer weer onder die bos wil gaan lê.
Vir die tweede deel sal jy vir veertig dae ‘n moeisame pad moet stap sonder dat jy reeds die berg Horeb sien. Dis ‘n reis van geloof en vertroue in die Here.
Dit is gelukkig ook ‘n pad van God se onuitputlike genade, want jy gaan nie lus voel of die energie hê om te glo of te vertrou nie.
‘n Stemmetjie gaan fluister dat dit baie lekkerder in die skaduwee van die besembos was.
Maar jy sal móét volhard, al struikel en val jy ookal ‘n honderd keer. Jou lewe hang letterlik daarvan af. Soms was dit slegs die onvoorwaardelike liefde en ondersteuning van my vrou en kinders, en my geestelike familie rondom my, wat my instaat gestel het om die volgende tree te gee. En die een daarna.
Kom ons kyk hoe dit by Elia gewerk het:
1 Konings 19:5 Skielik was daar ‘n engel wat hom aanraak en vir hom sê: “Staan op, eet!” 6 Toe hy rondkyk, is daar sowaar by sy kop ‘n roosterkoek op gloeiende kole gebak en ‘n fles met water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. 7 Maar die engel van die Here het ‘n tweede keer teruggekom, hom aangeraak en gesê: “Staan op, eet! Want die reis gaan vir jou te veeleisend wees.” 8 Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink.
Finaal op sy voete, was Elia gereed om die reis van veertig dae te onderneem sodat hy op berg Horeb nuwe instruksies kon ontvang.
1 Konings 19:8 Hy (Elia) het toe opgestaan, geëet en gedrink. Met die krag van daardie voedsel het hy veertig dae en veertig nagte geloop, tot by Horeb, die berg van God. 9 Daar het hy in ‘n grot ingegaan en daar oornag … 15 Toe sê die Here vir hom: “Gaan terug op jou pad deur die woestyn, na Damaskus. Wanneer jy daar aankom, moet jy Gasael as koning salf oor Aram. 16 Jehu, seun van Nimsi, moet jy salf as koning oor Israel, en Elisa, seun van Safat, uit Abel-Megola, moet jy salf as profeet in jou plek.
Insigte
Uit Elia se besembos-ervaring moet jy ‘n paar dinge raaksien. Jy is nie ‘n swakkeling of mislukking omdat ‘n wolk van swaarmoedigheid jou toevou nie. Jy het niks om oor skaam te voel nie.
Jou toestand van depressie is ook nie ‘n tronk waarvan die sleutel weggegooi is nie.
En hier is een wat jy teen jou bors kan vasdruk. Depressie is ‘n geleentheid om te groei en nuwe horisonne te ontdek wat jy nie eers geweet het bestaan nie.
My reis tussen die besembos en berg Horeb
Ek sluit af met ‘n besonder donker periode uit my eie lewe wat hierdie aspekte illustreer.
Jare gelede en na vele gedroom pak ons die bouproses van ‘n eie huis aan. Ek beplan elke faset maande lank met groot noukeurigheid.
Ons opgewondenheid ken geen perke nie. Ons gee vol vertroue ons huur op om drie maande later in ons eie huis te kan intrek.
In die greep van ‘n riller
Maar die riller wat volg sou selfs Alfred Hitchcock op sy beste nie kon skryf nie. Agt maande later is ons gesin steeds swerwers in die agterkamers van goedhartige mense. Ons huis is net driekwart klaar, die bouer het al ons geld opgebruik en ek is in die grootste krisis van my lewe.
My stresvlakke lê op epidermiese proporsies.
Ek staan op die rand van ‘n diep donker gat. Ek verwyt myself vir die haglike omstandighede waarin my gesin verkeer.
Na maande van ‘n nomadiese bestaan bied goeie vriende ons verblyf aan in ‘n woonstelletjie op ‘n plaas naby die berge.
Berg van vertroosting
Enkele kilometers weg is ‘n hoë heuwel. Dit word my berg van vertroosting. Laat smiddaes gaan sit en huil ek daar voor die Here totdat Hy my krag gee om op te staan om na my gesin terug te keer.
In ‘n boekrak vind ek ‘n storieboek omtrent ‘n skaapwagtertjie wat die hele wêreld deurkruis op soek na ‘n groot skat wat hom ryk sou maak.
Na jare se omswerwinge ontdek hy uiteindelik dat die skat heeltyd in sy eie hart was.
In ‘n wêreld wat swart rondom my geword het, pleit ek naarstigtelik by die Here om iets uniek in myself te openbaar wat met Sy lig en betekenis geskep is. Iets wat ek tot voordeel van ander kan gebruik want my bestaan het, behalwe vir my familie, waardeloos geword.
So plaas Hy ‘n begeerte in my hart om te skryf wat oor die komende jare my lewe oorvloediglik sou verryk. Sonder die genadelose mes van my swart pyn sou ek nooit die verborge gawe kon oopsny nie.
Einde in sig
Voor die plaashuis met ons woonstelletjie, was ‘n geweldige lang en steil bult. Op ‘n dag het die Gees van die Here in my hart gefluister dat my woestynreis van veertig dae verby sou wees op die tydstip wat ek die bult kon uithardloop sonder om een keer te stop.
Hoopvol het ek elke dag aangetree en my alles gegee, maar die krag in my bene was telkens te min.
Een middag toe ek van die berg van vertroosting terugkom en aan die voet van die steil bult kom, hoor ek die Vader se woorde in my hart:
Seun, dis tyd om jou reis te voltooi.
Soos ‘n ribbok het ek al vinniger en vinniger teen die bult uitgehardloop en bo huilend op my knieë geval.
Kort daarna is ek by ‘n geestesvriend in sy kantoor. “Hoe gaan dit met die bouwerk?” vra hy.
Ek vertel hom van my verknorsing.
“Hoeveel sal die oorblywende bouwerk kos om ‘n bewoningsertifikaat te verkry?” wil hy weet.
Ek noem ‘n groot bedrag.
Hy trek sy lessenaarlaai oop, haal sy tjekboek uit en skryf daarin. Nadat hy die blaadjie uitgeskeur het, stoot hy dit oor die tafel aan. Dis ‘n tjek aan my uitgemaak vir die bedrag wat ek genoem het.
Posisie in Christus
Tot vandag toe bly dit een van my kosbaarste oomblikke.
Dit herinner my daaraan om die Here onvoorwaardelik te vertrou. Dit gee my die vrede dat al stap ek deur ‘n dal van doodskaduwee, en al is my woestynreis hoe pynlik, Hy is uiteindelik die enigste beskikker van my deel en lot. Dat ek myself altyd in Sy plan en Sy tyd kan berus.
Miskien ervaar jy vandag ‘n swaarmoedige gees wat jou wil insluk. En dalk is jou enigste versugting dat die Here jou daarvan moet verlos.
Span jou vlerke
Maar net dálk is dit ‘n geleentheid wat jy nog nie raakgesien het nie. Net dálk is dit die fondament van ‘n nuwe huis wat in jou lewe gebou gaan word. En net dálk is dit die begin van die vars groei waarna jy nog altyd gesmag het.
En net dálk kan jy die engel aan jou sy sien wat sê Staan op, eet! Die Here wag reeds vir jou by die berg Horeb.
Amen.
Awesome
Soos reën na ‘n lang droogte. Waardeer.
‘n Inspirerende kykie na wat jou laat “tick”. (Met die grootste respek gesê.)
NS: Ek kan die swem-insident duidelik herroep. Dit was in Stilbaai naby die riviermonding. Jy was ‘n goeie atleet, maar vir alle praktiese doeleindes ‘n “non-swimmer”. Desondanks het jy kans gesien om met hondjie-swem die rivier oor te steek – wat met soontoe gaan gewerk het omdat daar in die middel van die rivier ‘n sandbank was waar jy kon rus. Maar die gety was aan’t inkom en met die terugkom slag was die sandbank onder water en kon jy nie daar rus nie. Kan nie onthou of jy dit reggekry het om op iets te staan nie, maar ons oorlede pa het gesien jy was in die moeilikheid, het ingeswem en jou uitgebring. Jy was daardie dag amper bokveld toe! (En ons Moeder het van angs amper ‘n toeval gekry – wat bygevolg ons vryheid van beweging vir die res van die vakansie erg ingekort het.)
Was uitgaande gety. Sterk stroom see toe. Twee gedeeltes. Een waar ek doodmoeg op die uitstaande rots gesink het met net my kop bo die water en niemand in die omgewing was nie. Twee, die “redding” heelwat later toe ek van die rots af kant toe wou swem en weer in soortgelyke moeilikheid beland het. In effek was ek twee keer ‘n sekere dood gespaar.
Dankie, Christo, ek voel bevoorreg om jou verhaal wat met soveel egtheid en eerlikheid geskryf is, te lees. Vermoed dit gaan vir baie wat met die Swart Hond stoei, waarde hê.
Dankie, waardeer jou reaksie.