Vuursout
  • Tuis
  • Nuutste
  • Gedagtes
    • Waterbak
    • Soutbak
    • Vuurbak
  • Meerkat
    • Stories
  • Vulpenfles
    • Skryftegnieke
    • Boeke
  • Allerlei
    • Omtrent Myself
    • Saamgesels
    • Kontak
Geen Resultaat
Sien alle resultate
Vuursout
  • Tuis
  • Nuutste
  • Gedagtes
    • Waterbak
    • Soutbak
    • Vuurbak
  • Meerkat
    • Stories
  • Vulpenfles
    • Skryftegnieke
    • Boeke
  • Allerlei
    • Omtrent Myself
    • Saamgesels
    • Kontak
Geen Resultaat
Sien alle resultate
Vuursout
Geen Resultaat
Sien alle resultate
Tuis Waterbak

‘n Anderste vrede in taai tye

WATERBAK

deur Christo Jordaan
19 Mei 2024

In die hartjie van die winter ry ek een oggend werk toe nog voordat die son sy neus oor die bergrante kon stoot.

Die strate is verlate.

Die man in ‘n rolstoel

Verby ‘n prokureursfirma in die middedorp, waar huise in kantore omskep is, sit ‘n man in ‘n rolstoel voor die praktyk se deur asof hy wag vir ‘n afspraak.

Ek ry stadiger. Die lamp bo die deur verlig hom soos ‘n standbeeld op ‘n stadsplein. Hy is dik aangetrek asof hy vir die koue van ‘n lang wag voorberei het.

Die rolstoel lyk oud en lamlendig. Hy kan dit nie te breed hê nie, besluit ek. In hierdie wêreld sal julle swaarkry ervaar, borrel die woorde spontaan deur my gedagtes. Ek kry hom innig jammer al ek hom ken nie.

Watter kwessie is so belangrik dat hy bereid is om die koue en donkerte daarvoor te trotseer?

Ek stoei met sy omstandighede. Hoe het hy in die rolstoel beland? Hoe het dit sy lewe beïnvloed?

Droom hy steeds oor ‘n toekoms met vooruitsigte of het sy bestaan in die doringdraad van daaglikse oorlewing vasgehaak?

Later word hy net ‘n ligspatsel in my truspieëltjie.

Lewe vol potskerwe

Ek peins oor die potskerwe in my eie lewe: vergange drome; lugkastele wat ingeplof het; ‘n kronkelpaadjie met te veel afdraaie; steil bulte, die tye van verdriet; geloof in ‘n goeie wêreld wat telkens vertrap is.

Máár, besluit ek, uiteindelik het alles ten goede meegewerk.

Die krisisse wat my telkens wou verswelg, het geleenthede geword. Die duisternis onder in die put, ‘n drukpot wat my vir gebeure in die komende tye voorberei het.

Maar swaarkry kan ons maklik breek, weet ek maar al te goed.

Wil jy eerder na ‘n video van die praatjie kyk?

Onder die hamer

Op 23-jarige ouderdom na afloop van my studies doen ek die verpligte diensplig van destyds in die Weermag.

Ek reken ek is darem ouer en geestelik sterker as die meeste troepe in my eenheid.

In ‘n onvoorsiene sameloop van omstandighede beland ek vir basiese opleiding te midde van ‘n groep jongmanne met geen belang in die grensoorlog nie, wat sterk gekant teen die siening van die destydse regering was en dawerend te kenne gee dat hulle aanmelding vir diensplig onder protes geskied.

Drie maande van volslae hel volg.

Hulle tart doelbewus die gesag uit en ons almal betaal die prys. Ek is onskuldig vasgevang in ‘n wegholkar wat oor ‘n afgrond rol.

Ons korporaal en luitenant se opdrag en doelwit is onverbloemd: Kraak die rebelle se eiesinnige wil sodat hulle weerstand verdwyn.

Liggaamlik tot breekpunt vir weke aaneen gedryf en met net drie ure slaap per nag, is ek op die punt om algeheel te knak. Met nog ‘n maand van my basiese opleiding oor het alle hoop weggesypel om heelhuids die wedloop te voltooi.

Die oorblywende dertig dae kon netsowel ‘n vonnis van lewenslange tronkstraf gewees het.

Nuwe moed

In daardie tyd daag ‘n jong weermag-kapelaan, beswaarlik ouer as ekself, by my bed op.

Hy wil weet hoe dit gaan. Ek probeer gehard voorkom, maar kan die trane nie keer nie. “Nie goed nie,” sê ek uiteindelik.

Hy gee waarlik om en besoek my gereeld met boodskappe van hoop. So kry die woorde van Jesus in Johannes 16:33 nuwe betekenis in my lewe:

Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin.

Ware krag

In die komende weke ontdek ek ‘n vars geestelike insig.

In vrede lê krag.

Storms klap ons dikwels rond sodat ons die kluts kwytraak en ankerloos ronddryf; uitgelewer aan elemente waaroor ons geen beheer het nie.

Maar die vrede in Christus anker ons. Eintlik bring hierdie vrede veel meer teweeg. Ons verrys bo die tronk van omstandighede.

Die vrede stel ons instaat om met ‘n verhewe geestelike perspektief na onsself te kyk. ‘n Ander posisie as ons brose self in te neem.

Dan kan ons ook soos Paulus triomfantelik ons ontberings verduur. En ons kan verstaan dat ons in hierdie wêreld is, maar nie van hierdie wêreld nie.

Opnuut getoets

Maar ons kan in die harwar van ons daaglikse bestaan maklik ons vrede in Christus verloor. Dan moet ons weer ons oë op Hom vestig.

Ek word aan die einde van my basiese opleiding op wonderbare wyse vir offisiersopleiding oorweeg.

Alhoewel die Gees van God vooraf in my hart fluister dat Hy my uitkoms bepaal en nie mense nie, kruip twyfel tog oor my gemoed.

Veral met ‘n aankondiging op die laaste oomblik dat die aanvanklike getal gekeurdes weens logistiese redes met die helfte verminder is.

Een naam na die ander word uitgelees en uiteindelik is daar nog net twee plekke oor.

Ek roep desperaat in my binneste uit: “Here, ag Here! Wees my genadig.”

My naam is volgende op die lys.

Die wynpers

Aan die einde van die offisierskursus moet ons die alombekende Vasbyt aandurf. Dis ‘n paar dae van stap met toerusting en take deur die berge heen.

Die uitsluitlike doel daarvan is om die kandidate tot die uiterste te beproef om hulle waardigheid vir die rang van offisier te bepaal.

My selfvertroue loop oor. Niks kan erger as my basiese opleiding wees nie, mymer ek.

Ek maak ‘n reuse fout.

Almal beveel met groot wysheid aan dat ons rugsakke so lig moontlik gepak moet word. Uit my sportdae weet ek dat my bene sterk is en kies gemak.

Ek sou die besluit in elke moontlike opsig berou.

Vasgedruk onder ‘n granietblok

Die bergreekse strek eindeloos voor ons en my rugsak word ‘n granietblok wat dreig om my drome as ‘n toekomstige offisier te vernietig.

Daarby byt ‘n bosluis my. Elke tree is pynlik. My kop wil ontplof. Alles waarvoor ek weke lank gewerk het, is op die spel.

Misluk ek, keer ek as ‘n gewone troep terug.

Verdermeer móét ek saam met my groepie beweeg en móét ons sekere stasiepunte teen sekere tye haal.

Met veertig kilometer oor, voel ek nie meer my bene nie. Ek struikel en val oor klippe omdat ek nie my voete behoorlik kan oplig nie.

Soeke na hoop

Die vrede in Christus wat ek in my basiese opleiding leer ken het, word my enigste hoop.

Ek bely my hoogmoed om die wysheid te verwerp waarmee God my voor die Vasbyt deur talle ander mense bedien het.

Ek verklaar dat my enigste hoop in die Here se genade lê.

Daarby lê ek eie belang af. Ek verklaar dat alhoewel ek bittergraag die Vasbyt wil voltooi, ek sou aanvaar indien dit vir welke rede ookal nie binne Sy raadsplan val nie .

Maar, indien wel binne Sy wil, sal ek in oorgawe en met elke greintjie van my wese gehoorsaam bly voortbeweeg, al moet ek kruip.

In Sy opstandingskrag

En net daar vou die vrede van Christus my weer toe. Ek sien myself van buite. Dis nie meer langer mý krag wat my staande hou en voortstu nie.

Hý het immers reeds die wêreld oorwin. Volkome in Sý krag bereik ek ten laaste die eindpunt.

Terwyl ek moeg teen ‘n boom neerval, besef ek dat ek niks het om in te roem nie, behalwe in Hóm.

Sy vrede gee ons krag.

En daarmee, die einde van ons geselsie by die Waterbak.

Groete uit die solderkamer.

Ontvang nuutste plasings

Etikette: geestelikvredewaterbak
DeelTweetPin
Vorige Artikel

Miriam Telanie, een uit ons

Volgende Artikel

Skryf 2 – ‘n Roman se ondergrondse struktuur

Volgende Artikel

Skryf 2 - 'n Roman se ondergrondse struktuur

Skryf 3 - 'n Roman se bogrondse struktuur (brokkelblad)

Kommentaar 1

  1. Anita Venter says:
    2 jare tevore

    Hallo Christo. Ek is vandag dankbaar dat ek jou weer in Bethlehem raakgeloop het.

    Jou stukkies gee my elke dag sommer ‘n lekker boost.

    In God se krag alleen sal ons in oorwinning lewe. Ek gee vandag met volle bors eer aan ons Hemelse Vader vir my porsie krag wat Hy so getrou elke dag soos manna uit die hemel in my skoot laat val.

    Ek weet nie hoe ek deur die lewe sou kom sonder Jesus in my lewe nie.

    Geseënde week vir jou en jou gesin.

    Anita

Vuursout

© 2024 C Jordaan - Kragkos vir siel en gees

Inligting

  • Omtrent Myself
  • Voorwaardes
  • Privaatbeleid
  • Kontak

Sosiale Media

Welcome Back!

Teken aan in jou rekening hieronder

Forgotten Password?

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Teken aan

Add New Playlist

Geen Resultaat
Sien alle resultate
  • Tuis
  • Nuutste
  • Gedagtes
    • Waterbak
    • Soutbak
    • Vuurbak
  • Meerkat
    • Stories
  • Vulpenfles
    • Skryftegnieke
    • Boeke
  • Allerlei
    • Omtrent Myself
    • Saamgesels
    • Kontak

© 2024 C Jordaan - Kragkos vir siel en gees