Die inploffing van administratiewe strukture in ons land dra aansienlik meer tot gesonde sosialisering by as wat klakouse sal erken.
Die man praat mos nou louter twak, dink jy.
Saak vir die twakprater
Gee my geleentheid om die gewigtige stelling te verduidelik. Wanneer laas moes jy vir drie ure in ‘n ry by ‘n staatsinstelling staan?
Volgens statistieke redelik onlangs. Wat gebeur spontaan na die eerste uur? Uit pure verveling begin jy met die mense rondom jou te gesels. So kruis paaie en lewens wat nooit andersins aanmekaar sou raak nie.
Vaal outjies en die Hell’s Angels
In die alledaagse gang van sake is ek daardie vaal outjie wat jy op straat in ‘n kraaghemp, langbroek en veterskoene sal sien. Ter wille van my gesondheid vermy ek gesprekke met bebaarde motorfiets-reuse in leerbaadjies met die Hell’s Angels se embleem en getatoëerde kopbene op hulle gespierde voorarms.
Uitgesonder egter toe so ‘n rowwe domkrag onlangs in ‘n ellelange ry voor my staan. “Ry jy motorfiets? vra ek versigtig die enigste vraag wat ek dink Rofman nie sal ontstel nie.
‘n Beertjie onder die leerbaadjie
Ek word uit my sokkies verbaas toe ons aan die gesels raak. Hy vertel met deernis hoe hulle beertjies en speelgoed by hospitaal- en weeskinders aflewer.
My hart verkrummel en ek moet waak om hom nie ‘n broederlike omhelsing te gee nie.
Rofman word my eerste en enigste biker-vriend. Met hom aan die woord hardloop my verbeelding wild. Kort voor lank vat ek saam met hom die draaie teen 160km/h op sy Harley-Davidson Sportster.
Spietkops, oliekolle en muggies
Ons ontwyk spietkops en kyk uit vir gladde kolle op die teer.
Ek leer dat diesel, en nie soseer olie, ‘n man in ‘n turksvybos langs die pad kan laat beland nie.
Ook dat jy die regte valhelm moet dra wat nie opwasem nie. Want maak jy op volspoed jou vizar vir sig oop, kan ‘n muggie maklik tussen die gleuwe van jou tande regdeur jou spysverteringstelsel vlieg sodat mugkind eers in jou onderklere briek.
Wil jy eerder na die geselsie op video kyk?
Die eenkant omie
In sulke lang rye bly die persone voor en agter jou nooit dieselfde nie. Sommige gee moed op, ander verloor hulle dokumentasie, hulle geld, kry sonsteek, moet afsprake nakom of kom agter hulle staan in die verkeerde ry.
So haal ek ‘n ouerige omie vyf plekke voor my in.
Hy klou krampagtig aan die dokumente in ‘n plastiese sakkie voor sy bors vas.
“Is oom alleen hier?” probeer ek ‘n gesprek van die grond af kry.
“Ja, ek het niemand meer nie,” bevestig hy stroef.
“Hoe dan nou so, oom?” wil ek weet.
“My dogter woon in Kanada,” antwoord hy, “jare gelede al voor die geweld in ons land uitgevlug.”
“En kleinkinders?” vra ek.
“Sy wou nie kinders in so ‘n goddelose wêreld inbring nie.”
Verdriet oor ‘n verlore seun
Dan staar hy lank en peinsend in die verskiet. “My seun is op agtien dood.” Sy pyn lê na dekades steeds vlak.
Ek weet nie eintlik wat om te sê nie en wil die gesprek in ‘n vroliker rigting stuur. .“Kuier oom se vriende darem by oom?”
“Nee, die hele spul is al dood. Ek bly eenkant in ‘n buitekamer.” Dan kruip ‘n glimlag oor sy gesig. “Ek en my storieboeke.”
‘n Paar vrae later kom ek agter dat fiksieverhale sy belewingswêreld geword het. Daar is hy ‘n held, jonk en daadkragtig, ervaar hy avonture; maak sy ouderdom en ‘n gebrek aan vriende nie saak nie.
Die Here se skuld
Ek merk dat sy gedagtes weer wegdryf. “My seun wou vir predikant leer,” sê hy uit die bloute. “Toe vat die Here hom in ‘n motorongeluk weg.” Hy kyk af grond toe. “Die kerk moet van my deur af wegbly.”
Ek sluk swaar en wil die oom teen my vasdruk totdat hy nie langer teen die liefde van die Here kan baklei nie, maar ‘n muur skei ons.
En so bly die oom onder die wanindruk dat hy Godsverlate is.
Die Hadida wat te veel wurms gevreet het
In so ‘n lang ry is dit nie slegs menseverhoudinge wat versterk word nie, maar dikwels ook ons waardering vir die natuur. Veral wanneer die toue kronkelend na boomryke areas rek.
Aanvanklik het ek die koelte van die eikeboom op die sypaadjie as ‘n onverdiende gawe beskou. My dankbare hart het egter terstond gestol toe ek ‘n klapgeluid by my voete hoor en die groot wit kol op my regterskoenpunt ontdek.
My oë het na ‘n nes hoog bo my in die boomtakke gedraai.
Die Hadida met die omgekrapte maag het steeds met ‘n verligte gelaat daar gesit.
Die uiteindelike opoffering van my Woolworths sakdoek word ‘n nietigheid toe ek besef dat die Hadida se loopmaag my kop rakelings gemis het en die probleem veel erger kon wees.
‘n Besoek van Charlie Weir
Ek vermoed nietemin onraad toe te veel omstanders glimlaggend na my kyk. Dit kan nie aan ‘n plotselinge bevlieging van vriendelikheid toegeskryf word nie, besef ek gou.
Danksy moderne selfoon-tegnologie beloer ek myself so onopsigtelik moontlik in die selfie-lens.

Die foonskerm toon my as ‘n ewebeeld van die bokslegende Charlie Weir met ‘n onmisbare wit blertsie in die middel van my uitgedunde kuif.
“Hoe kry ek hierdie voëlpoef uit my hare?” vra ek kliphard.
En op daardie oomblik word almal in die ry my laggende vriende soos hulle raad en sneesdoekies aanbied.
Dit sluit vandag se geselsie af.
‘n Hartlike groete van my, Meerkat asook Charlie Weir uit die solderkamer, totdat ons weer kuier.