Tydens ons universiteitsjare het ek en my ouer broer ‘n bruingebleikte Chevrolet Firenza met ‘n 2.5 liter enjin besit.
Haar krag was verbasend.
Soortgelyk aan die werksverrigting van ‘n pitboelterriër in ‘n Chihuahua-lyfie opgebottel.
Ons was innig lief vir die karretjie al was haar binne-afwerking oorwegend geel soos die swart instrumentpaneel en ander binne-afwerkings deur die jare tot spons afgedop het.
Daar was egter ‘n dag toe ‘n egskeiding byna op hande was.
Intervarsity
Hier in die tagtigs verteenwoordig ek en my broer Kovsies op die sportveld tydens die jaarlikse intervarsity met Pukke te Potchefstroom.
Hy is ‘n kranige gholfspeler en ek het pas kragoptel ontdek met elke testosteroon-hormoon wat op ‘n darteldans vuur. Ons neem reeds die Vrydag deel en kan die Donderdagaand beswaarlik van opwinding slaap.
My broer het tonne ervaring en beplan gretig om sy teenstanders hou vir hou af te slag. Dis my eerste kompetisie en ek wil windmakerig my merk as ‘n kragman maak.
Die skroefie
In rekordtyd ry ons vroeg die Donderdagoggend die roete tussen Bloemfontein en Potchefstroom. Oppad merk ons dat die karretjie elke nou en dan ‘n hartklop mis.
Ongelukkig was ons kennis van enjins tot die ingooi van petrol in ‘n grassnyer beperk en kon ons nie enige diagnose maak nie.
Maar met al die boerseuns in die omgewing het een gou vasgestel dat die vonkverdeler se skroefie losgekom en uitgeval het.
Die probleem het nie te gewigtig geklink nie. Wat kan die belang van ‘n verlore skroefie nou regtig wees? Ons was heeltemal gewillig om die Firenza met haar effense gestotter net so te ry.
Katastrofe op die gholfbaan
Gevolglik verskuif ons fokus ten volle na ons deelname. My broer speel reeds die middag, terwyl ek in die aand deelneem.
Sy teenstander is heelwat swakker as hyself, maar teen alle verwagting val sy spel op skouspelagtige wyse uitmekaar. Sy keel is later rou soos hy heeltyd four moet skree en speel hy sy vrotste rondte gholf in vyf jaar. Hy is verpletter.
Hoop in die modder
Gelukkig was ek darem nog daar om die familie se naam uit die modder te sleep en die glorie in die vertoonkas terug te plaas.
In kragoptel is daar drie dissiplines met drie pogings in elke dissipline. Die reëls bepaal dat jy in daaropvolgende pogings nie minder as jou openingsgewig mag aandurf nie.
Dit verg dus fyn strategiese beplanning. Sou jy in aldrie pogings van ‘n dissipline faal, is jou kompetisie dadelik iets van die verlede.
Testosteroon-ontploffing
Ek het ‘n realistiese benadering gevolg totdat ek die brunet met die amandelbruin-oë in die voorste ry opgemerk het.
Ter versagting meld ek graag dat my testosteroonvlakke op daardie tydstip van my jong lewe by verre my intelligensie-kwosiënt oorskry het.
Gevolglik het ‘n onblusbare drang ontstaan om haar te beïndruk.
My openingsgewig vir die hurksit het meteens hopeloos te lig gelyk en ek is skeidregterstafel toe om dit by die opgeblase grootte van my ego aan te pas.
Ek sou die toename in gewig waarskynlik nog kon hanteer, maar terug by die deelnemersarea glimlag sy vir my.
So daag ek terstond wéér by skeidregterstafel op met ‘n openingsgewig wat meer is as die maksimum wat ek al ooit in ‘n gimnasium kon hanteer.
Padda-kaskenades
Nodeloos om te sê was die uitkoms uiters voorspelbaar. Drie keer in ‘n ry word my boude met die hurksit teen die vloer vasgedruk.
Ek lyk soos ‘n padda wat in dryfsand vasgeval het.
Die veiligheid-spotters moet noodgedwonge my telkens te midde van ‘n les in nederigheid onder op die grond red.
Ek bom uit die kompetisie nog voordat dit behoorlik begin het. My eie teleurstelling word net deur die teleurstelling in die brunet se oë getroef.
Wil jy eerder na die video kyk?
Bedroef
Ek en my broer drink daardie aand, ondanks die gees van intervarsity, nie ‘n druppel nie.
Ons is te depressief om ons aan drank te vergryp.
Instede verwerf ons vars insig in die boek van Klaagliedere soos ons die dag se gebeure in oënskou neem.
Die Saterdagoggend elfuur besluit ons om nie vir die middag se rugby te wag nie en na Bloemfontein terug te keer.
Vonkloos
Of dit nou deur inkrimping of uitsetting was, sal ek weet nie, maar deur die nag verloor die Firenza haar laaste vonke om die enjin te vuur.
Anders as die vorige dag, is daar egter geen nugter boerseun op die kampus te vinde om ons te help nie.
In ‘n vlaag van druifgenot het hulle spoorloos verdwyn.
Die steil heuwel
Uitgelewer aan onsself, is dit uiteindelik my broer wat met ‘n vernuftige plan vorendag kom.
Nie ver van waar die karretjie staan nie, is ‘n vyftig meter lange heuwel teen ‘n 45º hoek. Ons stoot saam die kar aan sy voorste buffer gatkant eerste teen die heuwel op met die bestuurdersdeur oop.
Die plan behels dat wanneer die kar bo is, ek die kar in posisie hou terwyl my broer by die bestuurderskant inspring. Dan briek hy totdat ek ‘n stootposisie op die agterste buffer kan inneem.
Die plan het eintlik heel goed gewerk, behalwe dat die enjin elke keer gevrek het terwyl hy onder vir my gewag het en die kar moes luier.
Na die derde vrugtelose poging en papnat gesweet, herbedink ons die plan. Ons stoot die kar teen die heuwel op met albei die voorste deure oop.
Ons nuwe strategie behels dat ek die Firenza heuwel-af inhardloop.
Dit werk. Soos ‘n wafferse akrobaat duik ek in en daar gaat ons.
Navigator vir Sarel van der Merwe
Die feit dat die Firenza nie kon luier nie, het vele uitdagings teweeg gebring. Ons sou nêrens by ‘n stopstraat of robot kon stop nie, of die kar sou vrek.
Al genade was om op my boude by die passasiersvenster uit te hang en op sig te navigeer.
Gelukkig trek so ‘n vreemde handeling tydens intervarsity geen aandag nie.
Ek neem padtekens, kruisings, lane met verkeer, gapings en padvarke alles in een oogopslag waar en verwerk dit soos ‘n hedendaagse GPS in spoed en roete vir my broer.
Met trots kan ek verklaar dat ons Potchefstroom se verkeer deurkruis het sonder dat een rooi robot ons gevang het.
Die reëling tussen myself en my broer was eenvoudig. Ek sou voortgaan om vir die res van die pad navigator te speel en hy moes die Firenza lopende hou.
Flater in die water
In die lui middagsonnetjie en die kar wat hipnoties soos ‘n trekker dreun, mis ek die afdraai na Wesselsbron op die Bothaville-Allenridgepad.
Ons kom dit gou genoeg agter, maar hoe om vinnig genoeg ‘n u-draai op die smal teerpad te maak sonder dat die kar vrek, was ‘n tameletjie.
Teen ‘n lang heuwel besluit ons om bo-op te draai teneinde die aankomende verkeer te kan sien waarvan daar vlaktes-ver daardie middag niks was nie.
Alles verloop goed totdat die Firenza se neus aan die anderkant van die pad al amper in die teenoorgestelde rigting kyk. Ons gly effens op die gruisstrook en in die skrik verminder my broer spoed sodat die karretjie vrek.
In duet uiter ons ‘n woord wat in ons ouerhuis ontoelaatbaar was.
My broer draai hoopvol die sleutel, maar vonkgewys is daar nie eers ‘n vermoede dat die Firenza wil aanskakel nie.
Bekgeveg
Die frustrasie lei tot ‘n erge bekgeveg. Hoekom het hy soveel spoed verminder? ontplof ek. My broer wil weet of ek eerder wou hê dat hy die kar moes rol.
Soos dit ‘n jonger broer betaam, erken ek uiteindelik skuld, want dis ek wat die afdraaipad gemis het.
Na ‘n uur van skamele inspirasie tussen landerye waar niks roer nie asof die wegraping reeds plaasgevind het, kry ek ‘n desperate idee.
Vars inspirasie
Ons moet die kar weer omstoot sodat hy met sy gatkant heuwel af staan in die rigting vanwaar ons gekom het, verduidelik ek. My broer bestuur dan die Firenza loer-loer oor sy skouer heuwel af.
Met die enjinkap opgeslaan, sal ek op die buffer staan en die vonkverdeler se kop in die rondte draai met die hoop dat enjin ontsteek.
Indien ons suksesvol is, sal ek die enjinkap toeslaan en afspring terwyl hy die Firenza tot ‘n ent anderkant die afdraaipad in trurat ry. So in tru, moet hy haar dan in eerste gooi sonder dat die kar tot stilstand kom. Intussen sal ek by die afdraaipad wag en inspring wanneer hy verbykom.
Evel Knievel
Tekkies uitgetrek het ek wydsbeen op die chroombuffer gestaan met ‘n groottoon onder elke hooflig ingehaak. My linkerhand het vir balans aan die opgeslane enjinkap se kapstok vasgehou terwyl ek bo die enjin hang.
So is ons heuwel af.
Met dié dat my broer oor sy skouer moes loer, is ons slingerend heen en weer oor die pad.
My hand het gevolglik nooit by die vonkverdeler uitgekom nie.
Samaritaan op donkie
Aan die onderkant van die heuwel het ons in die bakkende middagson bedruk op ‘n boomstomp gaan sit totdat ‘n boer in ‘n bakkie genadiglik by ons gestop het.
Dit was gou duidelik dat hy oor meer meganiese kennis as onsself beskik. Hy het in die binnegoed van die enjin rondgevroetel en my broer deurentyd beveel om die “starter te gooi”.
Nie lank daarna nie luier die enjin weer, alhoewel dit geklink het asof Guy Fawkes reeds vroeg in die jaar aangebreek het.
Ten laaste tuis
Dankbaar groet ons en ry voor sonsondergang Bloemfontein binne. Op ‘n ooptetjie so tweehonderd meter voor ons motorafdak by die koshuis gee die Firenza haar laaste proes en gaan staan.
Amperse ontploffing
My broer reken ons moet ‘n muntstuk opskiet. Kop gooi ons ‘n vuurhoutjie in die petroltenk. Stert spaar ons die kar se lewe en stoot haar net onder die afdak in.
Dit is kop.
Oomblikke lank verlustig ons onsself in die gedagte van ‘n genoeglike ontploffing.
Uiteindelik besluit ons egter teen die geweldadige egskeiding. Ingestoot onder die afdak het sy maande lank gestaan terwyl ons oral stap.
Vaarwel ons pitboelterriër
Jare later verkoop ons die Firenza voetstoots vir sewehonderd rand kontant toe ons al die teerpad deur haar vloer kon sien.
Groete, totdat ons weer in die solderkamer gesels.
Dit was ‘n myner van Welkom wat ons gehelp het – daar waar peuter aan enjins destyds ‘n streeks-tydverdryf was.
Maar andersins was dit ‘n heel akkurate beskrywing van die mistroostigste Intervarsity wat ek ooit beleef het. (Ek wens ek kon se dat dit aangename herinneringe was….)
Boer of myner … vir ons was hy ‘n engel uit die hemel. Jy sal ook onthou dat ons later by ‘n dorpie moes brandstof ingooi en die petrolstasie se hele span van pompjoggies die Firenza met verbysterende spoed weer aan die brand gestoot het. Lyk of ons ten spyte van al die treurmares darem engele op al die regte plekke gehad het. Wil ook byvoeg dat jy deur die hele Bloemfontein se verkeer tot by ons koshuis gery het sonder om een keer die kar te laat vrek. Dit troef dalk selfs jou vernuftige bestuursvermoë in Potchefstroom.