Miskien het mense algaande uit jou lewe verdwyn en gebeure jou bestaan weggeskuur sodat net die vier mure van ‘n kamertjie oorgebly het.
‘n Verskriklike eensaamheid het ‘n tuiste in jou siel geskrop.
Die wêreld het van jou vergeet.
Jou verstoot. Tot ‘n randeier verklaar.
Soms kan ‘n vinger van skuld vir ons omstandighede in eie boesem gesteek word, maar partykeer is dit maar net bloot hoe die speelkaart in ons hand lyk. ‘n Kaart wat ons dikwels nie self gekies het nie.
‘n Besoek van liefde
Een so ‘n geval bly my oor dekades heen steeds by. ‘n Tragedie met ‘n stuk vertroosting wat in my gedagtes rondrol wanneer ek lank na slaaptyd nog wakker lê.
Die verhaaltjie staan te midde van ‘n man met ‘n hart vol ontferming.
‘n Man wat die 007 van liefde is.
‘n Vriend wat ek doerie jare leer ken het. ‘n Vriend wat anoniem sou wou bly, want die liefde was nog nooit vir hom ‘n saak van klinkende simbale of die najaag van eiebelang nie.
Kom ons noem hom Bart.
Hy sou persone in sorgsentrums besoek wat vanweë beroerte of ander oorsake aan ‘n bed vasgekluister was. Bart sou vooraf hulle geskiedenis uitvis om te bepaal hoe hy vreugde in hulle lewens kon bring.
So vergesel ek hom op ‘n dag. Dit geskied amper teësinnig, want mense se lyding pluk mos rof aan die sielskamers. Veral waar jy met die gedagte stoei dat dit netsowel jy kon wees.
Tronk van beddens
Ons land in ‘n kamer met ses beddens. Almal in die rigting van ‘n televisiestel gedraai.
My hart wil breek.
Ek sien helder verstande vasgevang in liggame wat nie meer instruksies neem nie. Al roering is oë wat die beelde op die skerm volg. Vir ‘n band met die buitewêreld moet hulle ure, dae, weke en maande lank na televisieprogramme staar wat iemand anders elke oggend met ‘n afstandbeheer vir hulle uitkies.
Selfs met geslote oë, kan hulle nie die luidsprekers se klank ontsnap nie. Wat ‘n verskriklike tronk, dink ek. Hoe moet hulle nie na bevryding smag nie?
Die gryskop dame
Bart beweeg na die bed van ‘n pragtige gryskop dame. Fynbesnede gesig. Vanweë beroerte is sy grootliks verlam en kan nie praat nie.
Maar in haar intelligente helderblou oë vind jy steeds ‘n vol lewe wat haar liggaam nie langer kan uitdruk nie.
My vriend het geweet dat sy voor die beroerte geesdriftig haar bybel elke dag gelees het en gaande oor Psalms was.
Bart is ‘n man van deernis. Hy vou haar hand sagkens in syne toe.
Tannie, vandag lees ons tannie se gunsteling gedeelte uit die bybel.
Haar oë straal dankbaar en opgewonde.
Wil jy eerder na die video van die geselsie kyk?
Voorlees
Bart val weg met die eerste vers van Psalm 23:
“Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om Sy Naam ontwil. Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie …”
Bart lees voort terwyl haar gedagtes in kleurmengsels van blou in haar oë saamgesels.
Dan vloei eers net ‘n druppel oor haar wang en daarna ‘n stroom trane toe hy die gedeelte met die Here se goedheid en guns afsluit.
Liefde wat alles oorwin
Ek huil skaamteloos langs haar bed oor die Here wat haar in Sy liefde raakgesien het en daardie oggend deur Bart kom aanraak het.
Vir ‘n rukkie het die beknelling van haar liggaam nie saakgemaak nie, want die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
Bevry uit die kettings
Miskien lê jou donker dieptes nie in jou liggaam nie, maar in jou gedagtewêreld. Daar waar die letsels en sorge van die lewe ongemerk vir die mense wegkruip. Daar waar niemand die boeie van jou seer, wanhoop en verwerping kan raaksien nie.
Dit is moeilik om jou hand vir hulp uit te steek wanneer jy binne die mure van jou gedagtegang ingekerker is.
Daarom wil ek hê dat jy bloot na die woorde van Jesus in Lukas 4:18-21 luister waar Hy na Jesaja 61:1 verwys:
16 Toe Jesus in Nasaret kom, waar Hy grootgeword het, het Hy op die Sabbat na die sinagoge gegaan, soos sy gewoonte was. Toe Hy opstaan om voor te lees, 17 is die boekrol van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgerol en die plek gevind waar geskryf staan:
18 “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, om onderdruktes te bevry, 19 en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”
20 Hierna het Jesus die boekrol opgerol, dit aan die amptenaar teruggegee en gaan sit. Almal in die sinagoge se oë was stip op Hom gerig. 21 Toe het Hy met hulle begin praat: “Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul terwyl julle daarna geluister het.”
Kies lewe
Die lewe is ‘n reis van keuses.
Jy kan kies om Christus se woorde omtrent Homself in jou hart te bêre en nie langer aan jou eie desperate planne en vooruitsigte vas te klou nie.
Oorweeg daarom: Is hierdie nie dalk die oomblik waarop jy jou greep op jou eie agenda volkome moet laat los, sodat jy in Sy arms kan vryval nie?
Sweef soos ‘n arend
Indien wel, sal jy vind dat die woorde van Johannes 8:36 vir jou waar sal word:
As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees.
Hiermee het ons geselsie vandag tot ‘n einde gekom.
Groete totdat ons weer rondom die waterbak gesels.