Soms moet ons van die geraas in ons lewens wegdraai en ‘n rusplek vind waar ons oorlaaide siele stilte vind.
A. KOTZESRUS
1. Ons reis na stilte
So word ek en ‘n vriend na Kotzesrus, diep in die Namakwaland genooi. Ons vertrek met groot verwagting op ons geestelike reis van rus.
Kotzesrus is ‘n verruklike plekkie tussen vele kronkelende grondpaaie so sestig kilometer weg van die naaste teerpad. Met ons aankoms ontdek ons hierdie weggesteekte holte tussen die omringende koppies. Dis ‘n klein gemeenskappie met presies sewentien inwoners en amper netsoveel huise wat elkeen die neuspunt van ‘n plasie is wat in die verskiet aan die agterkant oor die heuwels kruip.
Uit die plantryke veld styg ‘n bekorende aroma wat soos kleurryke skoenlappers om ons neusvleuels dartel. Ons wonder sterk of dit nie God se handpalm op aarde is nie.
2. Pleknaam se betekenis
“Kotze” in Kotzerus beteken jas of mantel. En dit is gepas, want by ons aankoms vou die rus van God soos ‘n mantel om ons skouers. Hierdie rus is vry van Eskom. Vry van selopvangs. Vry van enige munisipaliteit. En vry van die sorge wat ons reeds by Bitterfontein gelos het toe ons van die N7 hoofpad afgedraai het.
Oral hang ‘n uitgestrekte vrede; ‘n eenvoud wat jou tot stilstand dwing, ‘n salige rus uit die bladsye van ewigheid.
Dis uitgesluit die geskarrel van akkedis-pootjies oor die rotsrantjies en die suisende geluid van brekende branders agtien kilometer weg wat jy hoor wanneer die wind in jou rigting waai.
3. Fontein van liefde
Ons word hartlik en met tonne liefde by die gastehuis op die plasie Nuwefonteinskop ontvang. ‘n Heerlike beker plaaskoffie staan altoos net ‘n armlengte weg.
Nuwefonteinskop doen dadelik sy naam gestand. Reeds voordat ons klaar afgepak is, word dit ‘n geestelike fontein van vars water wat vrylik uit die hoof, Christus Jesus vloei.
In die stilte en oopgespreide vlaktes sien ons meteens ons diepste dors so duidelik raak. ‘n Versugting pak ons beet om op ons knieë te val en gulsig van die Fontein te drink.
Die middag na ons aankoms staan ek met wydgespreide arms op die koppie agter die gastehuis en kyk oor Kotzesrus uit. Ek beleef die heerlikheid van die Here.
Sy rus word my veilige hawe teen al die storms wat my in die wêreld daarbuite wil verswelg. In die voue van Sy hand vind ek my skuilplek.
4. Vooraf se beskikking
Oppad na Kotzesrus het ek reeds agtergekom dat die Here ons vir ‘n ontmoeting voorberei. Ons slaap in Wolseley in Harmoniestraat, nommer agt oor.
Vroegoggend toe ek in Wolseley wakker skrik, het my armhorlosie op die bedkassie se knippie oornag spontaan afgeroes. Ek het geweet dit was tyd om my horlosie weg te pak en my eie agenda finaal eenkant te skuif.
Wanneer ons na die geestelike lafenis in Kotzesrus na ons tuisdorp terugkeer, bly ek in diepe verwondering staan oor God se rus wat alle verstand te bowe gaan.
Jy het die keuse om op hierdie tydstip eerder na ‘n video-opname van die boodskap te kyk.
B. KERNTEKS VAN BOODSKAP
1. Teks
Rondom die gedagte van geestelike rus lees ons Hebreërs 4:1 as teksvers.
Hebreërs 4:1 Laat ons daarom versigtig wees, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan, nog bly staan, dat dit nie mag blyk dat een van julle agtergebly het nie.
2. Belofte van rus
Alhoewel ons mettertyd na die konteks van die vers sal kyk, neem ons voorlopig van twee dinge kennis:
a) Die woorde “versigtig wees” se Griekse betekenis is eintlik “vrees”. Dit wil dus sê dat ons hierdie “belofte van rus” regtig ernstig moet opneem. Indien ons die vermaning verontagsaam, mag ons onsself dalk agtergelaat op ‘n eensame plek sonder rus bevind.
b) Tweedens moet ons besef dat daar ‘n belofte van “rus” bestaan en daardie belofte ons ook beskore is.
Wanneer ons van hierdie belofte vergeet wil ons in ‘n deurmekaar wêreld moedeloos boedel aan al die uitdagings oorgee. En sodoende toelaat dat die chaos ons opslurp en weerloos teen die grond klap.
C. WARE AARD VAN RUS
1. Ons begrip van rus
Dit is van groot belang dat ons vra wat rus werklik is. Ons verstaan die term in die algemeen om te beteken dat ons onsself kapoet werk en dan doodmoeg met ons voete twee kussings hoog op die bed gaan lê.
Maar rus in sy ware vorm is nie iets wat moeisaam verdien word nie. Dit is ‘n posisie wat ons inneem. Om ‘n nuwe prentjie in jou kop te teken, maak ons ‘n draai in die bybelboek van Genesis.
2. Rus in die skeppingsverhaal
Die verse wat ons hier lees volg net nadat God in ses dae, die aarde en alles daarop geskep het.
Gen 1:1 So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. 2 En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. 3 En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.
3. Waarom moes God rus?
Kom ons bedink eers die volgende vraag. Moes God na dag ses rus omdat Hy vreeslik moeg en uitgeput was? Vanselfsprekend nie.
Jesaja 40:28 verklaar onomwonde:
Jesaja 40:28 Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie …
4. Drie boublokke om God se rus te verstaan
God as geeswese het nie liggaamlike beperkings nie. Om derhalwe te begryp waarom God gerus het, is daar drie dinge wat ons moet verstaan en wat die boublokke vorm vir alles waaroor ons verder gaan gesels.
4.1 Eerste boublok
Kom ons bestudeer die Hebreeuse woord “shavath” wat as rus vertaal word. In essensie beteken dit “to repose, desist, cease, leave, come to an end.”
Wanneer ons na die woordeboek-betekenis van “repose” kyk, verstaan ons dit nog beter.
Repose as noun is a state of rest, sleep, or tranquillity. Repose as verb is to be situated or kept in a particular place.
Ons bekyk hierdie beskrywing later weer.
4.2 Tweede boublok
Hiervoor moet ons vir ‘n oomblik na Genesis 1:31 trurat gooi waar God na ses dae van Sy skeppingswerk dit in oënskou neem:
Genesis 1:31 God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en kyk, dit was baie goed.
En dit was aand en dit was oggend – die sesde dag.
Wat begryp ons nou? God het op die sewende dag gerus nie omdat Hy moeg was nie, maar omdat Hy Sy skeppingswerk ten volle voltooi het. Rondom Hom het alles in volkome harmonie met mekaar beweeg: God, mens en aarde.
Julle sal onthou dat ons vir mekaar gesê dat rus ook inhou “to be situated in a particular place.” God staan as te ware eenkant op “a particular place” en beskou in verwondering Sy eie handwerk waarin Hy Sy lewe geblaas het.
Daarom seën en heilig God hierdie sewende dag waarop die skepping vir die eerste keer sy volle dinamiese heerlikheid uitstraal.
4.2.1 Patroon word verbreek
Verder merk ons dat die afsluitingspatroon van “dit was aand en dit was môre” soos by die ander ses skeppingsdae nie op die sewende dag herhaal word nie. Die rede is voor-die-handliggend. Die sewende dag word in dag agt en in elke dag daarna voortgesit.
4.2.2 Verskuilde element
Daar is egter ‘n verskuilde element omtrent die skeppingsverhaal waarsonder ons nie die rus wat ons elkeen elke oomblik beskore is, sal verstaan nie. Ter wille van duidelikheid moet ek eers ‘n opmerking omtrent God se ingevlegte dinamika in die skeppingsplan maak.
Die skepping was inderdaad wonderbaar en verstommend gemaak, maar een reuse risiko was daarin opgesluit wat terselfdertyd ook die hoogtepunt daarvan was.
God se skeppingsplan was op liefde gebou. ‘n Liefdesverhouding tussen God en mens. Daarom het die mens ‘n vrye wil ontvang. Liefde vir God móés volkome vrywillig wees.
4.3 Derde boublok
Dit bring ons by die opwindende derde aspek. Vir die skepping om die wese van hierdie liefdesverhouding te weerspieël, moes dit die wesenskenmerke van die Vader se verhouding met Sy Seun dra wat in alles geweef sou word.
4.3.1 Geheim
Maar hoe sou God dit regkry? Ons lees hieromtrent in twee bybelverse wat die geheim verklap en die sleutel tot ware rus inhou. Trek vas jou sitplekgordel.
Hebreërs 1:2 maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun. Hom het Hy aangestel as erfgenaam van alle dinge, en deur Hom het Hy ook die wêreld geskep.
Joh 1:2 Hy was in die begin by God. 3 Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.
4.3.2 Geweldige implikasie
Begryp ons die geweldige implikasie hiervan? Ons is volkome by Christus ingebed. Dit is waarom niks of niemand anders ooit die weg, die waarheid en die lewe vir ons kan wees nie.
Omdat die skepping deur Hom ontstaan het, was Hy ook die volkome en enigste offer om die dinamika van die sewende dag en ons verhouding met God te herstel.
4.3.3 Gevolgtrekking
Rus volg derhalwe as die uitvloeisel van ons herstelde verhouding in God se voltooide skepping wat deur Christus moontlik gemaak is. Daarom kan ons uiteindelik op enige plek en onder alle omstandighede daardie rus hê omdat Christus se volle lewe in jou gestalte gekry het.
Anders gestel, is rus die uitkoms van die posisie wat jy in Christus ingeneem het ongeag of ‘n taxi toeterend voor jou injaag.
Luister na wat Jesus in Mattheus 11:28-30 sê:
Mattheus 11:28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; 30 want my juk is sag en my las is lig.
In Lukas 6 val die Fariseërs Jesus aan omdat hy nie die gebruike van die Sabbat nakom nie.
Lukas 6:5 Toe sê Hy vir hulle: Die Seun van die mens is Here óók van die sabbat.
Eintlik sê Hy hulle sien nie die groter prentjie raak nie. Dis nie die mens se inkleur van die Sabbat wat dit waarde gee nie, maar die volheid van God en Sy skepping waarvan dit ‘n teken is.
4.3.4 Rus in die Ou Testament
Alhoewel die mens na die sondeval nie meer in harmonie met God se skeppingsplan geleef het nie, het dit hoegenaamd nie die belang van die sewende dag nie verminder nie. Daarom word Sabbat sentraal binne die Tien Gebooie gevind. En bly sodoende ‘n gedurige herinnering aan wat God eintlik daarmee in gedagte gehad het.
Indien ons na die Ou Testament uit ‘n perspektief kyk waar “ware rus” ‘n posisie van harmonie en heerskappy in God is, word dit makliker om die tipologie raak te sien. Met tipologie word bedoel die gebeure of beskrywings in die Ou Testament wat ‘n skadu is van dit waarmee ons in die Nuwe Testament bedien word.
So is die tabernakel of Tent van Ontmoeting waarmee die Israeliete deur die woestyn getrek het, ‘n skadu van volkome rus in God. In die Allerheiligste gedeelte was die heerlikheid van God teenwoordig. Indien die Hoëpriester se offer daar aanvaar is, was die volk vir nog ‘n jaar in harmonie met God en kon in Sy rus beweeg.
Nog ‘n skadu van harmonie en rus was die beloofte land wat vir die Israeliete gewag het toe hulle na veertig jaar in die woestyn oor die Jordaanrivier daarheen getrek het. Dit is dan ook juis hierdie voorbeeld wat die skrywer van Hebreërs in hoofstuk 3 en 4 gebruik om die idee van God se rus te verduidelik.
D. HOE OM IN GOD SE RUS TE WANDEL
1. Bybelskrywer verduidelik
Ons weet dat ‘n hele geslag Israeliete in die woestyn gesterf en nooit die beloofte land binnegegaan het nie. Die Hebreërskrywer pleit dat dit nie met ons as gelowiges moet gebeur en ons sodoende ons geestelike erflating van rus versaak nie. Die skrywer verduidelik breedvoerig wat destyds met die Israeliete fout gegaan het. In kort kom dit op die volgende neer:
Hebreërs 3:18 Vir wie, behalwe hulle wat ongehoorsaam was, het Hy gesweer dat hulle beslis nie in sy rus sal ingaan nie? 19 Ons sien dus dat hulle vanweë ongeloof nie in staat was om in Sy rus in te gaan nie.
Die ontstaan of grondslag vir hierdie ongeloof verduidelik die skrywer in Hebreërs 3 en 4. waar dit by herhaling onderstreep word:
Kom ons lees Heb 3:14-15
Hebreërs 3:14 Ons het inderdaad deelgenote van Christus geword, mits ons enduit stewig bly vashou aan ons aanvanklike geloofsvertroue – 15 soos gesê word: “Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard, soos tydens die opstand nie.”
2. Twee daadwerklike vrae
Dit laat ons met twee vrae:
a) Hoe bly ek vashou aan my aanvanklike geloofsvertroue om ‘n deelgenoot van Christus te wees en sodoende in Sy rus te wandel?
b) Hoe hoor ek vandag Sy stem ten einde daaraan getrou te wees?
2.1 Eerste vraag
Die eerste vraag het ‘n dubbeldoor antwoord.
2.1.1 In Sy heerlikheid
Die Hebreër-skrywer verduidelik in die fynste besonderhede hoe Christus as ons Hoëpriester ons as gelowiges toegang tot die Allerheiligste gegee het en ons dus in die heerlikheid van die Here, Sy volkome rus kan ervaar.
Hierdie heerlikheid word in Hebreërs 1:3 beskryf:
Hebreërs 1:3 Hy is die uitstraling van God se heerlikheid, en die ewebeeld van sy wese.
Kom ons staan net vir ‘n oomblik by die woord “heerlikheid” stil. In ons volksmond is die gewone betekenis daarvan dikwels tot “prag” of “skitter” beperk.
In Grieks het dit egter ‘n veel wyer betekenis as bloot die gedagte van “glans”. Die woord “doxa” vir heerlikheid dra in sy historiese kern die betekenis “om ‘n gunstige indruk van iemand te hê”. Daardie gunstige indruk ontstaan op grond van wie die persoon werklik is en dat dit straal uit hom straal.
Die heerlikheid wat dus uit Christus straal, is die essensie of openbaring van wie God waaragtig is. Ons moenie heerlikheid met ‘n klomp goudvlokkies verwar wat in die lug ronddryf nie.
Om hierdie gedagte van Christus se heerlikheid te beklemtoon, kom ons lees Johannes 1 vers 14.
Johannes 1: 14 En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid. Ons moet derhalwe nooit ‘n verskynsel van heerlikheid as die mikpunt najaag nie. Dit moet Christus wees waarna ons smag. Want in Hom alleen is die ware lewe en in daardie lewe vind ons die lig.
2.1.2 Oë gevestig op Jesus Christus
Dit bring ons by die ander praktiese deel daarvan om in geloof te bly staan en ons kyk na ‘n beeld wat ‘n meer tasbare prentjie skep.
Hebreërs 12:1 Daarom, terwyl ons ook so ‘n groot wolk getuies rondom ons het, laat ons van elke las ontslae raak, van die sonde wat ons so maklik omring, en die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2 die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, Hy wat ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig gestel is, die kruis verduur het, die skande daarvan gering geag het, en sy plek aan die regterkant van die troon van God ingeneem het.
Dis duidelik. Ons fokus moet Christus alleen wees, anders mis ons die boot.
2.2 Tweede vraag
Dit bring ons by die tweede vraag. Hoe hoor ek vandag God se stem sodat ek vandag daarin kan wandel?
Hoor ek Sy stem wanneer die branders breek?
2.2.1 Openbaring
Ter aanvang wil ek sê dat daar ‘n belangrike geestelike wetsmatigheid is wat plaasvind wanneer ons op Christus fokus en ons Sy lewe in ons toelaat, en dit is: Hy openbaar Homself aan jou in woord en waarheid.
Kom ons lees in Johannes 16:12-15 om te sien hoe dit in praktyk werk:
Johannes 16:12 “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. 13 Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. 14 Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig. 15 Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.”
2.2.2 Hoe praat God met my?
Ons weet dat God se woorde deur die Heilige Gees op twee wyses sy weg na ons vind:
a) Logos
Dit is die volledige uitdrukking van ‘n gedagte, idee of konsep. Dit is omvattend genoeg om ‘n duidelike punt te maak. Universeel en objektief. Daarom praat ons ook van die bybel as God se logos-woord.
b) Rhema
Direk vertaal is dit ‘n “uitlating” [utterance] en kan ‘n woord of meerdere woorde wees. Dit vorm ‘n onderdeel van Logos.
In die algemeen word rhema beskryf as:
“an inspired Word birthed within your own spirit, a whisper from the Holy Spirit like the still, small voice that spoke to Elijah in the cave. It is a divinely inspired impression upon your soul, a flash of thought or a creative idea from God. It is conceived in your spirit, but birthed into your natural understanding by divine illumination. A true rhema carries with it a deep inner assurance and witness of the Spirit.”
‘n Interessante verwysing na Rhema word in Hebreërs 1:3 gevind.
Hebreërs 1:3 … Hy hou alles in stand deur sy magtige woord; …
“Woord” is hier rhema en dit maak sin, want die konsep van die skepping bestaan reeds. Dit is as te ware net nodig om verstellings daaraan te maak.
Ongeag wat ons nou self mag dink, kan ons in die lig van velerlei teksverse onomstootlik aanvaar dat die Heilige Gees wel met ons praat en wil praat.
3. Hoor ek regtig vir God?
Tog bestaan daar by talle van ons as gelowiges die onsekerheid of wat ek hoor werklik van die Heilige Gees kom en of dit nie net dalk my eie gedagtes is nie. Die skrywer van Hebreërs gee ons egter, gedagtig dat ons “vandag” Sy stem moet hoor, in Hebreërs 4:12 die vertroosting en moed om telkens in geloof uit te stap wanneer ons dit doen met ons oë op Christus gevestig.
3.1 Tweesnydende swaard om te hoor
Hebreërs 4:12 Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.
Thayer’s Greek Lexicon beskryf merismou wat die Griekse woord vir skeiding is:
to mean that most hidden spot, the dividing line between soul and spirit, where the one passes into the other.
3.2 Beeld van geopende geestelike ore
Dis ‘n pragtige beeld. Die skrywer in Hebreërs sê dus die “logos woord” is daardie swaard wat alles wegsny totdat net die raakpunte tussen siel en gees oorbly. Met ander woorde logos sny al die geraas en besoedeling weg wat ons doof vir God se stem maak sodat net ‘n gesuiwer vloei van geeswerking tussen die mens se siel en gees oorbly.
Ons moet ook nie uit die oog verloor dat rhema as “uitlating” ‘n onderdeel van logos vorm en dus op dieselfde wyse aanwending vind nie.
E. SAMEVATTING
Ter afsluiting trek ons trek die boodskap bymekaar.
In die heerlikheid van Christus lê die geheel van die herstelde skepping en ons verhouding met God opgesluit.
Ons as bruid word deel daarvan deur ten volle op Christus as Bruidegom te fokus en sodoende deelgenote van Sy heerlikheid te word. In daardie heerlikheid ontvang ons openbaring waardeur Christus volkome in ons gestalte kry.
Geanker in die posisie van Christus in ons en ons in Christus, beleef ons dan rus ongeag ons omstandighede.
Want, in Christus is ons wel steeds in die wêreld, maar ons is nie langer in die wêreld vasgeboei nie. Ons kan dus onbevange met verligte oë daarna kyk.
* * *