Shakespear het gesê ons oë is die vensters van ons siel. Ons oë vertel wat in ons harte gebeur.
Ons oë verklap die toestand van ons siel. Die oop vlaktes en die skaduwees. Ons oë is ‘n woordlose gesprek wat ons voer sonder dat ons dit kan verhoed.
Die storie in jou oë
Indien ek in jou oë kyk, wat sal ek sien? Vreugde? Verwagting? Vrede? Hoop?
Of dalk eerder hartseer, pyn, ‘n gebroke riet, ‘n verslae gees, verwerping? Miskien emmersvol frustrasie? Dalk is jy kwaad vir die lewe, en woede lê vlak in jou oë.
Jesus Christus wil die storie in jou oë herskryf.
Kom ons delf dieper en ontdek Sy lewe in jou.
Dinamika van oë
Oë is interessant. Dit skep nie self lig nie, al lyk dit soms so. Dit is bloot ‘n reseptor van die omringende lig. En daardie lig in ons oë kom van twee kante af. Van buite en van diep binne onsself.
Kom ons bekyk veral na die lig wat in die binnekant van ons skyn. Daardie lig wat uiteindelik deur ons fisiese oë na buite straal.
Geestelike oë
Die lig in onsself ontvang ons deur ons geestelike oë. En daardie lig verlig op sy beurt weer ons sielsdenke. En die lig in ons sielsdenke beïnvloed ons liggaam, en word sigbaar deur ons aardse oë.
Paulus skryf in sy brief aan die gemeente van Efesiërs omtrent ons geestelike oë.
Helder lig in die tronk
Op daardie tydstip is Paulus in die tronk opgesluit en kan nie die gemeente besoek nie. Hy gebruik derhalwe die brief om belangrike waarhede aan hulle oor te dra.
Wanneer ek sy brief lees, wil dit voorkom asof Paulus desperaat is. Hy smag daarna dat die gemeente sal begryp watter onbeskryflike avontuur en voorreg ‘n lewe in Christus inhou. Maar ook wil hy verduidelik hoe hulle toegang tot daardie lewe kan verkry.
Telkens gebruik hy sterk beskrywende woorde soos oorvloed, rykdom, grootheid, volheid, geheimenis, allesoortreffende, oneindige, onvergelykbare en onpeilbare in die hoop dat hulle sal snap dat ons hier met die buitengewone te make het.
Lewe in Christus deur die Gees
Die kern van ons tema lê in Efesiërs 1:18 opgesluit. Maar ons sal die belang van hierdie vers beswaarlik kan verstaan indien ons nie ook die omringende verse lees nie.
Paulus verweef in hierdie verse die heerlikheid en almag van Christus met die werk van die Heilige Gees.
Kom ons lees eers Efesiërs 1:9-14. Let mooi op hoe Paulus die Heilige Gees in die laaste twee verse as die sleutel tot ‘n lewe in Christus beklemtoon.
Ef 1:9-14
9 Hy [die Vader van ons Here Jesus Christus] het die geheimenis van Sy wil aan ons bekend gemaak, soos Hy dit goedgedink en in Christus voorgeneem het,
10 om die volheid van die tye te bestuur, en om alle dinge – die dinge in die hemel en die dinge op die aarde – onder een Hoof in Christus saam te bring.
11 In Hom is ons ook as erfgename uitverkies, voorbestem volgens die voorneme van die Een wat alles volgens Sy raad en wil laat gebeur,
12 sodat ons, wat van die begin af ons hoop op Christus gestel het, kan bestaan tot lof van Sy heerlikheid.
13 In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees, wat beloof is.
14 Die Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom, tot lof van Sy heerlikheid.
Wil jy eerder na die boodskap op video kyk?
Paulus pleit
Paulus se brief aan die Efesiërs beweeg aan tot by die punt waar hy hulle vertel dat hy ‘n besondere gebed vir hulle het.
En hierdie gebed is belangrik. Dit is die kruks van sy begeerte vir die gemeente en ons kan dit ook die begeerte van ons harte maak.
Hy kom hy as te ware pleitend voor die Vader en sê:
Sal U nie asseblief, asseblief vir hulle die volgende kosbare skatte oopbreek nie.
Ek hoop ‘n groot nuuskierigheid pak julle beet om uit te vind wat hierdie skatte is.
Kom ons lees Efesiërs 1:17-20:
17 Dan bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, vir julle dit sal gee: geestelike wysheid en openbaring, wat in die kennis van Hom bestaan, 18 en dat die oë van julle harte verlig mag wees, sodat julle kan insien wat die hoop is wat Sy roeping bied, wat die heerlike rykdom van Sy erfenis vir die heiliges behels, 19 wat die onvergelykbare grootheid van Sy mag is, vir ons wat glo ooreenkomstig die werking van Sy groot krag, 20 wat Hy uitgeoefen het in Christus, toe Hy Hom uit die dood opgewek het, en Hom laat sit het aan Sy regterhand in die hemele
Twee dele van gebed
Oorhoofs bestaan Paulus se gebed uit twee dele. In die eerste deel vra hy dat ‘n dinamiese werking van die Gees plaasvind.
In deel twee pleit hy dat wannéér hierdie werking plaasvind, die gelowiges instaat sal wees om die enorme groter prentjie raak te sien.
Daar bestaan ‘n gevaar dat ons so vinnig oor vers sewentien kan lees; dat ons die ingrypende impak daarvan heeltemal miskyk.
Wysheid en openbaring
Kom ons kyk na presies waarvoor Paulus vra. Hy vra vir geestelike wysheid en openbaring, wat vir ons kennis van God sal gee.
Agter hierdie kort frase lê egter ‘n magdom van Paulus se dinkwerk oor die Gees se werking in ons, wat in sy ander bybelbriewe belig word.
Ek kies net ‘n enkele uittreksel wat die kern daarvan saamvat. So verduidelik Paulus in sy eerste brief aan die gemeente van Korinte in hfst 2 verse 10-12 hierdie uitsonderlike werking van die Gees in ons:
10 Maar aan ons het God dit deur die Gees geopenbaar; want die Gees ondersoek alles, ook die dieptes van God. 11 Want watter mens ken die dieptes van ‘n mens, behalwe sy eie gees in hom? Net so ken niemand die dieptes van God nie, behalwe die Gees van God. 12 Ons het tog nie gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat van God kom, sodat ons kan weet wat God genadiglik aan ons geskenk het.
Werking van die Heilige Gees
Wanneer Paulus smeek dat God vir ons geestelike wysheid en openbaring gee, het hy juis hierdie werking van die Heilige Gees in gedagte.
En deur hierdie werking van die Gees ontvang ons openbaring en wysheid.
Sodat ons sal begryp watter posisie ons in Christus beklee en wat Sy erfenis in ons behels.
Ek gaan Paulus se beeld van die oë in Ef 1:18 uit die Amplified bybel herhaal om die trefkrag van die Heilige Gees se salwing op ons harte te beklemtoon:
18 By having the eyes of your heart flooded with light, so that you can know and understand the hope to which He has called you, and how rich is His glorious inheritance in the saints, His set-apart ones.
In die Grieks bekyk
Ek lees dat die gedeelte in Grieks “having your eyes flooded with light” in die present perfect continuous tense geskryf staan. Dit is derhalwe ‘n proses van beligting van die hart wat voorheen begin het en steeds bly voortduur.
Jou geestelike groei het geen grense nie.
Wanneer hierdie lig jou soos ‘n rivier in vloed tref, begin jy geestelike dinge insien en raaksien. Die ander Afrikaanse bybelvertalings praat daarvan dat jy “weet”. Die Griekse woord “eido” vir weet of insien is baie interessant.
Dis nie kennis wat jy deur ervaring opdoen nie, soos wanneer ‘n naaldwerkster haar vinger met ‘n naald prik en daarna ‘n vingerhoedjie dra nie.
Dis ‘n absolute oortuiging deur openbaring. Jy wéét, dat jy wéét, dat wéét.
Dis vir my belangrik dat ons hierdie dinamiese werking van die Gees deur openbaring sal vasknoop. Daarom wil ek dit baie prakties maak.
Praktiese werking
Verbeel jou dat jy in jou hand ‘n eksterne dvd speler vashou. Hierdie dvd-speler is gemaak om ‘n dvd-skyf aan sy binnekant te ontvang.
Hierdie dvd-skyf kan woorde, beelde of musiek bevat wat jou lewe dramaties kan impakteer. Tot so ‘n mate dat jy anders na jou bestaan sal kyk en met nuwe lewensvisie gevul sal word.
Dink daaroor. Dalk bevat hierdie dvd ‘n boodskap van ‘n testateur wat aankondig dat jy die erfgenaam van sy boedel is, en al sy miljoene erf.
Of miskien voel jy teneergedruk en sal die musiek of woorde op die dvd jou hart met vreugde laat oorborrel. Dalk is dit ‘n boodskap wat sê jy moet vasbyt, hulp is oppad en ‘n vuur van hoop in jou hart aansteek.
Ogie
Kom ons kyk weer na die dvd-speler. Wanneer die laaitjie daarin oopgaan, is daar ‘n ogie aan die binnekant van die dvd-speler waardeur ‘n liggie skyn.
Hierdie ogie lees alles wat op die dvd-skyf in kodetaal staan en wat jy nie met die gewone oog kan raaksien nie. Inderwaarheid is die dvd sonder die ogie net ‘n blink ronde skyf wat mooi lyk.
Kragbron
‘n Ander belangrike aspek van hierdie dvd speler is dat dit heeltemal nutteloos is wanneer dit nie by die kragbron van die rekenaar ingeprop is nie.
Hart in die kern
Maar voordat ons verder delf. Eers gou iets oor die hart waarvan Paulus in Efesiërs praat. In die bybelse tyd was die hart die middelpunt van die mens se bestaan. Vandag assosieer ons die hart amper uitsluitlik met emosies. In daardie tyd was dit eerder die plek van wysheid, begrip, denke en die wil.

Verbeel jouself dat die dvd-speler in jou hand jou hart is. Die eerste ding wat gebeur het toe jy Christus as Verlosser aangeneem het, was dat jou dvd-speler of hart by God ingeprop is. Die loot word in die wynstok geënt.
Op daardie oomblik stroom Sy geestelike heerlikheid jou hart binne en die laaitjie van die dvd-speler skuif oop.
In die laaitjie plaas God ‘n dvd wat onthul wie Hy is, en wie jy in Hom is.
Ontwaking
Iets nog meer wonderliks gebeur. Lig skyn deur die ogie aan die binnekant van die dvd-speler en val op die dvd-skyf.
Skielik kan jy die inhoud op die dvd hoor, sien en ervaar. En hoe meer jy sien, hoe meer lig stroom deur die ogie in.
Kort voor lank is jou hart volkome met ‘n verblindende lig gevul.
Na ‘n paar dae kom jy agterkom dat jy anders dink, anders voel en ook anders optree.
Wat het gebeur? Jy het ‘n geestelike openbaring van God ontvang wat jou hele lewe omskep het.
Drie openbarings
Paulus verwys in Ef 1:18-20 in besonder na drie openbarings wat sal jy ontvang wanneer die oë van jou hart verlig word:
1. Toekoms
Die eerste openbaring verwys na die toekoms.
Paulus sê jy sal insien wat die hoop is wat God se roeping in Christus bied.
Hoop trek jou vorentoe. Hoop sê ek kan ‘n verwagting vir môre hê. Hoop sê dat die streep wat omstandighede vandag deur my lewe trek, net tydelik is. Dat die hartseer van vandag, môre vir die vreugde sal plek maak.
Hoop sê dat ek tot alles in staat is deur Christus wat my krag gee en sal gee.
2. Verlede
Die tweede openbaring verwys na die verlede.
Paulus sê jy sal insien wat die heerlike rykdom van God se erfenis vir die heiliges behels.
Jy is as gelowige, erfgenaam van ‘n geestelike rykdom wat Christus reeds deur Sy kruisiging en opstanding as erfdeel vir jou gegee het.
As gelowiges het ons dikwels ‘n bedelaars-mentaliteit. Ons neem nie ons geestelike erfdeel aan nie en nader tot God asof ons heeltemal bankkrot is. Heeltyd vra ons; “Here, gee dit. Here, gee dat.”
Wanneer die lig van ons erfenis as openbaring oor ons skyn, begin ons onsself sien soos wat die Vader ons sien. Naamlik as Sy seun en Sy dogter wat as Sy kinders deel het in Sy geestelike rykdom.
3. Hede
Die derde openbaring verwys na die hede
Paulus sê jy sal insien wat die onvergelykbare grootheid van God se mag is vir ons wat glo ooreenkomstig die werking van Sy groot krag.
Die Griekse woord vir krag is dunamis waarin die hedendaagse woorde dinamiet en dinamo hulle oorsprong het.
Dunamis krag sleep jou mee, dis aktief en dit is dinamies.
Dit is die krag waarmee die heelal nie alleen geskep is nie, maar wat die heelal in beheer hou en onderhou.
Hierdie dunamis krag is daagliks aan die werk rondom jou, al besef jy dit nie altyd nie.
Nuwe denke
Nou, waarom is hierdie drie openbarings so belangrik? Dit maak dat jy anders nadink oor God, oor jouself, oor jou lewe en oor jou omstandighede.
Bevlek
Maar kom ons wees eerlik. Soms gebeur dit dat die lig van die Heilige Gees nie meer deur die ogie op die dvd-speler van ons hart skyn nie.
Die dvd-skyf met al sy verborge rykdom is steeds daar, en die Heilige Gees het nêrens heen verdwyn nie, maar die ogie het vuil of bevlek geraak. Of in die ergste geval, kan dit wees dat die hele dvd-speler sommer uit die kragbron getrek is.
Die oë van ons hart word makliker bevlek as wat ons dink.
Ons verval in nare gewoontes, slegte gedagtepatrone of wêreldse selfsugtigheid. Of ons laat toe dat emosies soos bitterheid ons hart kaap.
Wanneer jy tot jou sinne kom, staan jy met jou rug na die Here, en die lig in jou hart is uitgedoof. Dit voel of jy blind ronddwaal.
Soeke na verligte oë
Die vraag is, hoe kom jy weer by ‘n plek uit waar jy openbaring en wysheid deur die Heilige Gees in jou hart kan ontvang?
Indien ek oor my eie lewe heen terugkyk, is daar net een antwoord:
Gee jouself opnuut en volkome aan die Koning van alle konings oor.
Gebroke
Ek kan veral een geleentheid onthou toe ek op ‘n slegte plek in my lewe was. Ek het besef dat ek nie so sou kon aangaan nie.
Een nag stoei ek twee ure lank met die Here. Op met die trappe, af met die trappe, op met die trappe, af met die trappe van ons huis.
Hardkoppig het ek bly vasklou aan myself. Maar eintlik was ek so skaam vir myself dat ek nie kon dink dat die Here enigiets van my sou wou hê nie.
Maar stadigaan het Hy my in Sy liefde toegevou totdat daar nie meer ‘n deel van myself was wat ek nie aan Hom wou gee nie. My skuldgevoelens het verdwyn.
Ek het gebroke by Christus se voete gaan lê en my volkome aan Hom oorgegee.
Geopende sluise
Vir die volgende sewe dae het die sluise van die hemel bo my oopgetrek. Ek het in ‘n waterval van openbaring gestaan wat onophoudelik oor my gestroom het.
Miskien smag jy na intimiteit met Christus. Miskien smag jy na nuwe openbaring en wysheid in jou lewe. Miskien smag jy daarna om ‘n verligte hart te hê.
‘n Hart wat kniel
Vertrou die Heilige Gees om die werk in jou hart te doen. Vra dat die lig van die Heilige Gees daarop sal skyn.
Word rustig en verklaar: “Here, ek hoor graag U stem. Verlig my hart.” En laat dan toe dat Sy gedagtes jou hart binnestroom.
En wanneer die begeerte jou onvermydelik oorweldig om voluit in die arms van die Vader in te hardloop, moenie ‘n oomblik huiwer nie.
Hy wag reeds vir jou. Leef vandag met verligte oë in Sy hart geanker.
18 By having the eyes of your heart flooded with light, so that you can know and understand the hope to which He has called you, and how rich is His glorious inheritance in the saints, His set-apart ones.
Word rustig en verklaar: “Here, ek hoor graag U stem. Verlig my hart.” En laat dan toe dat Sy gedagtes jou hart binnestroom.
——————————————————————————————————————-
Dankie Christo vir hierdie uitsonderlike stuk, elkeen gaan deur n woestyn tyd in sy/haar lewe en daar is eenvoudig net een antwoord, om nie te huiwer wanneer die begeerte om in ons Vader se arms in te hardloop oor ons kom nie – hardloop voluit en gee heeltemal oor aan die Een wat was, is en altyd sal wees – hier binne in jou, rondom jou – Hy wat jou paaie voorberei en gelykmaak, Hy wat daar is wanneer die aardse dinge nie meer lekker is nie en jy nie meer wil saamspeel nie. Maar met Hom kan ons alles aanpak, deur Hom deurdruk en saam met Hom Sy Koningkryk op aarde geniet en die saadjie plant by ander wat Hom so nodig het sodat hulle ook kan sien!!
Laat my dink aan baie onlangs wat ek my eerste leesbril ontvang het, ek was vas oortuig ek het dit nie nodig nie, tot die toets my ‘verligte’ oë gegee het – ek kon eenvoudig nie glo wat ek gemis het nie, nou lees ek weer heelwat meer as wat ek voorheen gelees het, want ek kan nou heelwat beter sien en hoef nie te raai wat ek lees nie 🙂
sien uit na jou volgende blog bydra vir Sy Koningkryk
Christo, het jy dit nooit oorweeg om teologie te swot en predikant te word nie? Hoe het jy by die regte uitgekom? Vra maar net.