Wanneer jy na die binnekant van ‘n fiksieboek kyk, wat merk jy op van die struktuur? Kom ons bekyk Deon Meyer se roman Spoor.
Die boek bestaan uit drie dele, 109 hoofstukke, 544 blaaie en hoofstuk een bestaan uit vier tonele wat van mekaar met asteriks geskei is. Maar ‘n boek het veel meer struktuur as bloot die uiterlike voorkoms.
A. ROMAN SE ONDERLIGGENDE STRUKTUUR
Bekyk jou voorarm. Wat sien jy? Dis in effek ‘n onewe buis wat met vel oorgetrek is. Tog weet ons dat onder die vel ‘n spierstelsel, ‘n beenstruktuur, ‘n bloedvatstelsel en senuwee-netwerk verskuil lê. Molekulêr is daar nog ‘n magdom van ander stelsels soos die DNA ketting.
Onderliggend het boeke soortgelyk vele onsigbare strukture wat ‘n roman in ‘n lekker leeservaring omskep. Bloot omdat jy nie die strukture daarin raaksien nie, beteken nie dat dit nie daar is nie.
Dink aan ‘n stereogram. Op die oppervlakte lyk dit na niks meer as ‘n plat prentjie nie, maar wanneer jou oë op ‘n sekere manier daarop fokus, verskyn die gesonke beeld meteens.
Om die onderliggende strukture in ‘n boek raak te sien, sal verg dat jy op ‘n sekere gefokuste wyse na die inhoud kyk.
Dis soos om velerlei radarbrille op te sit waarvan elkeen iets anders onder die grond beklemtoon.
Sommige van hierdie brille sou jy by slypskole raakgeloop het, maar moontlik is jy onseker waar, wanneer en hoe om dit te gebruik.
B. SKRYFPROSES IS ORGANIES
Sodra jy besef dat ‘n manuskrip ontwikkel word deur strukture organies vanaf ‘n gegewe vertrekpunt op mekaar te bou, word dit makliker om die regte bril op die regte tyd te dra. Om ‘n manuskrip aan te pak hoef dus nie hierdie vreemde, ontembare ding te wees wat voel asof jy in die middel van ‘n groot bos sonder ‘n kompas verdwaal het nie.
Die skryfproses kan vergelyk word met die groeiproses van ‘n embrio as enkele sel tot ‘n volwassene persoon.
Dit begin by ‘n blote idee, maar elke tree daarna is belangrik om die sukses van die geheel van die manuskrip te verseker.
Vir doeleindes van hierdie lesing neem ons net ‘n valskermperspektief van die geheelstruktuur en bespreek nie die fyn besonderhede daarvan nie. Later in die reeks sal ons met die praktiese sy handel.
C. BOONTJIERANK AS METAFORIESE BEELD
Die beeld van ‘n boontjieplant vergestalt alle aspekte van ons verduideliking.
Wanneer ‘n boontjiesaad ontkiem, bou ‘n geweldige krag ondergronds op wat soortgelyk is aan die dinamika wat van jou manuskrip ‘n sukses sal maak.
Hieronder is ‘n video van die ontwikkeling van ‘n boontjiesaad tot ‘n volwaardige plant. Speel die snit en ervaar die organiese ontwikkeling wat plaasvind. Dit sal help om jou skryfwerk drie-dimensioneel te beskou.
Ons het die ontwikkeling en strukture van die skryfproses in ‘n diagrammatiese boontjierank vasgevang. Dis ‘n oorspronklike skepping en sal nêrens anders in skryfskole gevind word nie. Druk die diagram gerus uit en hou dit deurlopend soos ‘n padkaart byderhand om die verduideliking te verstaan.
D. BOONTJIERANK
Onderskeie dele van ‘n manuskrip
1. Kante van blomhouer as genre
Sien eerstens die houer se kante raak. Dit omvou die genre waarin jy gaan skryf. Met ander woorde is jou manuskrip ‘n speurverhaal, ‘n riller, ‘n liefdesroman, ‘n misterie, ‘n jeugverhaal, ‘n geestelike roman of ‘n ander genre.
Genre oefen ‘n belangrike invloed op die inhoud van jou manuskrip uit, want dit hang ten nouste met die leser se verwagting saam wat daardie tipe genre lees. Ook het dit ‘n invloed op watter idees jy vir ‘n boek sal oorweeg. Vir ‘n tipiese liefdesroman sal ‘n reeks bloeddorstige moorde met ‘n byl nie jou leser amoreus stem nie.
2. Idee as boom van blomhouer
Kom ons aanvaar jy het ‘n idee vir ‘n manuskrip binne ‘n sekere genre.
‘n Idee is bloot ‘n voorafstelling (premise) of die vraag: Wat as?
Byvoorbeeld: wat indien jy sou agtergekom dat jou vrou jou wil vermoor en die enigste manier om jou eie lewe te red is deur haar eerste te vermoor? ‘n Idee veronderstel ‘n dwingende of meeslepende situasie en wat gedoen moet word om dit sinvol te hanteer.
3. Loglyn
Die volgende stap sal wees om daardie idee of gedagte in ‘n loglyn te omskep.
Loglyne is ‘n kragtige hulpmiddel wat uit die filmbedryf oorgeneem is.
Donkiejare gelede moes filmbase in ‘n oogwink in hul argiefstore tussen honderde draaiboeke dié met ‘n sekere storielyn kon uithaal met die loglyn op die rugkant geskryf.
‘n Loglyn is dus die kortste moontlike beskrywing van jou boek in ‘n sin of twee, en volg ‘n geykte patroon soos ons weldra sal agterkom. Sien dit soortgelyk aan ‘n saad se reaksie met die grond daarrondom.
Dis ‘n waardevolle katalisator vir alles wat daarna in jou manuskrip volg.
4. Grond as voedingsbron vir elemente
Vyf elemente
Vir die saad of idee om te ontkiem, het dit grond nodig wat altyd ‘n kombinasie van die volgende vyf elemente sal wees:
a. Wat gebeur? Dit sal jou intrige en subplots in die verhaal wees.
b. Met wie gebeur hierdie dinge? Dit sal jou karakters wees.
c. Waar en wanneer gebeur hierdie dinge? Dis die omgewing en tydvak waarin jou verhaal afspeel.
d. Wat wil die storie sê? Maw die onderliggende tema.
e. Hoe word die storie vertel? Met ander woorde uit wie se perspektief, hoe gebruik die skrywer woorde en sinne om die verhaal te vertel en wat is die stemming: ernstig, humoristies of wat ookal.
5. Konsep (uitgebreide loglyn met wortels)
Die konsep van jou manuskrip is jou loglyn vol steroïdes gepomp.
Die steroïdes is vyf wortels wat van uiterste belang is. Elkeen van hierdie wortels het sy eie omvattende proses hoe dit ontwikkel word en jou manuskrip se kanse op sukses sal dramaties vermeerder wanneer die wortels tot hulle volle sterkte aangroei.
Vyf wortels
Op hierdie stadium noem ons net die vyf wortels sonder om ‘n uitgebreide verduideliking daarvan te gee:
a) ‘n Held met ‘n tasbare doel;
b) ‘n Storie-idee met woema;
c) Konflik waarin alles op die spel is;
d) ‘n Nemisis in die weg van die held oppad na sy doel;
e) ‘n Tema met ‘n hart wat die leser raak
6. Storie-sinopsis as bogrondse boontjiepit
‘n Konsep het ten doel om die krag te genereer waarmee die storie-sinopsis bo die grond uitgedruk word.
‘n Storie-sinopsis is ‘n kern-opsomming van jou boek se intrigelyn, karaktergroei, tema en ‘n aanduiding van genre, stemming ensomeer. Dis gewoonlik ‘n paar honderd woorde of kan selfs enkele bladsye wees.
Dit verleen die boustene vir jou brokkelblad waarop ons binnekort meer klem sal lê. Dikwels word aan ‘n sinopsis gedink as bloot die opsomming van die manuskrip wat jy aan die einde van die skryfproses saamstel om vir jou uitgewer te stuur.
Ahoewel dit inderdaad dieselfde elemente bevat, bedoel ons met hierdie sinopsis ‘n vloeibare werksdokument wat as te ware tydens die skryfproses heeltyd oop langs jou lê. Soos jy skryf en nuwe insigte verkry, sal jy dit voortdurend aanpas.
Wanneer jy gedurende die skryfproses deurmekaar raak, sal jy dit lees om jouself te herinner waaroor jou storie waarlik gaan en sal dit jou op koers hou. Heel aan die einde van die skryfproses vorm dit ook die brondokument waarop jou sinopsis aan die uitgewer gebaseer word.
In die volgende lesing ontdek ons die wonderwêreld van brokkelblaaie.
Wil jy na die video van die lesing kyk?
Die geheimenisse van struktuur word baie logies en op ‘n maklik toeganklike wyse uiteengesit.
En ek hou van die analoë wat jy gebruik!