Vuursout
  • Tuis
  • Nuutste
  • Gedagtes
    • Waterbak
    • Soutbak
    • Vuurbak
  • Meerkat
    • Stories
  • Vulpenfles
    • Skryftegnieke
    • Boeke
  • Allerlei
    • Omtrent Myself
    • Saamgesels
    • Kontak
Geen Resultaat
Sien alle resultate
Vuursout
  • Tuis
  • Nuutste
  • Gedagtes
    • Waterbak
    • Soutbak
    • Vuurbak
  • Meerkat
    • Stories
  • Vulpenfles
    • Skryftegnieke
    • Boeke
  • Allerlei
    • Omtrent Myself
    • Saamgesels
    • Kontak
Geen Resultaat
Sien alle resultate
Vuursout
Geen Resultaat
Sien alle resultate
Tuis Stories

‘n Voetsool vir jou boks

STORIES

deur Christo Jordaan
26 Mei 2024
Houtboks met opgeboude skoen

Soms in ‘n slapelose nanag pluk die heelal ‘n potlood uit en skets ‘n prentjie tussen die stippels van gebeure in my dag.

Steeds gewikkel in ‘n stoeigeveg met oormatige kafeïen in my bloedstroom, voer die eerste kolletjie my weg na die vroeër miernes van oggendverkeer in my tuisdorp.

Swerwer van die strate

In alle rigtings krioel voertuie soos ek straat af bestuur. By ‘n robotkruising ontwyk ‘n straatswerwer telkens sy voortydige dood wanneer hy op die laaste oomblik aankomende karre systap in ‘n poging om die oorkant van die straat te bereik.

Sy dartelende Danie Gerber-lopie kom egter gedwonge op die middelmannetjie tot stilstand waar hy vasgekeer staan.

Ek sien hom gereeld by kruisings ronddwaal. ‘n Lang skraal man met sakkerige klere, ingesonke wange en ‘n afgeleefde knapsakkie oor sy linkerskouer.

“Wil jy nie ‘n kierie koop nie,” pleit hy tydig en ontydig by enige verbyganger met ‘n beursie en diegene wat skynbaar geen behoefte aan ‘n kierie het nie.

Terwyl hy ongeduldig rondtrap, is sy oë op die kierie in sy hande vasgenael. Wil dit seker so gou moontlik vir ‘n fix verkoop, besluit my veroordelende self sonder enige oorweging dat hy moontlik honger mag wees.

Die man met die kort been

Later dieselfde oggend ontmoet ek ‘n sakeman vir ‘n ondersoek ter plaatse. Hy het ‘n sonnige geaardheid met ‘n borrelende humorsin. Ons lag en gesels terwyl ons tussen afgeleefte masjienerie op die terrein rondbeweeg.

Eers wanneer ons groet, bespeur ek dat sy regterskoensool duimdik opgebou is. Hy beweeg so gemaklik dat ek dit aanvanklik nie opgemerk het nie. Ek staar hom agterna terwyl hy na sy voertuig loop. Volkome balans soos ‘n koorddanser, dink ek.

Prinses sonder ‘n kroon

My dae het ingeboude tydjies vir alleengenot. Oppad terug kantoor toe ontvlug ek eers na my gunsteling koffiewinkel. Ek vind ‘n oop tafel naby twee goedversorgde vroue in ‘n ernstige gesprek.

Brunet bepeins haar komende egskeiding waarin sy die eiseres is. Ek lei af dat sy reeds twintig jaar getroud is.

“Hy laat my nie soos ‘n prinses voel nie,” vertel sy gebelg as die belangrikste rede vir hulle egskeiding. “Hy weet dit was nog altyd my grootste begeerte.”

Ek sit kiertsregop.

Skei sy omdat haar man haar nie soos ‘n koninklike behandel nie? mymer ek. Dan is ek vir seker in die moeilikheid by Vroulief. Ek kan nogals by tye ‘n vreeslike droë drup wees, dink ek bevrees.

Tog maak haar rede nie sin nie, Sy het vroeër in die gesprek vertel dat haar man gaaf, opreg, liefdevol, getrou en ‘n voortreflike versorger is.

Die vrou agter tralies

Dieselfde tema word later die aand voortgesit toe ek vlugtig ‘n gedeelte uit ‘n realiteitsprogram uit ‘n hoek dophou. ‘n Betraande vrou bieg hartverskeurend teenoor haar eggenoot dat sy hom in die eg verneuk het.

“Maar waarom?” wil hy geskok weet.

“Dis nie jou skuld nie”, sê sy en ryg weereens soos Brunet ‘n papirusrol van sy wonderlike hoedanighede uit.

Ek het net ingehok gevoel.

 

Wil jy eerder na ‘n video van die praatjie kyk?

Alles en niks

Meteens sien ek ‘n verband tussen die vroue en die straatswerwer.

Vasgevang en onvervuld.

Eintlik sien ek oral sulke mense. Op gesigswaarde leef hulle in volkome vryheid: vryheid van beweging, vryheid van skuldlaste, vryheid van keuse, vryheid van onderdrukking, vryheid van tyd, vryheid van denke.

Logika veronderstel dat hulle hoogs gelukkig en vervuld moet wees. Maar tog is hulle nie.

Soos die man met die reuse inkomste wat oor alles materieël beskik wat sy hart begeer, sy kinders kontant op Maties laat studeer en sy vrou in ‘n modellyf by sosiale geleenthede uitstal. Maar hoekom wanneer hy saans in die bed lê, proe hy ‘n mondvol plastiek in sy bestaan?

Of die oujongnooi wat al dertig jaar sonder enige finansiële uitdaging in ‘n herehuis na haar skatryk moeder omsien en uiteindelik alles sal erf. Maar waarom beny sy mense met doodgewone huisgesinne?

Of die salaristrekker wat elke maand stiptelik al sy uitgawes betaal en nougeset vir sy gesin se behoeftes sorg, maar wonder of hy enigsins beter af is as die destydse slawe.

Die ongevulde gat

In die verbydraf van skapie honderd-drie-en-dertig bepeins ek die verskynsel. Dis duidelik dat hulle nie vervuld voel nie. Êrens ervaar hulle ‘n leemte in hulle bestaan.

Om dit fênsie te stel: daar is ‘n dieper versugting in hulle sielswese wat nie verwesenlik word nie.

Terwyl ek die warm kussing onder my kop vir die soveelste keer na die koeler kant omdraai, probeer ek sin van hierdie versugting-gedoente maak.

Waar kom dit nou eintlik vandaan? wonder ek. Hoe werk dit?

‘n Soeke na passie

My gedagtes word teruggevoer na ‘n praatjie wat ek lank gelede bygewoon het. Die belese aanbieder verduidelik dat die eiesoortige manier waarop ons elkeen aanmekaar geweef is ‘n deurslaggewende rol by vervulling speel.

Daarom spreek hy homself sterk uit teen motiveringsprekers wat kunsmatige formules op gehore afdwing en sodoende die unieke aard en omstandighede van die enkelpersoon misken.

Ter illustrasie vra hy ons om ‘n uitgebreide lys van ons innerlike hulpbronne te maak. Soos ons ervaring, kennis, opleiding, karaktertrekke, waardes, liggaamlike vermoëns, belewenisse, tegniese vaardighede ensomeer.

Lysie afgehandel moet ons ‘n kring trek om daardie dinge waarmee ons iets sou wóú doen. Hy laat ‘n paar kursusgangers hulle s’n uitlees.

Ek snap. Hy probeer uitwys dat ons uiteenlopende passies het. Maar meer nog. Hy wil hê ons moet ontdek dat vele van die dinge wat ons uitstekend kan doen nie noodwendig binne ons veld van passie val nie.

Die kritieke onderskeid

En juis hier lê die verskil tussen bevrediging en vervulling.

Om ‘n inkomste te verdien moet ons dikwels allerlei take verrig waarin ons funksioneel goed vaar maar buite die grense van ons passie lê.

Ons voel bevredig, maar nie vervuld nie.

Erger nog. In ‘n uiters mededingende werksomgewing kompeteer ons met hierdie vaardighede teen kollegas en ander maatskappye. Uiteindelik word ons hele lewensfokus ingesluk deur die gebruik van vaardighede wat noodsaaklik is, maar ons nie vervuld laat nie.

Stadigaan word ons van ‘n vae leegheid bewus wat nie wil weggaan nie. Ons plak ‘n pleister op deur te verklaar dat ons hierdie take vir ‘n hoër geestelike en morele doel doen.

Natuurlik is dit waar, maar dit maak nie die stemmetjie stil wat steeds na vervulling uitroep nie. So bou innerlike verset en frustrasie geleidelik op. Waarteen weet ons meermale nie.

Die pot spat aan skerwe

Op ‘n dag ontplof dit in ons binneste.

In rebellie gooi ons die baba saam met die badwater uit.

Doen drastiese dinge wat almal rondom ons se lewens aan skerwe laat spat.

Onskuldige dinge kry die skuld vir wat eintlik ons skaarste aan vervulling is. Bewerings vlieg vrylik rond soos: “ek is vasgekeer in my huwelik”, “my vrou verstaan nie my behoeftes nie”, “my man laat my nie soos ‘n prinses voel nie”, “ek gaan bedank, want my werk verveel my”, “ek wil ook ‘n slag gelukkig wees” en so spoel die aantuigings voort.

Dis dan wanneer ons kortstondige ekstase in buite-egtelike verhoudings en ander dinge soek wat die dopamien laat pomp.

Want ons wil net uit, iets anders met ons lewens doen. Wát weet ons nie regtig nie.

Dalk is jy soos die straatswerwer moeg om te voel dat jy bloot van dag tot dag oorleef. Iets skree in jou dat daar meer in die lewe móét wees.

Ontdek ‘n stukkie skoensool

Miskien is dit waar jy vandag is. Oorweeg dan dat al wat jy regtig nodig mag hê, net daardie opgeboude stukkie skoensool is wat ek by die man op die terrein raakgesien het.

“Maar die bykomende stukkie sool is so onbenullig klein”, voer jy aan. “Sekerlik kan dit nie ‘n wesenlike verskil maak nie.”

Tog maak daardie bietjie die drastiese verskil tussen hinke-pinke loop en om gladweg te beweeg.

Miskien moet jy heroorweeg of jy die gevaar wil loop om in frustrasie, woede en verset kosbare dinge en verhoudings rondom jou onherstelbaar te vernietig, of eerder dingetjies daarnaas kan vind wat die passie in jou uitdruk.

Die opgeboude skoensool in talle se lewens word hulle betrokkenheid by die gemeenskap, behoeftiges, sport, musiek, stokperdjies, belangstellings of geestelike meelewing.

Deel jou skatte uit

Almiskie moet jy ‘n lysie van al jou innerlike skatte maak en besluit watter daarvan jy graag sou wou uitdeel.

En almiskie wanneer jy hierdie uitgesoekte skatte saam in jou handpalm vashou, vertel dit ‘n storie wat jy nog moet ontdek. En lei dit jou op paaie na vervulling wat jy nie eers geweet het bestaan nie.

En net almiskie kom jy agter dat dit nie nodig is om jou werk, jou familie, jou vrou of man, of jou verantwoordelikhede in ‘n asblik weg te gooi nie, want met ‘n stukkie passie in jou skoensool ingebou, loop jy nie meer hinke-pinke nie, maar vervuld.

Dis dan ons mondvol vir vandag.

Groete, totdat ons weer in die dakkamer gesels.

Ontvang nuutste plasings

Etikette: bepeinsmeerkatstoriesvervulling
DeelTweetPin
Vorige Artikel

Skryf 3 – ‘n Roman se bogrondse struktuur (brokkelblad)

Volgende Artikel

Waarheen kronkel jou paadjie?

Volgende Artikel
Kronkelpad

Waarheen kronkel jou paadjie?

Kragoptel

Meer as oorwinnaars

Kommentaar 2

  1. Emsia Goosen says:
    2 jare tevore

    Ek het jou skrywe en die aanslag wat jy gebruik het om dit te verduidelik geniet.

  2. HV says:
    2 jare tevore

    Dit is ‘n verwikkelde onderwerp wat jy aanspreek en wat gewis besinning ontlok.

    Ek het al talle kere vir jongmense wat wonder wat om met hul lewens te maak, gesê dat hul moet onderskei tussen hul stokperdjies (belangstellings?) en die vaardighede waarmee hul ‘n bestaan kan voer. Op 18 -jarige ouderdom is jy dalk passievol oor rugby, maar op 35-jarige ouderdom is jou passie die versorging van jou gesin.

    Dit is uitdagende kwessies waaroor mense moet besluit en dit is amper onafwendbaar dat jy op ‘n stadium – retrospektief – gaan wonder of jy daarmee verlief kan neem dat jy die beste keuses gemaak het. (Moeilik om ooit te weet!)

Vuursout

© 2024 C Jordaan - Kragkos vir siel en gees

Inligting

  • Omtrent Myself
  • Voorwaardes
  • Privaatbeleid
  • Kontak

Sosiale Media

Welcome Back!

Teken aan in jou rekening hieronder

Forgotten Password?

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Teken aan

Add New Playlist

Geen Resultaat
Sien alle resultate
  • Tuis
  • Nuutste
  • Gedagtes
    • Waterbak
    • Soutbak
    • Vuurbak
  • Meerkat
    • Stories
  • Vulpenfles
    • Skryftegnieke
    • Boeke
  • Allerlei
    • Omtrent Myself
    • Saamgesels
    • Kontak

© 2024 C Jordaan - Kragkos vir siel en gees