Het die lewe jou al platgeklap, op jou bors gespring, tussen die ribbes geskop, flenters gekou en uitgespoeg?
Indien jy regmerkies langs die meeste boksies kon maak, is hierdie boodskap juis vir jou bedoel.
Die groot liefdesverhaal
Dit is eintlik ‘n storie. Maar dis ‘n verstommende storie.
‘n Verhaal omtrent liefde wat meebring dat wanneer jy bebloed op die grond lê, jy steeds die lig van hoop kan raaksien.
Maar meer nog, dis omtrent ‘n liefde wat ons alles gee wanneer ons niks verdien nie. ‘n Liefde wat ons meer as oorwinnaars maak.
Maar die karakters in my storie was nie die eerste persone om hierdie liefde te ervaar nie. Tweeduisend jaar gelede het Paulus al die mensdom van hierdie liefde vertel.
En ons sal ontdek dat hierdie liefde nie net ‘n sommerso liefde nie. Dit is groter as enigiets wat jy al in jou lewe aanskou het.
Die Damaskuspad
Paulus het hierdie liefde goed geken. Die dag toe dit hom gryp en deur elke sel in sy liggaam pols, het Saulus, die genadelose vervolger, Paulus, die boodskapper van Christus geword.
Paulus skryf aan die gemeente van Efese in Efesiërs 3 en probeer by hulle tuisbring hoe oneindig wyd hierdie liefde strek.
Efesiërs 3:16
Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17 dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.
18 Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19 Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
Angel getrek
In hierdie liefde is daar ‘n groot geheim opgesluit. Dit maak jou meer as ‘n oorwinnaar oor jou omstandighede.
Was Paulus bekwaam om oor hierdie oorwinningslewe te skryf? Ek dink so. Kom ons lees Paulus se brief gerig aan die gemeente van Korinte in 2 Korinthiërs 11:
2 Korintiërs 11:23
23 … Ek het harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. 24 Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, 25 drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi.
Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ‘n dag en ‘n nag in die oop see deurgebring. 26 Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers.
27 Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. 28 Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes.
Ons weet dus vir ‘n feit dat Paulus ‘n hele paar groot uitdagings in sy lewe beleef het. Daarom sal dit interessant wees om te sien wat sy benadering daartoe was.
In die brief aan die Romeine skryf hy soos volg:
Romeine 8:35
35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.”
37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.
38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Pad van hoop
Indien ons die klok nog so seshonderd jaar voor Paulus terugdraai, merk ons ‘n soortgelyke perspektief by die profeet Jeremia.
Ek gaan nie sy verhaal vertel nie, maar hy het harde klippe gekou het en moes by tye ongelooflike lyding verduur.
Tog skryf hy in Klaagliedere 3, net soos Paulus, oor ‘n liefde van die Here wat ons bo omstandighede uitlig:
Klaagliedere 3:18
Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. 19 Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; 20 as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas.
21 Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: 22 deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, 23 dit is elke môre nuut. U trou is groot.
24 Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.
Met Jeremia in ons knapsak is dit tyd om na moderne tye en ons storie aan te beweeg.
Wil jy eerder na ‘n video van die boodskap kyk?
God se kragstorie
In 2008 word ek deel van ‘n span wat Suid-Afrika by die Meesters Wêreldkampioenskappe vir Kragoptel in die VSA moet verteenwoordig.
My eie paadjie daarheen is ‘n reeks van verbysterende wonderwerke reguit uit die Vader se liefdevolle hand.
Ons span bestaan uit elf atlete. Van meets af hoor ek duidelik dat die Here sê dat Hy elke lid van die span met die hand uitgesoek het en ons op ‘n geestelike sending na die VSA oppad is.
By die Vader se voete word ek soos ‘n grammafoonplaat wat vashaak: Wat is die sending? Hoe moet ons dit uitvoer?
Al wat ek hoor, is dat ons ‘n boodskap moet aflewer en niks meer nie. Ek verstaan dit nie. Waarom my in die eerste plek van die opdrag sê, maar dan die plan verborge hou?
Ek sou egter weldra uitvind. Want die storie gooi toe ‘n onverwagte kinkel.
Uit die modder gesleep
Die ontwerper van die T-hemde, wat ons tydens die weeklange kampioenskap sou dra, was met die agtergrond van elke spanlid bekend.
En dit was nie ‘n staatsgeheim dat meeste van ons omstandighede moes oorkom wat deelname eintlik onmoontlik moes gemaak het nie.
Ekself was ‘n klompie jare tevore bloot ‘n gewone langafstand drawwer. In daardie tyd doen ek ‘n liesbreuk op wat met die bestaande mediese ingryping onherstelbaar was.
Gevolglik dra ek vir ‘n paar jaar lank ‘n kontrepsie om my maag en loop soos Charlie Chaplin. Ek het aanvaar dat ek nie weer aan sport sou kon deelneem nie. Nuwe tegnologie red my egter.
Na die lang periode van niksdoen, lyk ek kompleet soos ‘n drilvis met bleekbene.
Ek begin met gewigte in my garage oefen sodat ek in nie die badkamer vir myself agter ‘n handdoek hoef weg te kruip nie.
Sonder dat ek dit aanvanklik agterkom, skryf die Here ‘n vars storie in my lewe en kleur dit volgens sy beskikking in.
My ietwat vreemde en uitdagende reis blyk later soortgelyk aan die meeste ander spanlede s’n te wees.
Die t-hemp van hoop
Ons word ‘n klomp onwaarskynlikes bymekaar wat realisties gesproke nooit op internasionale vlak moes kon deelneem nie.
Die ontwerper van die t-hemde wil die bemeestering van ons opdraende pad as die span se identiteit vasmaak.
En sodoende ook ‘n boodskap van hoop uitstuur.
Gevolglik besluit hy om die bekendste vers uit die ikoniese gedig Invictus agter op die ruggedeelte van die t-hemde onder die landsvlag te druk.
Die ryke betekenis van hierdie vers kan ons egter net verstaan indien ons weet waaroor die gedig handel.
Uit pyn gebore
In 1875 op 26-jarige ouderdom skryf die wêreldbekende Engelse digter en skrywer, William Ernest Henley die gedig Invictus wat in Latyn Onverowerde beteken.
Die gedig verwoord die belewing van sy verskriklike liggaamlike lyding wat hy op daardie tydstip toe alreeds vir veertien jaar ervaar, maar wat nie sy gees kon vernietig nie.
Nieteenstaande sy beproewings word vertel dat sy stralende geaardheid met ‘n ontembare vuur en lewenskrag almal meegesleur het.
Sy lagbuie was soos musiek wat mateloos deur ‘n kamer tuimel.
Sy moeilikheid begin toe hy as twaalfjarige seun met been-tuberkulose gediagnoseer word. Dit is ‘n tuberkulose wat vanaf die longe na die skelet versprei het.
Donker dieptes
Die volgende klompie jare beleef hy periodes van uiterste pyn soos absesse gereeld gedreineer moet word.
Uiteindelik is daar geen ander keuse as om sy linkerbeen op 20-jarige ouderdom onder die knie te amputeer nie.
Noodgedwonge moet hy lang periodes in hospitale deurbring. So land hy van sy 23ste tot 26ste jaar in ‘n hospitaal.
In hierdie tyd besluit die geneeshere dat sy enigste hoop op oorlewing daarin lê dat sy regterbeen ook afgesit word. Hy weier en betrek ‘n briljante chirurg wat sy been red.
Hierdie geveg vir sy lewe en redding van sy been word die doek waarteen Henley Invictus in die hospitaal skryf.
Hierdie tydperk lewer ook ‘n interessante meevaller op. Sy skrywersvriend, Robert Louis Stevenson besoek hom gereeld en baseer later die flambojante karakter Long John Silver met die houtbeen in sy alombekende boek Treasure Island op Henley.
Wêreldverhoog
Die gedig Invictus is redelik kort met net vier strofes.
Dit is egter met diep worsteling en hoop gelaai. Tot die mate dat dit na meer as ‘n eeu steeds gereeld deur wêreldleiers en gewone mense in skryfstukke en op openbare verhoë aangehaal word.
Dit word vertel dat Nelson Mandela ‘n afskrif van die gedig in sy sel op Robbeneiland bewaar het en gereeld vir inspirasie gelees het. Winston Churchill het ook glo hoop uit die gedig geput en is dit deur Barack Obama in onlangse tye aangehaal.
Vir ons storie is veral die eerste en die laaste strofe daarvan belang.
Want dit is waar die kurfbal lê wat God in die hart van hierdie gedig deur ons as spanlede gegooi het.
En dis ook waar ons die waarheid van Paulus se woorde sal sien wanneer ‘n geheim in die gedig ontrafel word.
Ek plaas die hele gedig, want vir sommige van julle sal elke woord ‘n vastrapplekkie in jou siel kry.
Sy worsteling was immers dalk jou worsteling, en sy pyn dalk jou pyn.
Invictus
Strofe een:
Out of the night that covers me,
Black as the Pit from pole to pole,
I thank whatever gods may be
For my unconquerable soul.
Die gedig skop af deur te vertel dat Henley se siektetoestand hom soos ‘n pikdonker nag toevou. In die laaste twee verse bied hy ‘n belangrike lens waardeur die res van die gedig verstaan moet word.
Hy vertel dankbaar dat hy van iewers buite homself krag ontvang het sodat sy siel nie onder hierdie vernietigende donkerte geknak het nie.
Hy verwys na die bron daarvan as “whatsoever gods”. Dit speel later ‘n belangrike rol in ons storie.
Dieper delf
In die volgende twee strofes sien ek iets van Paulus wat staande bly al verduur hy die verskriklikste aanslae:
In the fell clutch of circumstance
I have not winced nor cried aloud.
Under the bludgeonings of chance
My head is bloody, but unbowed.Beyond this place of wrath and tears
Looms but the Horror of the shade,
And yet the menace of the years
Finds and shall find me unafraid.
Uitkoms
Die laaste strofe móét in die lig van die heeleerste strofe geïnterpreteer word. Anders suggereer dit bloot die selfverheerliking van die eie ek.
Die laaste twee verse van Invictus sal julle besef, is die bekende gedeelte wat wêreldwyd aangehaal word.
Strofe vier:
It matters not how strait the gate,
How charged with punishments the scroll
I am the master of my fate:
I am the captain of my soul.
Ingryping
Die ontwerper van ons t-hemde kies gevolglik die vers I am the master of my fate op die rugkant omdat dit universeel maklik herkenbaar sou wees.
Die ontwerp word na ons almal vir finale goedkeuring aangestuur. En hier kom die kurfbal.
‘n Gelowige spanlid van Oos-Londen, vertel my later dat die moment waarop sy die bewoording sien, die Here vir haar wys hoe die vers verander moet word.
Weggesteek
In daardie vers was nog altyd ‘n verskuilde boodskap wat niemand ooit raakgesien het nie. Die digter inkluis.
Hy was bewus en dankbaar daarvan dat hy krag van êrens af ontvang het, maar het self nie lekker geweet van waar nie.
Maar om die sluier te lig, moet ons eers ‘n draai in die ou testament maak. Kom ons lees:
Exodus 3:13
13 Moses said to God, “Suppose I go to the Israelites and say to them, ‘The God of your fathers has sent me to you,’ and they ask me, ‘What is his name?’ Then what shall I tell them?”
14 God said to Moses, “I AM WHO I AM. This is what you are to say to the Israelites: ‘I AM has sent me to you.’ ”
15 God also said to Moses, “Say to the Israelites, ‘The Lord, the God of your fathers—the God of Abraham, the God of Isaac and the God of Jacob—has sent me to you.’ This is my name forever, the name you shall call me from generation to generation.”
Onthul
In die geestesoog van ons Oos-London spanlid verander die vers toe soos volg:
I am the master of my fate
na:
I AM, the MASTER of my fate
(God, die Beskikker van my lot)
Meteens word onthul watter rol God as Beskikker in ons lewens speel.
Ontdek ons waar ons krag en onoorwinlike gees werklik vandaan kom.
Besef ons dat Hy in Sy liefde ons toedek. Dat ons in Hom meer as oorwinnaars is.
Almal in die span was dit eens dat ons as Suid-Afrikaners hierdie boodskap na die wêreld wou uitdra.
Opstaan uit die as
Om die spilpunt van daarvan te wees, kies God ‘n spanlid vir wie dit op buitengewone wyse waar was.
Ontmoet Jan. Hy word in sy laat twintigs na ‘n mislukte rooftog tot meer as tien jaar gevangenisstraf gevonnis. Na jare in die tronk tref dit hom dat hy sy lewe weggesmyt het en sy beste jare agter tralies geslyt word.
Hy wou nie langer leef nie en beraam ‘n plan om sy eie lewe te neem.
Wanneer hy op die punt staan om selfdood te pleeg, beleef hy op ‘n bonatuurlike wyse ‘n ontmoeting met Jesus Christus. Hy ervaar ‘n liefde en ‘n vergifnis wat hom tot ‘n nuwe mens omskep.
Hierdie ontmoeting met die lewende Christus oortuig hom dat sy lewe kosbaar is en hy dit moet bewaar. Nietemin was die wete dat hy nog soveel jare in die tronk moes deurbring, ‘n swart put wat gedreig het om hom in te sluk.
Hy smeek die Here om hom iets tasbaars te gee waarvoor hy kon lewe om sy dae in die tronk draaglik te maak.
Nuwe visie
‘n Week later daag ‘n privaat sportorganiseerder by die tronk op met die visie dat hy deur sport ‘n verskil in gevangenes se lewe wil maak. Hy ontvang toestemming van die owerhede en verkry borge vir die toerusting.
Dit was die uitkoms waarna Jan gesmag het. In die gevangenis word hy, sonder dat iemand buite die tronk dit eintlik weet, ‘n atleet van nasionale gehalte.
Ek ontmoet Jan so agt maande nadat hy reeds sy volle tronkstraf uitgedien het. Hy is ‘n saggeaarde reus wat die skaal hier digby 150kg trek. Jy kon nie in sy omgewing wees sonder om ‘n liefdevolle aanraking van Christus te ervaar nie.
So neem Jan neem aan die Nasionale Kampioenskappe deel en word vir ons span na die VSA gekies. Daar was net een probleem. Met sy kriminele rekord sou hy nie ‘n sportvisum kon kry nie.
Dawid teen Goliat
Maar Jan was op daardie stadium reeds ‘n man van uitsonderlike geloof. Hy reken dat God groter is as enige uitdaging wat ‘n mens voor hom kan lê.
Saam met die sportorganiseerder van destyds besoek hy die konsulaat vir sy verpligte onderhoud.
Die onverklaarbare gebeur en sy visum word goedgekeur.
Vir Jan is dit net nog een van God se vele wonderwerke in sy lewe.
Die plan
In die VSA het ek eers besef hoe God hom spesifiek wou gebruik.
Visualiseer hierdie prentjie. Die breedte van Jan se skouers is ten minste drie van my eie langs mekaar ingepak. Wanneer hy ‘n t-hemp dra, lyk sy rug so groot soos ‘n advertensiebord.
Gedurende die kampioenskappe het Jan elke dag gehoorsaam in die rye stoele voor die podium gaan sit.
Die televisie-kameras kon nie hom of die woorde op sy rug mis nie.
So word God se boodskap die wêreld ingestuur deur ‘n geredde rower en tronkvoël wat eens op ‘n tyd moedeloos sy eie lewe wou neem.
Elkeen in die span het vier bykomende t-hemde saamgeneem wat ons aan deelnemers reg oor die wêreld uitgedeel het. So weet ek dat een van my t-hemde na Fiji gereis het waar God ook wou verklaar dat Hy die Beskikker van hulle lot is.
Die wedstryd
Voordat ek afsluit, ‘n interessantheid. In 2008 vind nog ‘n gebeurtenis plaas wat direk met ons as Suid-Afrikaners en die gedig Invictus te doen het. John Carlin publiseer die boek Playing the Enemy: Nelson Mandela and the game that made a nation.
Die boek handel oor die gebeure vóór en ná die Rugby Wêreldbeker wat die Bokke in 1995 gewen het.
Clint Eastwood besluit om ‘n fliek daarvan te maak wat in 2009 ‘n lokettreffer word met Morgan Freeman as Nelson Mandela en Matt Damon wat die rol van Francois Pienaar as kaptein speel.
Die fliek word die naam Invictus gegee met verwysing na Henley se gedig.
Wandeling
Ek sluit hierdie boodskap met die geestelike allegorie, Footprints in the Sand af.
Dit maak nie saak of ek dit al oor dekades heen honderde kere gelees het nie. Telkens raak dit my hart omdat dit so treffend die Vader se matelose liefde vir ons uitbeeld.
Hiermee my Afrikaanse weergawe daarvan.
En terwyl jy lees, onthou: Maak nie saak hoe alleen jy voel nie. Maak nie saak hoe stukkend die lewe jou getrap het nie. Jy sal nóóit die liefde van Jesus Christus kan ontsnap nie.
Die prys wat Hy vir jou betaal het, was te duur dat Sy liefde jou sal oorslaan.
Voetspore in die sand
Een nag het ek gedroom dat ek saam met die Here op die strand wandel.
Verskeie tonele uit my lewe het verbygeflits. Vir elkeen kon ek voetspore in die sand opmerk.
Soms was daar twee stelle voetspore; maar ander tye net een. Gedurende die oomblikke van my ergste worsteling en kommer kon ek net een paar voetspore sien.
“Here,” het ek gesê, “U het belowe dat U altyd by my sou wees. Waarom dan, wanneer ek U die nodigste gehad het, het U my verlaat?”
Die Here het my hand in syne geneem. “My kind,” het Hy met trane in Sy oë gesê, “daardie tye wanneer jy net een ry voetspore oplet, is die tye wanneer Ek jou in my arms gedra het.”


