Vuursout
  • Tuis
  • Nuutste
  • Gedagtes
    • Waterbak
    • Soutbak
    • Vuurbak
  • Meerkat
    • Stories
  • Vulpenfles
    • Skryftegnieke
    • Boeke
  • Allerlei
    • Omtrent Myself
    • Saamgesels
    • Kontak
Geen Resultaat
Sien alle resultate
Vuursout
  • Tuis
  • Nuutste
  • Gedagtes
    • Waterbak
    • Soutbak
    • Vuurbak
  • Meerkat
    • Stories
  • Vulpenfles
    • Skryftegnieke
    • Boeke
  • Allerlei
    • Omtrent Myself
    • Saamgesels
    • Kontak
Geen Resultaat
Sien alle resultate
Vuursout
Geen Resultaat
Sien alle resultate
Tuis Skryftegnieke

Skryf 3 – ‘n Roman se bogrondse struktuur (brokkelblad)

SKRYFTEGNIEKE

deur Christo Jordaan
19 Mei 2024

Sinopsis en ‘n brokkelblad loop hand aan hand. Maar wat presies is ‘n Brokkelblad? Die Engelse beskrywing verklap die geheim. Beat Sheet.

A. Brokkelblad

Die Afrikaanse beskrywing Brokkelblad is selfbedink. Jy mag dus vraend aangekyk word indien jy in gewone skryfkringe beterweterig na ‘n Brokkelblad verwys.

1. Ontstaan

Hoe het brokkelblaaie ontstaan?

Van Griekse tye af het Westerse stories ‘n sekere vorm of dinamika aangeneem wat deur die eeue al hoe meer gesofistikeerd geraak het. In moderne kommersiële genres het skrywers oor dekades heen sekere herhalende momente geïdentifiseer wat in bykans alle romans voorkom.

Dit bring mee dat moderne lesers aan sekere patrone in fiksieboeke gewoond geraak het en word hulle leessug bevredig indien die patroon gevolg word.

2. Definisie

‘n Brokkel op ‘n brokkelblad is ‘n dinamiese eenheid in ‘n roman wat uit een of meerdere tonele of selfs hoofstukke bestaan wat saam die doel van daardie brokkel daarstel.

‘n Brokkelblad sorg dat jou storie se dinamika en tydsberekening reg verloop sodat dit byval by die leser vind. Dit is nie ‘n rigiede formule nie, maar ‘n waardevolle hulpmiddel, in besonder vir beginnerskrywers.

3. Tipes brokkelblaaie

Twee soorte brokkelblaaie bestaan, naamlik algemene brokkelblaaie en voortspruitend daaruit, brokkelblaaie wat spesifiek vir die onderskeie genres ontwerp is.

Verskeie algemene brokkelblaaie kan in skryfboeke en op die internet gevind word wat grootliks dieselfde onderbou het. Moontlik het jy al van brokkelblaaie soos die Hero’s Journey, of Save the Cat of die Micheal Hauge Beat Sheet gehoor.

Sommige brokkelblaaie identifiseer ses dinamiese momente in ‘n verhaal terwyl ander tot soveel as sewentien brokkels uiteensit (wat vir ‘n beginnerskrywer dalk meer van waarde mag wees).

Later in die reeks loer ons in diepte na brokkelblaaie, maar vir hierdie lesing wil ons slegs die begrip in ‘n neutedop vestig.

B. Struktuur van brokkelblad

Om die inhoud van die lesing sinvol te volg, is dit noodsaaklik dat die onderstaande Brokkelblad-diagram byderhand gehou word. Laai dit gerus af.

Ons almal ken die Griekse drie-bedryf: begin, middel, einde. Moderne boeke bestaan uit vier ewe groot dele deurdat die middelgedeelte in twee gedeel word.

1. Begin

Die eerste bedryf, begin of kwart van ‘n boek bestaan uit die gewone wêreld van die held.

a. In die eerste toneel word ‘n geurige stuk aas voor die neus van die leser geswaai om hom in die wêreld van die held in te KATROL en nuuskierig daar te hou.

b. Tien persent weg in die verhaal is daar ‘n gebeurtenis wat die storielyn met ‘n VUURVONK aansteek.

c. Teen die middel van die eerste bedryf word die held teen wil en dank met ‘n HAAKSTOK daarby ingesleep.

d. Teen die einde van die eerste bedryf moet die held besluit of hy gaan wegstap of die EERSTE DEURDRUMPEL oorsteek wat hom op ‘n pad plaas waarop hy nie kan omdraai nie.

2. Middel (eerste deel)

Die tweede bedryf of 25-50% middelgedeelte sleep die held by aksie in.

a. Wanneer die held die drumpel kruis, beleef hy die een krisis na die ander en voel dit asof hy in DRYFSAND wegsink terwyl hy homself moet verdedig.

b. Broos en blootgestel, slaan sy nemisis toe en word die held byna in die EERSTE SLAGYSTER vernietig.

3. Middel (tweede deel)

In die derde bedryf of 50-75% middelgedeelte moet die held die keuse maak of hy, ondanks sy hulpelose toestand, sy nemisis die stryd gaan aansê.

a. In die middel van die verhaal en bloeiend moet die held besluit of hy as ‘n oorwonne slagoffer opgee. Na bepeinsing besluit hy om nie sy lot te aanvaar nie en trek die HEFBOOM om ‘n aanval van sy eie te loods.

b. Vasberade bedink hy ‘n STRATEGIE om ‘n verdere geveg met die nemisis af te dwing.

c. Die nemisis uitoorlê hom egter in die TWEEDE SLAGYSTER en alles lyk verlore.

4. Einde

In die vierde bedryf of 25% eindgedeelte vind die finale veldslag en afloop in die verhaal plaas.

a. Dit bring die held voor ‘n TWEEDE DEURDRUMPEL waar hy alles wat met hom gebeur het in oënskou neem, ‘n ander werklikheid bedink asook krag in homself vind. Met nuutgevonde insig en groei as mens en in karakter durf hy teen alle verwagtinge die onmoontlike aan.

b. Die EINDSPEL neem in aanvang en lyk dit eers asof die nemisis gewen het.

c. Die held maak egter ‘n finale skuif maak om sy nemisis SKAAKMAT te sit.

d. In die laaste gedeelte van die roman vind die AFLOOP plaas waar al die drade bymekaar kom.

Liefdesverhale

Indien jy dalk reken dat die brokkelblad hierbo geensins na die dinamika van ‘n liefdesverhaal en sommige van die ander genres lyk nie, kan ons jou gerusstel dat die algemene brokkelblad met groot sukses vir alle genres aangepas is en sulke brokkelblaaie vrylik beskikbaar is. Later in die reeks bekyk ons spesifiek liefdesverhale.

C. Tonele

Indien jou storie-sinopsis goed ontwikkel is, word dit aansienlik makliker om tonele op die onderskeie brokkels van jou brokkelblad te plaas. Tonele is die stam van jou boontjierank en die lewensbloed wat jou intrige of plot voortdryf.

1. Aard van tonele

Ons dink dikwels ons weet presies wat ‘n toneel is, maar is dit in werklikheid aansienlik meer ingewikkeld as wat ons onsself voorstel. Bygesê is tonele aansienlik minder intimiderend indien ons eers die dele daarvan verstaan.

Wat beginnerskrywers veral verwar, is dat bekwame skrywers tonele aanmekaar heg, skerftonele tussen-in druk en allerhande skryftegnieke gebruik wat die onderliggende struktuur verdoesel.

2. Onderskeid tussen Stokers en Piekers

Die intrige of plot word hoofsaaklik deur twee tipes tonele gedryf: Stokers en Piekers.

a. STOKERS

Dink aan ‘n Stokertoneel as stoker op ‘n stoomtrein wat in die dae van die Cowboys, die vuurkas so vinnig moontlik stook om by die volgende stasie uit te kom, terwyl ‘n rowerbende te perd die trein aanval.

Eenvoudig gestel bestaan ‘n Stokertoneel uit ‘n doelwit, obstruksie en gevolg.

b. PIEKERS

Die Piekertoneel is waar die stoker swaarmoedig op die verlate treinstasie sit en oorpeins wat hy volgende moet doen. Die rowers het die geldwa afgehaak, die drywer en vyf passasiers doodgeskiet, die trein se stoomketel vol gate geskiet en die telegraafmasjien op die stasie werk nie.

‘n Piekertoneel bestaan uit ‘n emosionele reaksie, oorweging van die situasie en ‘n besluit.

Samehang

Op grond van die besluit in ‘n pieker-toneel, volg weer ‘n doelwit en so volg Stokers en Piekers mekaar in die manuskrip op. Afhangende van waar Stokers en Piekers as tonele op die Brokkelblad geplaas word, sal hulle aard verskil alhoewel hulle as tipe dieselfde sal bly.

Later in die reeks kyk ons na vyftien verskillende soorte tonele wat sal help om ryke geur en kleur aan jou verhaal te verleen.

‘n Pieker sal tipies as onderbou vir ‘n toneel by die Tweede Deurdrempel gebruik word en gewoonlik as ‘n epifanie-pieker of geestes-verhelderende toneel.

Hier kyk die held terug na alles wat met hom gebeur het, besef hoe hy karaktergewys gegroei het en ‘n nuwe realtiteit ontstaan van waartoe hy in staat is met die keuse om teen alle verwagtinge in die onmoontlike aan te durf.

D. Skryfkwasse

1. Soorte

Tonele word met ‘n verskeidenheid skryfkwasse ingekleur wat mettertyd in die reeks indringend bespreek sal word. Op die brokkelblad se diagram is dit die blare van die boontjieplant:

a. Dialoog

b. Aksie

c. Beskrywing

d. Vertelling

e. Opsomming

f. Inligting

g. Emosie

h. Sintuie

i. Introspeksie

j. Oorgang

k. Herinnering

2. Skeppingskrag

Dink aan jouself as ‘n skilder met ‘n palet van elf kleure op jou skoot. Jy kan die doek in hierdie elf kleure of enige kombinasie daarvan skilder. Soortgelyk kan jy ‘n toneel met elf skryfkwasse inkleur.

Behoorlike begrip en gebruik van die elf skryfkwasse is uiters belangrik om volrond tonele te skryf. Nie net sal die aanwending van skryfkwasse jou penvaardighede dramaties verbeter nie, maar jou instaat stel om ander skrywers se werk te ontleed teneinde hulle tegnieke te bemeester.

Tegniek is die betekenisvolle vermenging van kleure om effek te skep.

3. Inkleur van skryfdoek

Dink aan Piekers en Stokers as die onderliggende struktuur van ‘n toneel vergelykbaar met ‘n potloodskets wat jy op ‘n verfdoek maak om die aanvanklike beeld oorhoofs vas te vang. Met die verfkwasse as hulpmiddel rond jy die skildery tot sy prag af.

Soortgelyk word skryfkwasse gebruik.

Die onderliggende struktuur (tipe stokers of piekers) gaan bepaal watter skryfkwasse jy gebruik. Sekere skryfkwasse hoort byvoorbeeld beter by Stokers en ander by Piekers. In toekomstige lesings verduidelik ons hoe en waar om die onderskeie skryfkwasse te gebruik.

E. MRE’s

Die laaste struktuur wat ons in hierdie lesing aanraak, is MRE’s of Motivering-Reaksie-Eenhede.

MRE’s is klein blokke van oorsaak en gevolg wat mekaar logies binne ‘n toneel opvolg.

Beskou dit as onsigbare golfies wat patroonmatig deur ‘n toneel spoel. Verkeerd op mekaar gepak, versteur dit die ritme van ‘n toneel en veroorsaak ‘n leeshindernis.

MRE’s mag op sigswaarde ingewikkeld voorkom, maar eenvoudig gestel,kom dit daarop neer dat die karakter eksterne inligting (stimilus) deur enige van sy vyf sintuie (motivering) ontvang wat dan sekere reaksies in vaste volgorde veroorsaak, naamlik eerste ‘n emosie of gevoel, opgevolg met ‘n aksie/handeling en laastens spraak.

Byvoorbeeld: Die happie vis in Jan se mond smaak soos vrot eier (stimilus-sintuig-motivering). Naar (gevoel) en gewalg (emosie), spoeg (aksie) hy die stuk uit. “Ughh, sies!” roep hy uit (spraak).

Nie al die reaktiewe elemente hoef teenwoordig te wees nie. Byvoorbeeld: Die happie vis in Jan se mond smaak soos vrot eier. Hy spoeg die stuk uit.

F. Laastens

Op hierdie tydstip moet twee insigte diep in jou binnesak weggebêre wees:

a. Eerstens dat daar ‘n organiese werkswyse bestaan hoe ‘n manuskrip benader word en hierdie proses by ‘n vaste punt of idee begin wat stelselmatig uitgebou word totdat die geheelverhaal neergepen is.

b. Tweedens dat verskeie skryfstrukture en prosesse bestaan om te verseker dat jy tydens die skryfproses op koers bly en nie deur die enorme omvang van die manuskrip oorweldig word nie.

In die volgende twee lesings kyk ons waar idees vir ‘n manuskrip vandaan kom en hoe ons kan weet dat dit vir ons manuskrip sal werk.

Wil jy na die video van die lesing kyk?

Play Video

Ontvang nuutste plasings

Etikette: brokkelbladskryftegniekevulpenfles
DeelTweetPin
Vorige Artikel

Skryf 2 – ‘n Roman se ondergrondse struktuur

Volgende Artikel

‘n Voetsool vir jou boks

Volgende Artikel
Houtboks met opgeboude skoen

'n Voetsool vir jou boks

Kronkelpad

Waarheen kronkel jou paadjie?

Kommentaar 1

  1. HV says:
    12 maande tevore

    Ek het ‘n hele paar nuwe terme geleer.

    Jou gemaklike skryfstyl maak die inhoud baie toeganklik vir die oningewyde. Dit verg dus min moeite om waarde uit jou kundigheid/insig te put.

    Knap poging!

Vuursout

© 2024 C Jordaan - Kragkos vir siel en gees

Inligting

  • Omtrent Myself
  • Voorwaardes
  • Privaatbeleid
  • Kontak

Sosiale Media

Welcome Back!

Teken aan in jou rekening hieronder

Forgotten Password?

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Teken aan

Add New Playlist

Geen Resultaat
Sien alle resultate
  • Tuis
  • Nuutste
  • Gedagtes
    • Waterbak
    • Soutbak
    • Vuurbak
  • Meerkat
    • Stories
  • Vulpenfles
    • Skryftegnieke
    • Boeke
  • Allerlei
    • Omtrent Myself
    • Saamgesels
    • Kontak

© 2024 C Jordaan - Kragkos vir siel en gees