Hoe en waar kry ek bruikbare idees vir ‘n roman? Dit is ‘n vraag wat dikwels by slypskole opduik.
Dis hoogs sinvol om te vra, maar nie so maklik om te antwoord nie. ‘n Idee mag wonderlik op die oor klink, maar in praktyk nie vir ‘n manuskrip deug nie.
Hoe sal jy dus weet of ‘n spesifieke idee vir jou manuskrip gaan werk, veral indien jy nog nooit ‘n roman geskryf het nie?
A. Algemeen
1. Saad
‘n Idee is die kernsaad waaruit jou hele manuskrip ontvou. Dis die platvorm waarop jou verhaal organies ontwikkel. ‘n Goeie idee sal verhoed dat jou manuskrip in die middel van die skryfproses soos ‘n oondkoek platval.
2. Griekse oorsprong
Die woord “idee” kom uit die Grieks waar die woord vorm, patroon of gestalte beteken.
Die stamwoord van idee beteken “om te sien”.
Die dinamika daarvan kan met die volgende prentjie vergelyk word: Jy staan iewers op die Karoovlaktes en staar doer in die vertes. Dan stadigaan begin jy op die horison die gestalte van ‘n man op ‘n perd uitmaak.
Mettertyd sal jy sien hoe die gestalte of idee van ‘n man op ‘n perd deur prikkeling en assosiasie geskep word. So baan ons doelgerig ‘n pad na ‘n idee, maar ander kere is ‘n misterieuse proses betrokke waar ‘n idee spontaan in jou siel gebore word.
3. Verskuil in unieke self
Voordat ons egter by al die boute en moere uitkom, moet jy ‘n stukkie insig omtrent jouself verwerf wat ‘n rol by idees speel.
Jy is uniek op hierdie aardbol.
Deur jou genetiese samestelling, is jy ‘n kreatiewe uitdrukking van die heelal wat nêrens gedupliseer word nie. Blootstellings en ervarings maak jou nog verder enig in jou soort.
Dit beteken jy staan met ‘n besondere invalshoek teenoor ‘n idee wat niemand anders presies so kan beleef nie.
Ek hou daarom van die gedagte dat idees ‘n kosbare geskenk aan jouself is omdat jy die beste persoon is om uitdrukking daaraan te gee. Maar terug na waar die tekkie op die teer klap.
4. Idee as vonk
Miskien het jy al êrens gehoor dat ‘n idee, die vonk is wat die vuur vervlam.
Twee waarhede kruip in hierdie stelling weg en albei het te doen met die feit dat ‘n idee jou tot aan die einde van die manuskrip moet kan dra.
4.1 Eerste waarheid:
Die idee moet jou energeer; jou opgewonde maak:
a) Die vingers daarvan moet vroetel waar jou passies ronddans. Vra jouself of jy oor ses maande, ‘n jaar of twee jaar nog steeds opgewonde oor die idee gaan wees? Dit is hoe lank manuskripte neem om geskryf te word.
b) ‘n Idee kan vir die afskop wonderlik klink, maar jou manuskrip is ‘n flou makou indien die skryf van die manuskrip slegs intellektuele inspanning verg en met niks dieper in jouself vervleg nie.
c) Moenie jou passie vir ‘n pot lensiesop verkoop nie. Vir boekverkope is dit goed om na die heersende onderwerpe van die dag te kyk omdat lesers se belangstelling daar lê. Maar is dit regtig waaroor jy moet skryf?
En vergeet daarvan dat jy jou leser kan flous. ‘n Gebrek aan passie se broek hang altyd op die enkels.
d) Het jy al êrens die advies gehoor skryf waarvan jy weet”. Sonder om te oordeel of dit goeie advies is, wil ek eerder aanbeveel skryf wie jy is en daarmee bedoel ek skryf wat in jou hart lê. Dit is die vinnigste pad na ‘n boek wat vars klink en met lewe pomp.
e) Om te weet waaroor jy passievol voel, sal beteken dat jy diep binnekant jouself kyk:
i) Waaroor gee jy werklik om?
ii) Wat is jou lewensuitkyk?
iii) Wat is jou vrese en waar kom dit vandaan?
iv) Waarom is jy die persoon wat jy vandag is?
v) Wat het jou gevorm?
vi) Waarvan hou jy of wat interesseer jou, en hoekom?
vii) Hoe sou jy die wêreld wou verander indien jy kon?
4.2 Tweede waarheid:
Die vonk moet die ruggraat vir ‘n hele manuskrip ontsluit.
a) Dalk is jou idee net kragtig genoeg om ‘n kortverhaal of novelle te dra. Kortweg gestel, moet jy jouself die vraag afvra of die idee genoeg konflik kan ontketen om vele tonele te dra.
b) Die volgende twee scenarios illustreer die verskil:
i) ‘n Mamma moet besluit of sy haar vyfjarige seun sal pakgee omdat hy met vetkryt op die mure geskryf het ondanks die feit dat lyfstraf nie toelaatbaar is nie.
ii) ‘n Mamma moet besluit hoe sy in die toekoms met haar vyfjarige seun gaan saamleef nadat hy die gesin se pasgebore babadogtertjie versmoor het omdat hy jaloers op haar was.
Wil jy eerder na ‘n video van die praatjie kyk?
B. Idee in bruikbare vorm gegiet
Dit bring ons by die vorm waarin jou idee gegiet moet word om uiteindelik ‘n volledige manuskrip te ontsluit. Indien jy reeds slypskole bygewoon het, sal jy weet dat konkrete idees in verskillende vorme lewenslig kan sien.
1. “Wat as?”-vraag
Die mees algemene vorm is die vraag “Wat as?”.
Dis as ‘n voorafstelling of premise bekend.
Dit is die ideale bousteen vir die ontwikkelingstappe waarna ons later in die reeks sal kyk. Kom ons loer vlugtig weer na die boontjierank-diagram om ons van die groeifases van die romanstruktuur te vergewis:
Jy sou merk dat die aanvanklike ontwikkeling van ‘n manuskrip soos volg plaasvind:
idee → loglyn → konsep → storie-sinopsis
2. Onderskeid
Om die konsep van ’n idee beter te begryp, tref ons voorts ‘n onderskeid tussen:
a) aan die een kant stimulus/gedagte/inspirasie; en
b) aan die anderkant idee as die “wat as?”-vraag.
3. Definisie stimulus
Enigiets wat soos ‘n idee klink, maar nie as ‘n “wat as?”-vraag geformuleer kan word nie, sal ons as ‘n stimulus/gedagte/inspirasie tipeer.
Sien stimulus/gedagte/inspirasie derhalwe as ‘n potensiële idee wat nog nie sy Red Bull-stropie gedrink het om vlerke te kry nie.
4. Waarde van “wat as”- vraag
Kom ons kyk in meer in diepte waarom die dinamika van die “wat as”-vraag so goed vir stories werk.
4.1 Onsekerheid
Die mens rig sy bestaan in om ‘n omgewing met sekerheid te skep. Op ‘n onbewuste vlak leer ons heeltyd uit die omgewing rondom ons teneinde ons eie situasie te beveilig.
Met beveiliging word ‘n vaste patroon of struktuur bedoel waarop ons kan staatmaak. In stories word daardie patroon of struktuur versteur wat onsekerheid skep.
Onwillekeurig word die leser meegesleur met die vraag hoe die status quo herstel gaan word of uitkoms in die krisis gaan plaasvind. Die onsekerheid skep ‘n gevoel van afwagting en opwinding waarna die leser smag om sy afgesaagde daaglikse bestaan woema te gee.
4.2 Twee aspekte
Die “Wat as?”–vraag moet twee aspekte aanspreek om die storiebal suksesvol aan die rol te sit:
a) Eerstens moet die normale of alledaagse gang versteur word.
b) Tweedens moet jou storie een of ander punt maak, wat dan as ‘n innerlike stryd in jou vraag opduik.
4.3 Praktiese voorbeeld
Dit mag ingewikkeld klink, maar is eintlik eenvoudig. Kom ons kyk na ‘n praktiese voorbeeld:
4.3.1 Stimulus
Jy lees in die koerant van ‘n getroude vrou wat gearresteer is nadat ‘n bron die polisie met inligting genader het dat hierdie vrou ‘n huurmoordenaar betaal het om haar man te vermoor.
Hierdie is ‘n stimulus wat jou aan die dink sit. Sê nou haar man sou toevallig uitvind dat sy vrou hom wil vermoor? Hoe sou hy daarop reageer?
4.3.2 Beklee met “Wat as”-vraag
Bedink nou die eerste deel van jou wat-vragie waarin die alledaagse versteur word:
“Wat as ‘n gelukkig getroude man uitvind dat sy vrou hom wil vermoor? “
Jy kan duidelik hoor hier is nog geen storie nie.
4.3.3 Punt van storie ingeweef
Bedink nou die (filosofiese) punt wat jy sou wou maak.
Veronderstel die man is ‘n Christen wat passievol glo dat elke persoon getrou volgens sy beginsels en oortuigings in liefde met andere moet saamleef. En hierdie oortuiging is vir hom ononderhandelbaar.
Jy wil egter die punt maak dat daar soms omstandighede mag bestaan wat regverdig dat so ‘n gelowige man van sy diepgewortelde waardes afwyk.
4.3.4 Gelaaide vraag
Daarom bepeins jy hoe hierdie kwessie ‘n interne wroeging in jou held sou kon veroorsaak. So ontstaan die volgende vraag:
Wat as ‘n godvresende getroude man uitvind dat die vrou waarmee hy al jare lank gelukkig getroud is, hom wil vermoor? En dit blyk dat die enigste manier waarop hy haar planne kan verydel, sal wees om haar eerste te vermoor ten einde homself te red.
Die wat-vraag is nou met plofkrag gelaai en kan ons die spanning aanvoel sonder dat ons die feite van die verhaal ken.
C. Afsluit
Ons gaan hierdie besondere wat-vraag van hierdie man in verdere praatjies uitbou en toets of dit oor genoeg woema beskik om tot ‘n storie-sinopsis te groei wat ‘n volledige manuskrip sal dra.
In die volgende praatjie kyk ons na waar stimuli vir idees gevind mag word.



A 4.2 (b) i en ii is ‘n besonder effektiewe verwoording van die punt wat jy wil maak. Andersins – insiggewend soos altyd!