Op ‘n weeksaand lank gelede lewer ek ‘n praatjie in ‘n naburige dorp. Oppad terug bars ‘n waterpyp in my kar se enjin.
Ek is ongelukkig nie een van daardie voorbeeldige persone wat die telefoonnommers van die AA, Nasionale Krisislyn en brandweer op my selfoon hou nie.
Gevolglik sit ek laatnag op ‘n stil donker pad met kwynende hoop.
Vir inspirasie beloer ek elke nommer op my selfoon asof dit ‘n wonderwerk wegsteek. Uiteindelik ontdek ek die naam van ‘n vergete werktuigkundige met ‘n hart van goud.
Ek lui hom wakker. Dit klink asof hy pas uit ‘n droom in sy REM slaap wakker geskrik het. Hy bied dadelik aan om my voertuig in te sleep. Beleef verneem ek of dit nie te veel moeite is nie. Hy sê nee, wag net, hy’s nou daar.
Ek hoor sy bakkie se kragtige gebrul voordat ek die ligte daarvan sien. ‘n Skrale kwartier het verloop. Ek onthou toe dat hy genoem het dat hy in sy jonger dae die Suid-Afrikaanse ovaalbaanwedren-kampioen was.
Hy praat nie veel nie.
Blitsig is die sleeptou hoogs vaardig gehaak. Met ons albei agter die stuur van ons onderskeie voertuie, werk hy die pedaal van sy dieselbakkie eers net ligweg om te bepaal hoeveel krag hy vir die die massa van my silwervoël benodig.
Ek kan die vibrasies van die brullende enjin in my sitplek voel.
Ons vlieg weg. Angsbevange beskryf nouliks my emosionele toestand oor die volgende klompie kilometers.
Het ek nie van beter geweet nie, sou ek sweer dat ons aan ‘n Dakar tydtoets deelneem. Onwillekeurig ruk-en-rol ek soos Elvis Presley agter die stuurwiel.
In sulke oomblikke soek jy passievol na die poorte van genade asof die dood brullend op jou voorstoep lê. Ek bely my sondes, pleit vir vergewing en verwyt myself dat my testament nie opgedateer is nie.
Elke sintuig in my liggaam funksioneer op noodtoestand.
Selfs net die geringste rooi flikkering van die bakkie se remligte laat my summier soos ‘n wafferse jokkie op die harde brieke staan. Dit kniehalter my insleepdiens slegs vlugtig voordat die kragtige dieselenjin weer vir silwervoël voortpluk.
My liggaamlike welsyn kom mettertyd onder skoot.
Behalwe vir harsingskudding van die bulry, begin my regterkuit ook pynlik kramp. Soos Naas Botha van ouds wat met beide voete kon skop, kruis ek later bene en trap rem met my linkervoet.
Uiteindelik stop ons voor sy werkswinkel.
Ek is papnat gesweet. Hy wil verbaas weet of ek warm kry, want dis nogal ‘n koelerige aand. Ek sê niks en bedank stilweg die leermag van engele wat my bewaar het.
Later peins ek oor die rit.
Met my voertuig aan die dieselbakkie vasgehaak, was ek voortgesleep met slegs die hoop om te oorleef. Is dit nie hoe ons meermale ons lewe sien nie? Ons, die slagoffer, weerloos aan gebeure en omstandighede rondom ons uitgelewer.
Maar is dit werklik so?
Waarom word sekere mense nie deur hulle uitdagings en beperkings vasgevang nie? Wat doen hulle anders? Kyk hulle dalk opgewonde na ‘n halfvol glas wat net volgetap kan word?
Wil jy eerder na ‘n video van die praatjie kyk?
As tiener het die storie van die wêreldbekende Suid-Afrikaanse en internasionale middelafstandatleet Sydney Maree, my geïnspireer om nooit te aanvaar dat ek sonder keuse in ‘n doodloopstraat vasgedruk sit nie.
Hy is in 1956 in Cullinan gebore. Sy grootste prestasie was toe hy in Duitsland die ikoon van middelafstande, Steve Ovett se wêreldrekord in die 1500 meter in 1983 met ‘n tyd van 3 min, 31,24 sekondes gebreek het.
Maar sukses het allermins in sy skoot geval.
Hy was bereid om verstommende opofferings te maak ten einde sy talent te ontwikkel.
In 1974 as skoolseun woon hy saam met sewe ander familielede in ‘n huurkamertjie in Atteridgeville, ‘n swart woonbuurt aan die westekant van Pretoria. Sy gesin veg deurlopend teen ondervoeding en hy slaap op ‘n sementvloer.
Die nabygeleë hoërskole was oorvol. Hy moes gevolglik óf sy opvoeding prysgee óf daagliks veertig kilometer na die tegniese skool in Vlakfontein reis. Hy kies laasgenoemde.
Soggens vyfuur staan hy op en draf 45 minute lank. Dit geskied te midde van die Soweto onluste in die apartheidsjare. So loop hy voortdurend die gevaar om in die onseker donkerte gearresteer of per abuis geskiet te word.
Daarna sou hy stort, die paar kilometer na die treinstasie hardloop, die trein haal, by sy bestemming afklim en nog ‘n paar kilometer skool toe hardloop. Smiddaes moes hy op dieselfde wyse huiswaarts keer.
Terug by hulle huurkamer het hy ‘n voorgeskrewe hardloopprogram van ‘n uur en ‘n half gevolg. Daarna sou hy in die koppies agter hulle woonbuurt op sy eie drafwerk doen.
Ten spyte van haglike omstandighede en min tyd om te studeer, behaal hy nietemin A en B simbole op sy skoolrapporte.
In die loop van my lewe sien ek telkens dieselfde fenomeen. Iets bonatuurliks gebeur wanneer ons weier om slagoffers te wees en drome groter as onsself najaag.
Dis asof die heelal neerbuig om ons behulpsaam te wees.
Talle persone vertel hoe hulle pad met Sydney as vreemdelinge gekruis het en hulle ‘n onverklaarbare drang ervaar het om hom te help. By ander persone het ‘n stil wete omtrent sy toekoms posgevat.
Friedeman Stut, ‘n Duitser en sportorganiseerder in Suid-Afrika het Sydney as skoolseun in Vlakfontein sien hardloop. Hy het dadelik teenoor ‘n kollega met oortuiging verklaar dat hulle na ‘n toekomstige Suid-Afrikaanse kampioen kyk.
Maar terug na jouself.
Wat sal met jou vasgeskroefde boksie gebeur indien jy vir ‘n paar asemteue van jou ouderdom, voorkoms of opvoeding as hindernisse tot jou drome kan vergeet?
Hier is nog ‘n kopkrapper.
Verbeel jouself dat daardie dieselbakkie wat jou saamsleep, nie die skoensool van die wêreld se verguising in jou lewe is nie, maar eerder jou passie wat wakker geword het. ‘n Passie waaraan jy onbevange vrye teuels kan gee.
Waarheen sou dit jou kon neem?
En daarmee die einde van ons praatjie.
Groete uit die solderkamer.
Beide kostelik en waardevol…