Miskien haat jy storiestruktuur as ‘n inhokboksie en klink loglyne al te veel na ‘n draadheining wat jou skeppende krag begrens.
En miskien is jy verkeerd.
Sélf geniet ek dit wanneer ‘n storie waaraan ek werk spontaan ontvou. Moontlik spruit dit uit die vrees dat die bekende my gaan verveel. Én, om met jou wilde perd oor ongetemde vlaktes te galop, klink darem só romanties.
A. Rebelse geit
Noem dit ‘n rebelse streep. Dit kom al ‘n lang pad.
My Afrikaanse skooljuffrou se goedbedoelde riglyne hoe om ‘n opstel te benader en te skryf, is hoflik geïgnoreer.
Nie sonder gevolge nie.
Met ‘n vyfhonderd-woorde-opstel as opdrag, het ek dikwels eers by 1500 woorde ontdek waaroor my storie handel. Gedurende eksamens was hierdie benadering ‘n gewisse nagmerrie. In die middel van my skryfstuk sou ek vinnig woorde tel en besef dat ek slegs twee sinne oor het om die hele tweede helfte en slot daarvan te vertel.
B. Vryheid en rigting
Ek het jare lank halsstarrig teen die waarde van struktuur geskop, maar op ‘n dag moes ek teësinnig toegee dat struktuur jou vriend en nie jou vyand is nie. Loglyne is deel van daardie struktuur wat jou juis vlerke gee om onbevange in lugstrome te baljaar.
Verbeel jouself dat jy in die middel van die oseaan in ‘n bootjie ronddryf sonder die vaagste benul in watter rigting jy moet roei. Loglyne is jou kompas na die naaste vasteland.
In hierdie lesing kyk ons slegs oorhoofs na loglyne en takel die praktiese sy daarvan in die volgende praatjie.
C. Geboorteplek
Loglyne het ‘n interessante geskiedenis. Dit kom uit die vroeë Hollywood filmbedryf voordat rekenaars en kunsmatige intelligensie die wêreld breinloos gelaat het. So het vervaardigers honderde draaiboeke aangekoop wat as harde kopieë in stoorkamers gebêre is.
Wanneer aan ‘n vars idee vir ‘n nuwe film gewerk is, moes draaiboeke met daardie tipe konsep in ‘n japtrap gevind kon word. Die kern of spilpunt van die draaiboekstorie is gevolglik in ‘n sin op die rugkant daarvan geskryf sodat dit maklik sigbaar sou wees.
D. Nut vir skrywers
Hierdie loglyne het ‘n vaste vorm gevolg wat skrywers later besef het nuttig vir die ontwikkeling van manuskripte gebruik kon word. Uit ‘n prakties oogpunt is loglyne van groot waarde. Dit dwing jou om werklik diep oor jou idee na te dink. In hierdie proses stoot jou saadgedagte worteltjies in die grond wat later ‘n hele verhaal anker.
Wil jy eerder na ‘n video van die praatjie kyk?
E. Diepste kern
By die skepping van ‘n loglyn hardloop ‘n kardinale vraag soos ‘n goue draad deur die proses.
Is die storie in my loglyn regtig waaroor my boek in sy diepste kern gaan?
Dis nogal ‘n belangrike vraag. Wanneer jy aan ‘n manuskrip werk kan jy maklik op vele afdraaipaaie verdwaal wat jou werklike storie afwater. Daar moet ‘n bergpiek wees waarna jy telkens kan opkyk.
Ter afskop gaan jy onseker wees oor wat regtig die kern van jou storie is. Dis doodnormaal en beklemtoon juis die waarde van ‘n loglyn.
Volkome tot die proses verbind, word jy gedwing om helder te dink en besef jy dat velerlei keuses jou in die gesig staar. Die proses kan jou maklik na ‘n ander storielyn lei wat eintlik die ware hoofstorie is, maar aanvanklik versluier was.
F. Goeie raad
Daarom, neem goeie raad. Jy wil dadelik wegvlieg en skribbelend jou fantastiese idee in ‘n manuskrip neerpen. Op bladsy dertig is jou hele storie eensklaps uitgeskryf en wonder jy waar die ander 60,000 woorde vandaan gaan kom.
Jou aanvanklike idee was nie genoegsaam deurdink nie.
Jy het nie besef dat skryfwerk se organiese ontwikkeling op goeie beplanning funksioneer nie. Kort gestel: die saad moet reeds die takke van die boom in sy DNA hê.
G. Doel
‘n Loglyn moet jou begelei en vrystel. Dit is die wind waarop jy sweef. ‘n Behoorlike loglyn sal jou met ‘n magdom van moontlikhede vir tonele in veral die middelgedeelte van jou manuskrip inspireer.
‘n Loglyn wat jou nie opgewonde maak, interessant en na sakke vol pret lyk nie, moet gevaarligte laat flikker.
Daarmee saam vra jouself af wat die storie in jou loglyn onderskei van al die ander stories wat jy al in daardie genre gelees het. Daar moet ‘n rede wees waarom ‘n leser jou boek tussen talle ander sal uitkies.
Moenie die proses afjaag nie.
Hou aan skaaf totdat jy tevrede is.
H. Grondreëls
Jordan Smith in sy boek, Finding the Core of Your Story volg vier grondreëls wanneer hy loglyne in twee primêre vorme giet.
a) Eerste reël:
Jou hoofkarakters moet in ‘n eenvoudige, maar betekenisvolle byvoeglike naamwoord-kombinasie beskryf word. Byvoorbeeld: superryk prokureur, korrupte regter, genadelose grondmagnaat, verveelde huisvrou
b) Tweede reël:
Geen naam van ‘n karakter mag in die loglyn genoem word nie. Saartjie Botha of Jan Poggenpoel is taboe, want die kern van jou storie moet eers gevind word, nie karakters se name nie.
c) Derde reël:
Jou loglyn moet eenvoudig wees. Jy gaan uitgelok voel om dit ingewikkeld te maak en subplots by te sleep.
Onthou dat bykans alle verhale uit ‘n hoofstorie en een of meer subplots bestaan. Skryf gerus jou komplekse gedagtes elders neer om vir die ontwikkelingsproses van die konsep te gebruik wat ons later in hierdie reeks behandel.
Jordan Smith maan skrywers om te onthou dat die A-storie die hoofstorie is wat primêr deur die hele boek loop en die eintlike rede is waarom die leser dit wil lees. Die subplot of B-storie is ‘n systorie wat die A-storie aanvul, maar altyd tweede viool speel.
d) Vierde reël:
Interne en eksterne konflik is die lewensbloed van enige roman. Jou loglyn moet die potensiële konflik uitdruk en dit moet van so ‘n aard wees dat dit jou vasvang.
Hier speel ironie dikwels ‘n ondersteunende rol. Ironie is storiegewys die samevoeging van twee dinge wat normaalweg nie saam hoort nie, soos ‘n karakter wat in ‘n situasie beland waaruit hy júís altyd wegbly, of karakters wat mekaar haat wat moet saamwerk om hulle span te laat wen.
Dink byvoorbeeld aan ‘n gesoute avonturier wat afgeleë oerwoude en verlate plekke alleen besoek omdat hy die samelewing haat. Na skipbreuk op ‘n eiland beland hy saam met ‘n ander klomp drenkelinge met wie hy in noue samewerking oorlewingsvaardighede moet aanleer of almal sterf.
I. Ter afsluiting
Met die agtergrond en aard van loglyne afgehandel, bekyk ons praktiese voorbeelde in die volgende lesing.
Hartlike groete uit die solderkamer.