Vuursout
  • Tuis
  • Nuutste
  • Gedagtes
    • Waterbak
    • Soutbak
    • Vuurbak
  • Meerkat
    • Stories
  • Vulpenfles
    • Skryftegnieke
    • Boeke
  • Allerlei
    • Omtrent Myself
    • Saamgesels
    • Kontak
Geen Resultaat
Sien alle resultate
Vuursout
  • Tuis
  • Nuutste
  • Gedagtes
    • Waterbak
    • Soutbak
    • Vuurbak
  • Meerkat
    • Stories
  • Vulpenfles
    • Skryftegnieke
    • Boeke
  • Allerlei
    • Omtrent Myself
    • Saamgesels
    • Kontak
Geen Resultaat
Sien alle resultate
Vuursout
Geen Resultaat
Sien alle resultate
Tuis Soutbak

Geroepe om voluit te leef

SOUTBAK

deur Christo Jordaan
26 November 2024
Geroepe om voluit te leef

Vra jouself af: Leef ek voluit?

Dalk val jou antwoord in een van die volgende vier kategorieë:

a) Genugtig, néé. Ek oorleef net van dag tot dag.

b) Soms kry ek dit reg, maar meestal is dit ‘n gesukkel.

c) Elke dag is ‘n splinternuwe avontuur. Ek kan nie wag om soggens wakker te word nie.

d) Of miskien vra jy: Wat word met voluit leef bedoel?

A. My storie

In 1988 word ek op ‘n ingrypende wyse met hierdie vraag gekonfronteer.

Dit skud my menswees tot in sy skoene. So erg dat ek twee jaar later my familie, die bekende en my uitgekapte toekoms agtergelaat om die vraag te beantwoord.

Ek sit ‘n hele jaar van my lewe daarvoor opsy.

In Januarie 1991 klim ek as ‘n jong man van ‘n Interkaapbus in George af. Al wat ek by my het, is twee tasse en die brandende begeerte om uit te vind wie ek is, sodat ek nie my lewe sou vermors nie.

Drie dekades later deel ek graag my ontdekkings. Hopenlik kan sommige van my insigte, boublokkies wees wat ook in jou muur se gaatjies pas.

B. Raamwerk

Gewoonlik onthul ‘n goeie speurverhaal eers al die ontknopings aan die einde. Maar ter wille van ‘n raamwerk skop ek dadelik met vyf waarhede af:

1) God het ons elkeen uniek, uitsonderlik en begaaf in ons andersheid geskep om oor die aarde te heers.

2) Van die oomblik wat ons verwek word, roep God as Skepper ons om in die volheid van ons geskape self te wandel. Om te wees wie Hy ons geskep het.

3) Ons Skepper is die enigste Een wat ons volkome ken en verstaan. Daarom kan ons slegs in ‘n verhouding met Hom waarlik ontdek wie ons werklik is.

4) Die omvang en besondere aard van ons elkeen se roeping ontvou soos ons in ons leeftyd deel van God se raadsplanne op aarde word.

5) ‘n Lewe wat voluit geleef word, is ‘n lewe van volkome oorgawe aan ons Skepper.

C. Jeremia

Wat hieromtrent sien ons in Jeremia se lewe?

Jeremia 1: 4 Die woord van die Here het tot my gekom: 5 “Nog voordat Ek jou gevorm het in die baarmoeder, het Ek jou geken; nog voordat jy uitgegaan het uit die moederskoot, het Ek jou geheilig. As profeet vir die nasies het Ek jou bestem.” 6 Daarop het ek gesê: “Ag, my Heer, die Here, kyk, ek weet nie hoe om te praat nie, want ek is nog ‘n kind.” 7 Maar die Here het vir my gesê: “Moenie sê, ‘Ek is nog ‘n kind’ nie, want na wie ook al Ek jou stuur, moet jy gaan, en wat ook al Ek jou beveel, moet jy sê.”

Wil jy eerder na ‘n video van die boodskap kyk?

D. Lewensvrae

Dit word ‘n lewens-veranderende oomblik wanneer ons besef dat daar ‘n Roeper is wat ons roep. Wanneer ons bewus word dat die Roeper voortdurend in ons harte fluister: Volg my.

Want Roeping verduidelik die omvang en rede vir ons menslike bestaan. Dit beantwoord al die waaroms in ons lewe. Wie is ek? Waarvoor is ek hier op aarde geplaas? Wat is die betekenis van my bestaan? Hoe leef ek my lewe voluit?

Niemand kan hierdie vrae omseil nie.

Ons is ten diepste bedraad om daaroor na te dink. Jy kan nie keer dat iets in jou na selfwaarde en betekenis smag nie. Jy wil ‘n verskil maak. Jy wil ‘n erfenis nalaat. Die Roeper as Skepper het ‘n begeerte in elkeen van ons geplaas om die doel waarvoor ons op aarde is te verwesenlik.

Selfs al glo jy nie in God nie, sal jy steeds die hunkering hê om vervuld te leef. Ervaar jy dit nie, verloor die wêreldse rykdom, mag, status, kennis en sosiale aanhang sy blinkgepoetste glans.

Jy raak depressief. Ontwikkel ‘n middeljare krisis.

E. Omskrywing

Van meets af is dit belangrik dat wanneer ek die begrip roeping gebruik, ons dieselfde daaronder verstaan.

Roeping is die waarheid dat God jou so kragtig na Homself roep dat in reaksie op Sy roepstem, jy alles wat jy is, alles wat jy doen en alles wat jy het, as ‘n dienskneg vir Hom as Skepper aanbied en dan in volkome oorgawe van jou unieke menswees tot Sy eer leef.

F. Omvang en vrug

Roeping het besliste gevolge. Dit herposioneer en anker jou lewe met ‘n bepaalde geestelike vrug. Dit verhoed dat wêreldse aansprake jou rondsleep, want jy leef in die teenwoordigheid van God, en uit Sy krag en wysheid.

Om in jou roeping te wandel is nie iets wat jy hier en daar vir ‘n tydjie doen nie.

Roeping strek oor jou hele lewe heen.

Die geheel van jou unieke self ontvou stelselmatig soos God dit stukkie vir stukkie aan jou openbaar en jy vrywillig deel van Sy raadsplanne op enige gegewe tydstip word.

G. Ontstaan

Soms word ons geleidelik van God se roepstem bewus. Ander kere is ‘n taai klap nodig. Iets moet ons skud.

Dikwels kom ons aanraking met roeping as ‘n yslike vraag, ‘n probleem, of ‘n krisis in ons lewe. Die impak daarvan roer ons diep aan die binnekant. Tot so ‘n mate dat ons bereid word om vir antwoorde buite ons doodgewone of alledaagse bestaan te soek.

H. Insig

Dis dan wanneer ons hierdie verhelderende oomblik beleef.

Ons kom tot die insig dat die lewe meer is as net die sloergang wat ons vasvang of die suksesse wat ons najaag. So gee ons die eerste tree in die rigting van God wat na ons uitroep.

I. Identiteit

Ons moet verstaan dat roeping ten diepste met ons identiteit verweef is. Wie is ek nou eintlik?

Reeds sedert ons geboorte bou ons ywerig aan ons identiteit. Dis deel van ons ingebore drang om ons menswees te ontsluit.

Verskeie faktore speel ‘n rol om identiteit te vorm:

a) Jou bewussyn.

Jy het die vermoë om oor kwessies na te dink, besluite te neem en ‘n koers vir jou lewe te kies.

b) Jou geslag en gene.

In ‘n sekere sin vou dit reeds ‘n padkaart in jou oop. Jy het sekere aangebore talente en vermoëns wat ‘n geskenk in jouself is. Jy is dalk musikaal of sportief. Dit beïnvloed jou siening van jouself.

c) Jou fisiese omgewing.

Om in die koue Alaska gebore te word, sal ander uitdagings aan jou stel as om in warm Afrika groot te word.

d) Jou gesin, gemeenskap en kultuur

Die sosiale omgewing waarin jy gebore word, speel ‘n groot rol.

Vanaf jou eerste asemteug word jy deur jou gemeenskap in ‘n boksie geplaas en ‘n etiket om jou nek gehang. Dikwels word ons wat die mense rondom ons van ons dink. Sou jy as ’n koninklike in Engeland gebore word, het jy ‘n ander beskouing omtrent jouself as die baba in die munisipale huisie.

Ek reken kinders het ‘n natuurlike aanvoeling vir die unieke aard waarmee God ons geskep het. Dan kom gebroke mense, en dalk was dit jou eie gesin, en vertrap dit in die grond. Of miskien word jou unieke aard deur mensgemaakte strukture en sisteme opgeslurp.

J. Stryd

Dit word ‘n stryd om jouself te sien hoe God jou sien. En jy besef nie dat die eerste stap moet wees om jou oë na ons Skepper te draai nie.

Jy raak vasgevang in ‘n verterende rebellie of opstandigheid of moedeloosheid diep in jou sielskamers – gebore uit daardie vae wete dat jy méér is as wat jy beleef. Amper onvermydelik trap jy in die wêreldse strik waarin menseregte en selfverheerliking alles is.

Herskep jouself, roep die gurus uit. Oral word jy gebombardeer met leuses soos jy alleen bepaal jou bestemming, volg net jou drome, glo in jouself glo en alles is moontlik, domineer of word gedomineer.

Jy raak só op jouself gefokus, dat jy doof word vir God se roepstem.

Jou enigste mikpunt word ‘n nuwe identiteit waarmee jy uit die verlede kan ontsnap. Of ‘n soeke na ‘n wêreldse geelwortel wat buite jou Goddelike roeping val, maar lyk asof dit jou pyn kan verlig.

Soos ‘n marmot op ‘n wieletjie woon jy elke denkbare selfhelpkursus by om ‘n superwese te word. Jy leer tegnieke en formules aan wat jou lewe moet verander. Jy ontwikkel ‘n opgepompte kapasiteit soos ‘n liggaamsbouer.

Maar uiteindelik is alles net spookasem. Die wolk verdwyn in jou mond. Môre het jy weer ‘n suikerhappie nodig.

K. Ware vryheid

Vasgevang in ‘n wêreldse perspektief besef jy nie dat beantwoording van God se roeping, juis volkome vryheid met ‘n uitnodiging tot die toekoms bring nie.

Wanneer jy op Sy roeping antwoord, is jy nie langer ‘n slagoffer as gevolg van wat met jou gebeur het, jou familiegeskiedenis, grootwordjare, omgewing en verkeerde besluite nie. Ons Skepper gebruik juis jou gebroke verlede as kosbare boublokke vir jou toekoms.

Jy beweeg weg van die plek waar jy jou identiteit sien as die ontmoetingsplek vir alles wat verkeerd in jou lewe geloop het. Daardie dinge waaroor jy geen beheer gehad het nie, nie self veroorsaak het nie of wat jou in ‘n stroom meegesleur het.

L. Sekerheid

Wanneer ons vir die wêreld se spookasem val, kom dit altyd met ‘n belofte van sekerheid. Wees net dapper. Staan op. Besluit doelgerig waarheen jy op pad is. Kry ‘n plan op die tafel en jaag dit na. Sprekers belowe en wys dat dit vir hulle gewerk het.

In plaas van God, word gurus se lewe jou hoop en jou sekerheid.

As gelowiges is ons dikwels onseker waarheen God ons neem. Onseker waarby Hy ons gaan betrek. Onseker watter planne Hy vir ons lewe het. Máár, ons het volkome sekerheid dat Hy as Roeper ons enigste fondament is. Dat in Hom, alles ten goede saamwerk. Die goeie en die slegte. Daarom vertrou ons Hom onvoorwaardelik.

M. Bybelse betekenis

Ons verstaan die aard van God se roepstem nog beter wanneer ons in die bybelse betekenis vir roeping indelf:

a. Die woord qārā vir roep in Hebreeus het binne konteks vele betekenisse. Een betekenis daarvan is soos wanneer iemand jou op jou selfoon skakel. Vir ‘n oomblik vang daardie persoon jou volle aandag vas.

b. Maar qārā se betekenis lê veel dieper. Om te roep, is ook om te benoem. En deur te benoem, word daar “in wording geroep” of “kreatief geskep”.

Dit strek dus verder as om bloot te wees en te doen wat ons reeds is. God roep jou dus nie slegs om te word wat jy reeds is nie, maar ook om te wees wat Hy jou beskik om te word. Roeping in die Ou Testament voeg dus saam wie ons reeds in wese is én gaan word.

c. Die Nuwe Testament ontsluit nog verdere aspekte van roeping.

As begrip word dit met redding verweef. Met ander woorde om uitverkies, geregverdig en verheerlik te word. Roeping dui op God se stem wat ons oorrompel om volgelinge van Christus te word. Om Sy uitnodiging te aanvaar om Hom as die Weg, die Waarheid en die Lewe te volg.

d. Maar dis selfs meer omvangryk as dit.

Roeping het ter inhoud dat God se roepstem na Homself só ontsagwekkend, só inspirerend en só gesagvol is dat net een reaksie daarop gepas sal wees. Naamlik dat jy Sy roepstem beantwoord met ‘n oorgawe so omvattend en wyd as die Roeper self.

Dit hou in dat Jesus Sy volgelinge nie net na Homself roep nie, maar ook na broederskap in die ekklesia (geroepenes wat saam vergader), die ewige lewe, lyding, diensbaarheid en dissipelskap.

Roeping in kern, is ‘n lewe van geloof.

N. Verdeling

Om die werking van roeping meer prakties te verduidelik, verdeel ek dit in twee dele: naamlik ‘n Primêre en ‘n Sekondêre roeping.

Ons PRIMȆRE roeping sal altyd as ‘n volgeling van Christus, deur Hom, tot Hom, en vir Hom wees. Ons word in die eerste plek tot ‘n verhouding met Iemand geroep, en nie tot iets of iewers héén nie.

Ons SEKONDȆRE roeping bestaan daarin dat ons oral, en in letterlik alles, moet dink, praat, leef en optree uit ons verhouding met Jesus Christus. Dit veronderstel ‘n persoonlike roeping om iets te doen, maar kan nooit onafhanklik van ons verhouding met Christus staan nie.

O. Sekulêre werk

Die werk wat ons om den brode vir ‘n inkomste doen, sal tipies onder ons sekondêre roeping val. Dis hier waar al die moeilikheid begin.

Gewone werk waarin ons talente, gawes en vermoëns aanwending vind, sien ons as minderwaardig teenoor sogenaamde geestelike bediening. So praat ons dikwels van iemand wat deeltyds of voltyds vir die Here werk. Asof sulke kunsmatige kompartemente wel bestaan.

Ons Goddelike, en gevolglik geestelike roeping om oor die aarde te heers, sluit pens en pootjies ons talente en gawes in wat ons gebruik om ons gewone werk te doen.

P. Lewensles

Hieroor het ek ‘n blywende les by afloop van my sabbatsjaar in 1991 geleer. Ter afskop moet ek eers vertel wat gedurende die Sabbatsjaar self gebeur het.

In ‘n desperate soeke na myself in daardie tyd, verloor ek mettertyd my geloofsekerheid. Dit was asof ek in ‘n pikgitswart put na iets soek wat ek later twyfel of dit regtig daar is.

In die tweede helfte van daardie jaar vlug ek van George na Port Elizabeth waar ek in ‘n kamer van die YMCA vir die wêreld wegkruip. Op ‘n dag verswelg die onsekerheid my heeltemal.

Agter ‘n toe kamerdeur, roep ek huilend na die hemel uit. “Ek weet nie meer wat om te glo nie,” snik ek. “God, indien u werklik bestaan, openbaar uself aan my.” Daardie nag ontvang ek ‘n visioen wat Christus aan my voorstel.

Dit verander summier my lewe.

Ek word dadelik en onherroepelik ‘n Christus-volgeling. ‘n Nuwe geesteswêreld breek rondom my oop. Ek ontmoet gelowiges wat my op arendsvlerke na lugstrome voer waarin ek opgewonde soos ‘n kind baljaar.

Aan die einde van 1991 in Port Elizabeth beland ek voor ‘n uiters moeilike keuse. Ek beskik oor ‘n regsgraad, maar ‘n instansie bied aan om ten volle vir teologiese studies te betaal, sou ek belangstel om in daardie rigting te beweeg. Ek is onseker wat om te doen. Volg ek ‘n sekulêre regsloopbaan of beweeg oor na geestelike bediening?

Op my knieë een oggend bring ek die vraagstuk voor die Here. Hy antwoord onmiddellik dat ek ‘n regsloopbaan moet volg. Dieselfde dag word ek vir ‘n werksonderhoud deur ‘n firma in George genooi.

Die aanvang van 1992 bring verskeie uitdagings. Ek het goeie werksomstandighede, maar haat die werk met ‘n passie. Ek doen dit na die beste van my vermoë, maar na ‘n jaar is ek erg suur en bekla my lot driftig teenoor die Here. “Moet ek dit nou vir die res van my lewe doen?” wil ek knorrig weet. “Ek kon nou met geestelike dinge besig gewees het,” herinner ek die Here respekvol.

In ‘n oogwink verander God my perspektief.

“Jy ís in ‘n geestelike bediening,” sê Hy. “Elke dag stuur ek mense na jou toe. Maar Ek wag nog die heeltyd dat jy met My oë na hulle kyk, met My ore na hulle luister en met My hart hulle aanraak.”

Dis wat ek ten diepste begeer het het, besef ek, maar omdat ek kunsmatig ‘n onderskeid tussen werk en bediening getref het, was ek verblind. So leer ek dat my geestelike belewing álles in my lewe insluit, en juis ook my alledaagse werk. My natuurlike talente en geestelike gawes moet oral en te alle tye deur Hom, tot Hom en vir Hom diensbaar wees.

Ek kan meteens vervulling in my werk ervaar omdat ek verstaan hoe dit by my geskape self en roeping inskakel. Hierin lê ook ‘n waarskuwing. Jy kan in jou geroepe talente beweeg, maar dit op ‘n wêreldse wyse benader wat jou van die vreugde en vervulling daarin stroop.

Q. Vasgevang

Kom ons bekyk die geval waar jy ‘n werk aanvaar het bloot om vir jou gesin kos op die tafel te plaas. Niks in jou werk resoneer met God se roeping in jou lewe nie. Niks vuur jou talente en gawes aan nie.

Dit voel of jou siel daagliks in sulke klein stukkies afsterf terwyl drank, dwelms of ander pleisters ontvlugting moet bied.

Sulke situasies is ‘n werklikheid. Ons leef in ‘n gevalle wêreld na die sondeval. Voor die sondeval het ons werk natuurlik en volkome uitdrukking gegee aan wie ons was. Ons begaafdheid, talente en gawes is volledig benut. Na die sondeval is werk wat ten volle binne ons roeping pas, ‘n groot seëning.

Omtrent alle gelowiges beleef hierdie werksfrustrasie in ‘n mindere of meerdere mate. Paulus het waarskynlik goeie tente gemaak omdat hy dit uit sy verhouding met die Here tot Sy eer gemaak het, maar ons weet dit het nie binne die kern van sy roeping geval nie.

Dit kan voel asof tentmakery kosbare tyd wegneem van fokus wat ons op die kern van ons roeping kon spandeer. Máár terselfdertyd bevry dit ons deurdat die inkomste ons onderhou asook moontlikhede en geleenthede skep wat ons juis by die kern van ons roeping uitbring.

Oorhoofs gesien, is dit belangrik dat jy ‘n wyse vind om werksfrustrasie te hanteer. Anders laat dit jou moedeloos en verloor jy die passie vir jou kernroeping.

Die voorafgaande veronderstel dat jy ‘n idee van die aard van jou sekondêre roeping het. Jou plek van dieper vervulling. Sleg wanneer jy dit raaksien, kan jy begin om besluite te neem wat jou in die regte rigting stuur.

‘n Terloopse opmerking. Soms dink ons dat dit nie God se roepstem is wat ons hoor nie, aangesien ons natuurlike begaafdheid en talente met sekere hindernisse gepaard gaan. Moses, met uitsonderlike leier-eienskappe, het homself as onbruikbaar geag om die volk te lei omdat hy ‘n spraakgebrek gehad het. Indien God jou roep, sal Hy die hindernisse, soos in Moses se geval, op Sy manier hanteer.

R. Wat is my sekondêre roeping?

Maar hoe ontdek ek my besondere roeping? Vanaf kindertyd vind gebeure in ons lewe plaas wat reeds die gordyn op ons unieke verskuilde self ooptrek.

Dit verklap dikwels hoe God ons toekomstig wil en kan gebruik. Dis soos ‘n Goddelike vuurkolom wat voor ons uittrek na die volheid wat binne ons roeping lê.

Talle ander leidrade help ons ook om ons sekondêre roeping te vind.

1. Ons familie-geskiedenis speel ‘n rol.

Ons hoef slegs na die historiese verloop van die Jode te kyk om te weet dat dit waar is.

Toe ek ‘n paar jaar gelede in Israel was, het ek duidelik die Here se stem gehoor wat sê: You were called by both your name ánd surname. Sedertdien het ek ‘n deel van my familiegeskiedenis ontdek wat beslis nuwe aspekte van my roeping belig.

2. Ons lewensgeleenthede.

Waar woon jy? In watter tyd van die geskiedenis leef jy? Hoe lyk die geografiese omgewing rondom jou? In watter tipe samelewing bevind jy jouself?

Simon en Andreas as vissers was juis as dissipels geskik om vissers van mense te word, want hulle het die praktiese proses van visvang verstaan.

3. God se leiding deur die Heilige Gees.

Hierdie aspek kan nie oorbeklemtoon word nie, want waarheen ons op pad is en wat ons ook al doen, is volkome van ons verhouding met God afhanklik.

As gelowiges vertrou ons dat God sodanig in ons lewens sal beskik dat uitdrukking aan ons unieke geskape self gegee sal word, wanneer en soos Hy ons begelei. Josef se storie in Genesis is een van die beste voorbeelde hiervan.

Hy moes in Egipte uitkom, die taal leer praat, die kultuur verstaan, op verskillende vlakke met die gemeenskap meng, die vertroue van leiers wen en sy gawe van leierskap in verskillende situasies beoefen. Maar vir meer as tien jaar lank het hy glad nie gedink dat hy met God se roeping op sy lewe besig was nie. Veral nie toe hy as slaaf weggevoer en jare lank onregverdig in die tronk aangehou was nie.

Eers later verstaan hy dat God heeltyd besig was hom voor te berei en sê hy vir sy broers dat hulle nie sleg moet voel nie. Dat alles deel van God se raadsplan was om hulle familie van hongersnood te red.

Partykeer kán ongemak die teken wees dat jy nie in jou roeping beweeg nie, maar soms is dit deel van waar jy moet wees om te groei sodat God jou op Sy tyd vir Sy planne kan vrystel. Daarom moet jy voortdurend met God gesels en Sy wysheid afvra soos jy deur die lewe beweeg. Wie is ek? Waarheen is ek oppad? Wat is my bestemming? Wat is aan die gang?

Wanneer jy dus in ‘n werk staan wat jou uitmergel en dooddruk, gesels met God daaroor. Dit is een van die groot voordele om deur Hom, tot Hom, en vir Hom te leef.

Hy kan jou insig omtrent jou werk verander of jou ander geleenthede gee, selfs in die vorm van ‘n stokperdjie. Of dalk kom jy soos Paulus agter dat jy in Christus só vry is dat dit nie saak maak of jy agter toe of oop tronkdeure jou roeping uitleef nie.

Hieromtrent skryf Paulus juis ‘n interessante stukkie in sy brief aan die gemeente van Korinte:

1 Kor 7: 17 Hoe ook al, laat elkeen leef in ooreenstemming met wat die Here aan hom toegedeel het, soos God elkeen geroep het. … 20 Laat elkeen bly in die situasie waarin hy was toe hy geroep is. 21 Is jy geroep toe jy ‘n slaaf was, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy tog kan vry word, maak ten alle koste daarvan gebruik. 22 Want die slaaf wat deur die Here geroep is, is ‘n vrygemaakte van die Here; net so is die een wat as ‘n vry mens geroep is, ‘n slaaf van Christus.

Daar sal beslis tye wees wanneer jy van jou roeping verwyderd voel. Tye wanneer jy vir ‘n gegewe periode in ‘n situasie beland wat jou op alle vlakke uitdaag. Maar ek glo dat die Here jou Sy vrede en Sy rus sal gee indien dit deel van Sy groter strategiese roeping in jou lewe is.

Dalk is dit net deel van ‘n proses van karakterbou wat die pilare is waarop ons roeping staan. Daarom sou dit nie ‘n goeie idee gewees het indien Josef destyds planne beraam het om uit die Egiptiese tronk te ontsnap nie.

4. Beweeg in openbaring.

Ons moet te alle tye sensitief, gereed en bereidwillig wees om te doen wat God aan ons wys en openbaar.

Amper vyftien jaar gelede het ons gesin een Sondag by ’n gemeente gekuier met geen plan om deel daarvan te word nie. Tydens die pastoor se boodskap hoor ek duidelik die woorde: Wees ‘n hulp vir hom. Niks meer nie. Ons gesin het in gehoorsaamheid aangebly.

Later kon ek binne daardie gemeente op vele wyses vervulling binne my roeping beleef.

S. Kompas

Om die roepstem van God te volg, is om uit die hart van God te leef. Intiem, binne Sy teenwoordigheid en gereed om te hoor wat die Gees in ons hart fluister.

Roeping is ons kompas.

Ongelukkig lê begrip daarvan nie altyd binne ons ouers se wense vir ons, of ons werkgewer se planne met ons, of drukgroepe rondom ons, of ons geslag se vooruitsigte of die gemeenskap se aansprake nie.

Draai ons weg van God se hart, neem die wêreld as gids oor en dikteer ons bestemming. God wil hê jy moet by Hom hoor as wie Hy jou geskape het. Hy begeer as Roeper om jou in die volheid van jou gawes na jou geroepe bestemming te lei.

T. Veelvlakkig

Om die prentjie meer volledig in te kleur. Begryp dat jy op verskillende tye vir verskillende dinge gereed en voorbereid in jou roeping sal wees. Dit hang van God se raadsplan af hoe Hy jou in jou unieke aard op enige gegewe tydstip sal gebruik.

Roeping is daarom altyd veelvlakkig.

Die essensie daarvan lê eerder in die oorgawe as wat ons dit met ‘n term probeer vasvang. Tog help dit indien ons ‘n woord daaraan kan koppel soos hulp, woordskepper, swaard. Of soos in die geval van Jeremia: profeet. Dit kleur roeping tasbaar, verleen betekenis aan onsself en help ons om in die regte rigting koers te hou.

Maar roeping bly allesomvattend. Dit vind uitdrukking binne al die verskillende verhoudings en rolle waarin ons elkeen staan. Roeping het daarom randakker– en kernaspekte. By die huis is ek ‘n pa en my vrou se eggenoot. In die gemeente is ek dalk ‘n leraar. By die werk is ek ‘n vredemaker in geskille.

In elke situasie gee ek uitdrukking aan my unieke geskape aard.

U. Afsluiting

Oorweeg die volgende gedagte.

Wanneer jy bereid is om ‘n uitgetrapte koringkorrel op die dorsvloer van Sy aardse koninkryk te wees, sal God daardie korrel neem en ‘n brood met jou lewe bak.

Dan sal jy begryp wat dit beteken om waarlik voluit te leef.

Ontvang nuutste plasings

Etikette: geroepleefsoutbakvoluit
DeelTweetPin
Vorige Artikel

Skryf 7 – Loglyne prakties beskou

Volgende Artikel

Die bruid se sluier lig

Volgende Artikel

Die bruid se sluier lig

Wandel in geestelike wysheid

Wandel in geestelike wysheid

Kommentaar 2

  1. HV Jordaan says:
    2 jare tevore

    Soos altyd – prikkelend! (Thought-provoking)

    • Kobus Esterhuizen says:
      1 jaar tevore

      Soos ‘n lente reën na ‘n lang droogte. Mag dit in goeie grond val en báie vrugte dra.
      Dankie.
      Kobus

Vuursout

© 2024 C Jordaan - Kragkos vir siel en gees

Inligting

  • Omtrent Myself
  • Voorwaardes
  • Privaatbeleid
  • Kontak

Sosiale Media

Welcome Back!

Teken aan in jou rekening hieronder

Forgotten Password?

Retrieve your password

Please enter your username or email address to reset your password.

Teken aan

Add New Playlist

Geen Resultaat
Sien alle resultate
  • Tuis
  • Nuutste
  • Gedagtes
    • Waterbak
    • Soutbak
    • Vuurbak
  • Meerkat
    • Stories
  • Vulpenfles
    • Skryftegnieke
    • Boeke
  • Allerlei
    • Omtrent Myself
    • Saamgesels
    • Kontak

© 2024 C Jordaan - Kragkos vir siel en gees