Wanneer die ou jaar afsluit en die nuwe begin, ontstaan ‘n proses spontaan in ons gedagtes. Ons kyk tegelyk terug en ons kyk vorentoe.
Ons peins oor waar ons staan en wonder hoe die toekoms lyk.
Reeds aan die begin van Desember verlede jaar, is ons drie manne wat vroeg een oggend soos ‘n Habakuk op ‘n stadsmuur vir insig oor 2025 tuur.
Drie vrae lê in ons gemoed:
1. Wat wil U vir ons sê?
2. Here, wat is rondom ons aan die gebeur?
3. Is daar geestelike waarhede van U wil hê ons moet raaksien?
A. Rigtingbordjie
Saam beleef ons kosbare oomblikke.
Ons ervaar dat die Here ons as gelowiges na ‘n veel dieper geestelike belewing van Homself roep.
Slegs dae later woon ek die boodskap van ‘n prediker by. Hy vertel opgewonde dat hy kort tevore oor 2 Korinthiërs 4:3-6 gedroom het. Hy reken die Here wil daarmee iets belangriks vir die bruid van Christus sê. Vers 6 maak bokspronge in my hart toe ek dit hoor.
Lees hierdie gedeelte saam:
2 Kor 4: 3 As ons evangelie dan tog nog versluier is, is dit versluier vir dié wat verlore gaan, 4 vir die ongelowiges wie se denke deur die god van hierdie bedeling verblind is, sodat die lig van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, nie oor hulle skyn nie. 5 Ons verkondig immers nie onsself nie, maar Jesus Christus as Here, en onsself as julle diensknegte, ter wille van Jesus. 6 Want God wat gesê het, “Laat daar uit die duisternis lig skyn,” dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus.
B. Begeerte
‘n Diepe begeerte ontstaan in myself om met die kennis van die heerlikheid van God verlig te word. Ek besef dat die sleutel daarin lê om in die aangesig van Jesus Christus te staan. Ek reël opgewonde ‘n koffie-afspraak met ‘n geesbroer en kondig my voorneme aan.
Wil jy eerder na die video van die boodskap kyk?
C. Bepeins
Maar toe ek later prakties oor my brawe versugting nadink, ontstaan twee vrae:
a) Wat is God se heerlikheid nou eintlik?
b) Hoe staan ek in die aangesig van Christus?
D. Legkaart
In die afgelope weke stuur die Here telkens gelowiges oor my pad wat my help om sommige legkaartstukke op die regte plek te plaas. Hierdie prentjie soos ek dit tans raaksien, deel ek graag.
So, wat bedoel die bybel wanneer dit van God se heerlikheid praat?
Normaalweg verstaan ons onder die evangelie van die heerlikheid van Christus, dat dit ‘n kombers van heerlikheid is wat oor ons val wanneer die genade en waarheid van Christus in ons geopenbaar word.
E. Velerlei kontekste
Heerlikheid het egter vele kontekste in die bybel en kan op die oog af nogal verwarrend wees.
Dink daarom aan heerlikheid as ‘n mandjie wat God in Sy hand vashou.
Daardie mandjie is gepak met geskenke wat Sy volle Goddelike wese verteenwoordig. Soos wat dit nodig is, haal Hy geskenke uit die mandjie en gee dit vir ons as gelowiges aan om iets van Sy heerlikheid as God te verstaan.
F. Grieks en Hebreeus
Om die inhoud van God se heerlikheid nog duideliker te skets, kyk ons na die oorspronklike Hebreeus en Grieks.
Die ou testament gebruik die Hebreeuse woord kavod wat op God se gemanifesteerde teenwoordigheid dui wat swaar hang of met belangrikheid geklee is.
Die Griekse naamwoord doxa vir heerlikheid is afgelei van die werkwoord dokeō. Dokeō beteken dat jy ‘n persoonlike mening uitoefen waarmee jy die waarde van iets bepaal. Daarom sal doxa letterlik beteken iets wat ‘n goeie opinie ontlok het omdat dit inherente waarde het.
G. Wolk
Julle sal begryp hoe hierdie beskrywing met heerlikheid in verband staan indien ek dit met ‘n eenvoudige sin illustreer: Jan skitter as student.
As te ware gloei hy in sy toegewydheid, dissipline en prestasies. Ons kan nie sy skitter met ons oë fisies raaksien nie, maar tog is ons van die wolk wat hom omring bewus.
H. Gees na verganklik
Daar is ‘n verdere element wat kardinaal tot ons begrip van heerlikheid staan. God as onsienlike Gees moet Homself in ons materiële sfeer op so ‘n wyse uitdruk dat ons Hom kan raaksien, herken en beleef. Kort gestel: Hy moet Homself as ons Skeppergod openbaar.
Dit is die rol wat Jesus Christus op aarde gespeel het.
In Hom was God se volle heerlikheid beliggaam. Kennis aangaande God se heerlikheid word deurlopend vanaf die begin van die Ou Testament geopenbaar, maar eers in Jesus Christus word die volle omvang daarvan uitgedruk.
I. Vlakke
Die openbaring van God se heerlikheid lê op drie vlakke wat alles binne die mandjie gepak is waarvan ons vroeër gepraat het.
a) In die ou testament vind ons dikwels God se waarneembare heerlikheid soos die vuurkolom tydens die uittog, Moses se brandende bos of die helder glans in die tempel.
b) Oral in die bybel openbaar God egter ook Sy aard of wese, Sy eienskappe of Sy kenmerke soos Sy skeppingsvermoë.
c) God openbaar veral deur Jesus Christus Sy karaktertrekke soos byvoorbeeld Sy liefde en vergifnis.
So besef ek dat wanneer ek vra om met kennis van die heerlikheid van God verlig te word, dit eerstens ‘n soeke na die waarheid en genade in Jesus Christus is. Maar, tegelyk is dit ook ‘n soeke en ontdekking deur en in Jesus Christus van al die geestelike attribute wat in God beliggaam is.
J. Reis
Om in God se openbaring van Sy heerlikheid te wandel is ‘n hoogs opwindende reis.
Daar is altyd onverwagse verrassings weggebêre wat ons uit ons sokkies seën.
Kom ons kyk wat wat God vir Moses gewys het toe hy vra om Sy heerlikheid te sien. Ons sal merk dat dit ‘n kombinasie van Sy identiteit en karakter is.
Eksodus 33: 18 Toe vra Moses: “Kan ek nie maar u heerlikheid sien nie?” 19 Die Here sê vir hom: “Ek sal jou iets van my goedheid laat sien en Ek sal jou my stem laat hoor wanneer Ek my Naam ‘die Here’ uitroep. Ek gee genade aan dié wat Ek wil, en ontferming aan dié wat Ek wil.” [NLV]
Ek weet nie of ons werklik besef hoe bevoorreg ons is om in ‘n tyd te leef waar ons die heerlikheid van God in die aangesig van Christus kan beskou nie.
Lees saam hoe hierdie gedagte in Hebreërs en Kolossense gestel word.
Hebreërs 1: 1 In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2 maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun. Hom het Hy aangestel as erfgenaam van alle dinge, en deur Hom het Hy ook die wêreld geskep. 3 Hy is die uitstraling van God se heerlikheid, en die ewebeeld van sy wese.
Kol 1: 15 Die Seun is die beeld van die onsigbare God, die Eersgeborene oor die hele skepping; … 19 want God het dit goedgevind om die hele volheid in Hom te laat woon, 20 en om deur Hom alles, ja, alles op aarde en in die hemel, met Homself te versoen, deurdat Hy vrede gebring het deur sy bloed aan die kruis.
In Johannes bevestig Jesus self hierdie verreikende stelling.
Johannes 14: 9 … Wie My gesien het, het die Vader gesien. Waarom sê jy dan, ‘Wys ons die Vader?’ 10 Glo jy dan nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek vir julle sê, sê Ek nie uit Myself nie, maar dit is die Vader wat in My bly en sy werke doen. 11 Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in My is; of glo dan op grond van die werke self.
K. Borrelend
Jesus was as dus as Seun, God gemanifesteer in ‘n aardse gestalte. In Markus 9 merk ons hoe Sy goddelike natuur voor Sy kruisiging oorborrrel.
Markus 9: 2 Ses dae later neem Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes saam en lei hulle teen ‘n hoë berg uit waar hulle heeltemal alleen was. Hy het toe voor hulle van gedaante verander. 3 Sy klere het blink geword, spierwit, so wit soos niemand op aarde iets kan bleik nie. 4 Toe het Elia saam met Moses aan hulle verskyn, en hulle was besig om met Jesus te praat. 5 Petrus reageer toe en sê vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” 6 Hy het immers nie geweet wat hy moet sê nie, want hulle was totaal verskrik. 7 Daar kom toe ‘n wolk wat ‘n skaduwee oor hulle gooi, en uit die wolk kom daar ‘n stem: “Dit is my Seun, my geliefde, luister na Hom!”
Knoop vir ‘n oomblik vers sewe iewers aan jou regteroorlob vas, want ons verwys weer daarna.
L. Sy aangesig
Om die dinamika van hóé ons in die aangesig van God staan te verduidelik, gaan ek twee gelyklopende beelde gebruik. Die eerste noem ek die beeld van die Spieël en die tweede die beeld van die Saad.
a) Die Spieël
Paulus beskryf in dieselfde brief aan die Korinte waaruit ons reeds gelees het, die beeld van die Spieël.
Ons lees in 2 Korinthiërs 3 uit beide die Amplified bybel en 2020 Vertaling.
2 Cor 3: 16 But whenever a person turns in repentance to the Lord, the veil is stripped off and taken away. 17 Now the Lord is the Spirit, and where the Spirit of the Lord is, there is liberty (emancipation from bondage, freedom). 18 And all of us, as with unveiled face, because we continue to behold [in the Word of God] as in a mirror the glory of the Lord, are constantly being transfigured into His very own image in ever increasing splendor and from one degree of glory to another; for this comes from the Lord Who is the Spirit. [AMP]
Hier is dieselfde stuk in Afrikaans:
2 Kor 3: 16 Telkens egter, wanneer iemand hom tot die Here wend, word die sluier afgehaal. 17 Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. 18 En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou, soos in ‘n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees.
i) Grieks beloer
Die kernwoord hier is aanskou in Afrikaans en behold in Engels om die aksie te verduidelik hoe ons in God se heerlikheid staan. Die Amplified druk hier korrek die Griekse tyd uit wanneer dit van continue to behold praat, want dit dui op ‘n handeling wat deurlopend verrig word.
Die Afrikaans vertaalde woord aanskou skiet tekort om die ware betekenis van die Griekse woord katoptrizó (kah-top-tree’-zo) uit te druk.
Die term katoptrizó verteenwoordig die hele frase behold as in a mirror. Wanneer ons in hierdie woord indelf, sal julle sien dat dit voorwaar ‘n voortreflike beeld is.
In die Grieks-Romeinse wêreld was spieëls tipies van gepoleerde brons of silwer gemaak. Jy kon derhalwe nie so duidelik daarin sien soos met moderne spieëls nie. Dit het meegebring dat jy met groot konsentrasie na die gedeelte moes tuur wat vir jou belangrik was.
ii) Metafoor
Gevolglik is hierdie spieëls dikwels as ‘n metafoor gebruik om die verkryging van dieper begrip of geestelike waarhede te verduidelik.
Om waarlik te sien, kon jy nie net kyk en wegdraai nie.
Jy moes intens op ‘n area fokus sodat jy uiteindelik genoegsame detail in daardie gedeelte kon waarneem om die doel waarvoor jy voor die spieël staan, te bevredig. Daarom is die engelse woord behold so ‘n gepaste vertaling.
Om ‘n meer volledige prentjie van die beeld in die spieël te kry, moes die proses homself opnuut op ‘n ander gedeelte van die spieël herhaal. Gevolglik verklaar vers 18 dat ons van heerlikheid tot heerlikheid verander word.
iii) Brokkies
Jy ontvang dus nooit op ‘n gegewe oomblik die volle openbaring van Christus se heerlikheid nie, maar moet elke keer opnuut aanskou om deur die Gees ‘n vars openbaring van Hom te beleef. Dis derhalwe onmoontlik om ooit ‘n tydstip te bereik waar jou kennis omtrent die heerlikheid van God volledig is en jy kan verklaar dat jy genoeg weet en beleef het nie.
Om in die aangesig van Christus te staan is ‘n lewenslange proses waartydens jy telkens op ‘n opwindende wyse verryk word.
Draai jy van Sy aangesig weg, hou jy op om geestelik te groei.
Die transformasie in die aangesig van Christus word dormant.
iv) Groei
Die proses om in die spieël na die beeld van Jesus Christus te staar, vergestalt die lewende verhouding wat jy met Hom het. Daarom verklaar vers 18 uitdruklik dat die proses deur die Heilige Gees bestuur word.
Die Gees van God sal jou aandag vestig op daardie gedeelte van die aangesig van Christus wat jy op ‘n gegewe oomblik benodig om geestelike verandering in jouself te bewerkstellig. Jesus bevestig in Joh 14 hierdie taak van die Heilige Gees.
Joh 14: 23 Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24 Wie My egter nie liefhet nie, neem nie my woorde ter harte nie. Die woorde wat julle hoor, is nie myne nie, maar dié van die Vader wat My gestuur het. 25 “Dit het Ek vir julle gesê terwyl Ek by julle gebly het. 26 Die Parakleet, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het.
v) Kopkennis
Dis van groot belang dat jy sal besef dat onderrig deur die Heilige Gees nie ‘n saak van kopkennis is nie. Dis kennis gerig daarop om deurlopend jou verhouding met Christus te verinnig.
Ek wil dit soos volg verduidelik. Jy kan alles oor ‘n persoon nalees, maar dit beteken nie noodwendig dat jy in ‘n verhouding met daardie persoon staan nie. Die Heilige Gees se werking verseker egter dat kennis omtrent God se heerlikheid jou in ‘n dieper verhouding met Christus intrek.
vi) Sonder sluier
Daar is nog ‘n faset waarna ons moet kyk. Ons vermoë om in die spieël te kan sien, begin eers nádat die sluier verwyder is. Dit geskied volgens 2 Kor 3:16 telkens egter, wanneer iemand hom tot die Here wend. Ongelukkig is hierdie vertaling uit Grieks in die 2020 bybel futloos en verdwyn die krag van die ware betekenis.
In die oorspronklike Grieks praat dit van ‘n omdraai en omkeer in oortuiging, op ‘n gegewe tydstip, wat so drasties is dat dit jou lewe en gedrag transformeer. Die 1953 vertaling is daarom in die kol as dit lees maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem. Eers vind die bekering plaas en dan word die sluier gelig.
vii) Wedergebore
Hier word derhalwe van wedergeboorte in Jesus Christus gepraat.
Wedergeboorte ontknoop die geestelike vermoë om te sien.
Dis presies wat Jesus in Johannes 3 vir Nikodémus, ‘n lid van die Joodse Raad verduidelik.
Joh 3: 3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. 4 Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? 5 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. 6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
b) Die Saad
Vers ses bring ons by die tweede beeld van die Saad wat uit wedergeboorte voortspruit en ons in staat stel om in die aangesig van Christus te staan. Die verwysing in vers ses na Vlees het met die verganklike saad te make, en na Gees met die onverganklike Saad.
As agtergrond hiertoe lees ons twee verse uit 1 Petrus en 1 Johannes.
1 Petrus 1: 23 Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God.
1 Joh 3:9 Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly, en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is.
i) Stryd
In ons woed ‘n stryd van sade waarna die bybel reeds in Genesis 3:15 in God se gesprek met die slang verwys.
Genesis 3: 15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.
Aan die een kant het ons Satan as die verganklike saad en aan die ander kant Jesus Christus as die onverganklike saad gebore uit Maria.
By wedergeboorte word Christus se saad in jou ingeplant.
Dit bevat reeds die volle DNA van God se heerlikheid. In daardie heerlikheid lê ‘n salwing waaruit strome van lewende water en Sy oorvloedige lewe vloei.
Die beeld van die saad sluit pragtig by die beeld van die spieël aan. Christus se saad in jou moet stelselmatig gestalte kry. Dit moet tot ‘n groot boom groei waarin die heerlikheid van God gesien kan word. Daarvoor moet dit herhaaldelik natgelei word.
ii) Waterkan
Die Heilige Gees is die water wat daardie saad in jou oor jare heen in ‘n groot boom omskep. Maar jy is die grond, en het daarom ‘n besliste verantwoordelikheid. Jy moet die Heilige Gees ruimte gee om met Sy waterkan die saad vir groei gereeld nat te lei.
Hoe lyk hierdie ruimte? Dis nie bloot ‘n passiewe aanvaarding van die rol van die Heilige Gees nie.
Dis ‘n daadwerklike aksie.
iii) Wandel
Soos openbaring van God se heerlikheid in jou ontwaak, moet jy gehoorsaam en getrou daarin wandel. Eenvoudig gestel: Jy moet iets daarmee doen.
Julle onthou nog dat ons gesê het dat God se heerlikheid Sy karakter en eienskappe insluit. Wanneer die Heilige Gees jou dus met Sy waterkan in die aangesig van Christus omtrent God se liefde en vergifnis leer, moet jy dit toepas.
Sou jy jou buurman vurig haat omdat hy sy honde se plesiertjies ongeërg oor die heining in jou erf gooi, groei jou boom nie. Die heerlikheid van God kan nie toeneem nie. Wanneer jy uiteindelik na ‘n vuisgeveg met jou buurman besluit dat hierdie Christus-ding nie vir jou werk nie, draai jy van die waterkan weg.
Jou boompie verloor in die proses al sy blare.
En jy kies om uit die verganklike saad in jou te leef.
iv) Wet
Wees ook versigtig dat jy nie aan die letter van die wet gehoorsaam word in plaas daarvan om in die openbaring van Christus te wandel nie. Navolging van die wet klink dikwels so edel in die mond van gelowiges, maar bring uiteindelik die dood mee. Dis wat Jesus effektiewelik vir Nikodemus sê.
v) Rituele
Daarmee saam hang daar nog ‘n slaggat.
Na wedergeboorte begin ons opgewonde ons reis in die saad van Christus. Later val ons egter terug na aangeleerde gedrag waar ‘n proses van godsdienstige rituele ons verhouding met Christus moet laat groei.
Die resultaat is altyd frustrasie en ontnugtering.
Goddelike heerlikheid kan net deur die Heilige Gees in die aangesig van Christus aanskou word. Verwyder Christus as bruidegom en die bruid word ‘n kulturele klub.
vi) Mediteer
Ter afsluiting ‘n praktiese wenk. ‘n Onuitputlike bron van rigtingwysers na Christus en Sy heerlikheid word in die Woord aangetref. Dis belangrik dat ons dit sal lees. In Markus 9 vers sewe gee die Vader op die berg van verheerliking spesifiek opdrag aan die dissipels om na die woorde van Jesus te luister.
Wanneer ons op die woorde in die skrif mediteer, openbaar die Heilige Gees in die aangesig van Christus, God se heerlikheid aan ons wat ons binne die verhouding met Christus nuut aanraak.
vii) Bemesting
Om die woorde van die Skrif te ontvang, is soos ryke bemesting wat in jou grond ingespit word.
Wanneer die Heilige Gees se water daarop val, groei jou boompie welig in alle rigtings.
Dan word die spieël ‘n opwindende plek van gereelde ontdekking en belewing. Paulus stel dit pragtig in Kolossense 1 asook in Kolossense 2.
Kol 1: 26 Die misterie wat vir eeue en geslagte lank verborge was, is nou aan sy heiliges bekend gemaak. 27 God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe ryk die heerlikheid van hierdie misterie vir alle nasies is: Christus is in julle, die hoop op die heerlikheid.
Kol 2: 6 Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; 7 in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid.
M. Gewortel
Daarmee beweeg ons in die pylvak van hierdie boodskap.
Gedagtig aan 2025 wat voorlê, wil ek pleit dat ons hierdie jaar volkome in Jesus Christus gewortel sal wees. En soos die Vader se opdrag aan die dissipels was, wil ek julle aanmoedig om die woorde van Jesus en die skrif in te drink.
Dat julle sal begeer dat Sy woorde julle aanraak, verkwik, bemoedig en versterk.
N. Ek is …
In die lewegewende druppels van die Heilige Gees se waterkan sluit ons af met Jesus se Ek is verklarings in Johannes. Laat toe dat elke beeld tot jou hart spreek.
Joh 6: 35 Jesus het vir hulle gesê: “Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger word nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors word nie.
Joh 8: 12 Toe het Jesus weer met hulle gepraat en gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê.”
Joh 10: 9 Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.
Joh 10: 10 ‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat julle lewe kan hê, en dit in oorvloed. 11 Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.
Joh 11: 25 Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; 26 en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie.
Joh 14: 6 Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. 7 As julle My leer ken het, sal julle ook my Vader ken.
O. Bruid en bruidegom
Jesus se laaste Ek Is verklaring in Johannes 15 is van besondere belang. Dit hou verband met ons geestelike identiteit in Christus. Dis inderwaarheid die dinamika van die bruid wat haar posisie in Jesus Christus as Bruidegom inneem en deur Hom elke dag leef.
Joh 15: 1 “Ek is die egte druiwestok en my Vader is die landbouer. 2 Elke loot aan My wat nie vrug dra nie, sny Hy weg; maar elkeen wat vrug dra, snoei Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. 3 Julle is egter reeds skoon deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4 Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot nie uit sy eie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie. 5 Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie. 6 As iemand nie in My bly nie, word hy soos ‘n loot buite uitgegooi, en verdroog. Hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7 As julle in My bly, en my woorde in julle bly, vra dan wat julle wil, en dit sal met julle gebeur. 8 Hierdeur word my Vader verheerlik, dat julle baie vrug dra en my dissipels kan wees.”
Mag ons in Christus Jesus ‘n oorvloedsjaar beleef.
‘n Goed deurdagte en uitstekend geordende uiteensetting van jou vertrekpunte en die boodskap wat jy wil oordra. (Moes jou ‘n wyle besig gehou het!)