Ek kry onlangs ‘n kort boodskap van ‘n vriend. ‘n Skrale drie woorde. Ek is moeg.
Dis ‘n hulproep van ‘n desperate man wat die eindes van sy durf bereik het. ‘n Loodbal kom lê in my hart. Ek ken sy uitdagings.
Die vraag
My gedagtes skiet vol van kleurryke kiekies van ‘n vriend uit wie se oë voorheen riviere van vreugde en hoop geborrel het; wat jou siel kon laat huppelhop sonder dat hy ‘n woord hoef te sê.
Maar vasgeskroef in die wurgklem van gebeure wat ongevraagd hulself op sy skoot tuisgemaak het, het sy lewenslus uitgetap totdat net ‘n leë drom oorgebly het.
Bemoedigende woorde soos Vasbyt! Môre is ‘n nuwe dag. Bly net glo. het ‘n hol klank wat vals eggo.
Hoe begeester ek hom sonder om ydel te klink?
Die boodskapper
Ek vermoed hierdie tipe sielsvrae word iewers in die heelal aangeteken, want kort daarna word ‘n lieflike man met ‘n opregte hart oor my pad met ‘n boodskap gestuur.
By ‘n troue sit hy skuins oorkant my asof beskikking dit so gewil het. Kom ons noem hom sommer Benjamin want hy soek allermins die kalklig van eiebelang.
Ons gesels lekker. Ek merk ‘n ondeunde glimlag in sy oë wat my aan Bruce Marchiano se vertolking van Jesus in die rolprent Jesus the Christ herinner.
Die oorwinnaar
Gou kom ek agter dat hy Paulus se blydskap in tye van ontbering verstaan. Sonder dat Benjamin dit aan die groot klok hang, is dit tasbaar dat hy al platgeklap en bebloed langs die pad gelê het met beswaarlik die krag om voort te strompel.
Tog het hy. Maar dit was slegs die vertrekpunt.
Iewers het hy méér as ‘n oorwinnaar geword.
Verhale van die mens se vermoë om die grafte van die verlede te ontglip, laat my altyd darteldans want ek wil nuuskierig weet hóé hulle dit reggekry het..
Gewoonlik verwag ek selfhelpboeke, opruiende mantras of heldedade in die gesig van teenspoed.
Wil jy eerder na die video van die praatjie kyk?
Die antwoord
Sy eenvoudige antwoord verstom my.
“Ek leef dankbaar,” sê Benjamin.
Dit móét meer ingewikkeld wees, bespiegel ek. ‘n Komplekse wêreld het komplekse oplossings nodig. Hoe kan die dinamika van bloot dankbaar leef hierdie man met soveel lig vul?
Ek frons in twyfel. Hy verduidelik.
“Dankbaar vergelyk jy jouself nie langer met die mense rondom jou nie. Jy ontdek die velerlei seëninge wat soos olie oor jou hoof en voete spoel. Dan gaan dit oor wat jy hét, nié oor wat jy nié het nie. Met ‘n nuwe bril begryp jy dat tekorte meestal net ‘n mensgemaakte gulsigheid is.”
Die besitsname
“Maar hoe verkry ek ‘n gees wat dankbaar is?” hamer ek aan sy deur van wysheid.
Benjamin antwoord met gesag wat in persoonlike ervaring gebore is. “Sorge, bekommernis en lewenspyn versluier ons hart vir die Vader se liefde. En dis juis in daardie liefde wat die saad om dankbaar te leef ontkiem. Daarom moet ons al ons laste voor Sy voete neerlê.”
Hy gesels verder.
In sy oë brand ‘n helder lamp met ‘n kerspit geanker in ‘n onuitputlike bron. “In Sy liefde is jy nie langer hulpeloos nie. Sy liefde stel jou instaat om afwaarts na jouself te kyk. Om te sien dat die Vader ons met ‘n liefde koester waarvan die lengte, die breedte, die hoogte en die diepte onpeilbaar is.
Ware skatte
Ek luister aandagtig.
“Wanneer die skille van ons oë val, sien ons die ware skatte in ons mandjie: ons familie, ons vriende, ons verhoudinge en ‘n Vader wat op die regte tyd in ons behoeftes voorsien. Dan kan ons dankbaar jubel al sou die vyeboom nie bot nie, die wingerdstokke geen druiwetrosse dra nie, die saailande geen voedsel oplewer nie en die beeste en kleinvee uit die kraal verdwyn.”
Die ander gaste aan ons tafel het ongemerk iewers heen verdwyn. Ons is alleen. Benjamin kom sit reg voor my sodat slegs ‘n armlengte ons skei.
Ek ervaar dat wat hy volgende gaan sê belangrik is.
Hoop
“Die Vader se liefde gee ons hoop. Ons word gevul met ‘n vaste vertroue dat alles ten goede sal meewerk. So kan ons verby vandag se swaarkry kyk, want ons weet Hy sál sorg omdat Hy omgee. Sy liefde trek die angel uit ons moedelose uitkyk.”
Meteens kan ek soveel kere in my eie lewe raaksien waar Benjamin se woorde ook my waarheid was. Toe ek met my gesig in die modder gedruk weer oor die toekoms kon droom. Toe my verleentheid, geleenthede geword het.
Ek is só dankbaar dat die Vader in Sy liefdevolle voorsiening Benjamin ‘n uitgesoekte stoel oorkant my gegee het.
Dan onthou ek dat Hy alreeds vroeër in die aand deur Benjamin met my gepraat het.
Die Vader en Sy Seun
Terwyl my seun ‘n ring van ewige trou aan sy bruid se vinger gesteek het, het my blik vir ‘n oomblik oor die middelgangetjie na die ander gaste gedwaal.
Aan die anderkant in Benjamin se oë was ‘n opgewonde glinstering van ‘n pa wat die ryke omvang verstaan van ‘n vader se seun wat met die bruid in die eg verbind word.
Wat die hoop verstaan wat op daardie tydstip vir die toekoms ontsluit word.
Nuwe lewe
Wat die verborge geheimenis begryp van Christus wat één met sy bruid word. Wat jubel omdat die Bruidegom se krag in die bruid tot wasdom kom en ons voete daarom soos die van ‘n wildsbok op hoë plekke in verwagting kan loop.
Daarom, kyk na jouself uit die oogpunt van ons hemelse Vader. Hoe méér leeg en swak jy voel, hoe méér ruimte is daar vir Hom om Sy liefde en krag mildadig in jou uit te stort.
Daarmee die einde van vandag se geselsie.
Groete en ryke seën. En amper vergeet ek … dankie Benjamin.