Het jy al ooit gewonder waarom God tyd met ons aardse lewens verweef het?
In die geestelike sfeer bestaan slegs ewigheid wat tydloos is. Maar tog, wanneer God in Genesis uit die onsienbare die sienbare dinge skep, is die eerste drie woorde wat ons lees in die begin.
Op daardie oomblik word ‘n dot op ‘n lyn geplaas en aardse tyd soos ons dit ken, word gebore.
By die lees van die skeppingverhaal merk ons dat tyd, materie en ruimte ‘n eenheid vorm. Ons kan derhalwe aanvaar dat tyd as element vir ‘n doel geskep is.
Wanneer die klok soms stilstaan
Ons weet dat tyd onder andere meebring dat ons ’n beperkte lewensgang hier op aarde het.
Tog is ons gemaak om binne die grense van aardse tyd voortdurend aan God in Sy tydlose ewigheid te raak.
Wat bedoel ek daarmee?
As mens vind ons daaglikse wandel in die siel en liggaamsgedeelte plaas wat tydsgebonde is. Maar ons is ook ‘n geeswese wat ons dikwels miskyk, omdat dit ‘n verskuilde deel van onsself is.
Maar soms vir redes wat God goeddink, vervaag die lyne tussen ons aardse leefwêreld en ons geestesoorsprong. Dan vind die onverklaarbare plaas wat ons wonderwerke noem.
Tyd, ruimte en materie wil dan nie gemaklik in die boksie van natuurwette pas nie. So klim Filippus rustig uit die water toe sy reis na Asdod eensklaps dramaties verhaas word.
Hand 8:39
39 Toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus weggeneem; en die eunug het hom nie meer gesien nie, maar hy het sy reis met blydskap voortgesit. 40 Filippus, egter, is in Asdod gevind.
Skoppelmaai
Waarom verwys ek hierna?
Want ons kan nie behoorlik die funksie en doel van tyd verstaan sonder om kennis te neem dat daar deurlopend ‘n wisselwerking tussen siel, gees en liggaam plaasvind nie.
Soms kan ons die geeswerking soos in Filippus se geval duidelik raaksien, maar meestal is dit so subtiel en onder die radar dat ons leef asof dit nie bestaan nie.
Maar dit is moontlik om ‘n geesbewustheid te kweek.
Gespitste ore
Jare gelede is ek deel van ‘n samekoms waarin die prediker juis die punt wou maak dat ons vele geestelike gewaarwordinge beleef, maar dit nie besef nie.
Hy gebruik toe spesifiek ons luistervermoëns om dit te illustreer. Almal moes vir tien minute hulle oë sluit en soveel geluide as moontlik probeer hoor.
Aanvanklik kon ek slegs krakende banke en kuggies identifiseer. Maar toe begin ek ’n verskeidenheid van ander klanke ook hoor.
So sal ons wanneer ons sensitief vir die werking van tyd raak, dit as ‘n geestelike instrument in God se hand kan eien.
En terselfdertyd insig omtrent God se beskikking in ons lewens verkry.
Vervlegte wonder
Ter afskop moet ons die dinamiese werking tussen tyd en ewigheid verstaan. Wat eintlik in ‘n misterie gehul is.
Omdat God buite tyd staan, sien ons deurlopend in die bybel dat God weet hoe en wanneer dinge gaan uitspeel. Dit het my nog altyd verwonderd gelaat.
Hoe is dit hoegenaamd moontlik indien ons met ‘n volkome vrye wil geskape is?
‘n Leidraad word in Spreuke gevind:
Spreuke 16:9
9 Die hart van ‘n mens beplan sy pad, maar die Here bepaal sy voetstappe.
Dit is só waar van my eie lewe. Hoeveel keer het ek nie al God se ingryping beleef nie? Jesaja vertel ons ietsie daarvan.
Jesaja 14:24
24 Die Here, Heerser oor alle magte, het ‘n eed afgelê met dié woorde: “Soos Ek iets bedink, so sal dit gebeur; soos Ek beplan, kom dit tot stand.
Hierdie vers openbaar dat God se beplanning aan aardse tyd gekoppel is wat dan kronologiese struktuur aan Sy planne verleen.
Gestippelde roete
Die vers wat ons uit Spreuke gelees het, hou ‘n verdere gedagte in:
Waarom is dit nodig dat God ons voetstappe bepaal?
By implikasie beteken dit dat God ons lewens in ‘n sekere rigting wil neem en iets daarmee doen.
Met ander woorde, daar is ‘n doel met jou lewe. ‘n Rol wat jy moet speel.
Kan dit derhalwe wees dat indien ons by God se tyd en beplanning inskakel daardie rol ontsluit word? Dat dit ‘n sleutel is om sin en betekenis aan ons lewens te gee?
Ek reken Paulus se brief aan die gemeente van Efese wil dit suggereer.
Efesiërs 2:10
10 Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef.
Om ons gesprek tot dusver in te kleur, asook nog ‘n paar aspekte van tyd bloot te lê, wil ek twee stories vertel.
Wil jy eerder na ‘n video van die boodskap kyk?
Kopspinasie
Op negentienjarige ouderdom beleef ek ‘n ervaring wat ‘n reeks van gebeure sou ontketen wat my hele lewe beïnvloed het.
Ek is ‘n student by die Vrystaatste Universiteit en wag dat die professor ons klas binnestap. Hy was erg op etiket gesteld en het dit as disrespekvol beskou indien jy nie gereed en in stilte vir hom wag nie.
Ons het mekaar dus altyd gewaarsku. Ek hoor:
Hier kom hy!
Die volgende oomblik is ek weg asof ek uit my aardse bestaan gepluk is. Alles rondom my het volkome verdwyn en uitgedoof.
Waar ek is, sien ek niks nie. Maar ek is van ‘n vrede en ‘n rustigheid bewus wat ek nog nooit voorheen ervaar het nie. Alle bekommernis en vrees verlaat my.
Ek voel volkome. Dit is ‘n plek van net wéés. Waar tyd nie bestaan nie.
So beleef ek eindlose salige oomblikke en wil net daar wil bly. Skielik is ek egter in die klasopset terug en die professor stap in.
Te verstane is ek in ‘n harwar oor wat pas gebeur het. Nog nooit tevore het ek so ‘n ervaring beleef nie.
En die tydsfaktor klop ook nie. Vandat ek die waarskuwing gehoor het totdat die professor by die klas ingestap het, kon nouliks meer as tien sekondes gewees het.
Maar wanneer ek oor my reeks van belewinge in die ander dimensie nadink en ‘n tydsduur daarop probeer plaas, moes ten minste ‘n kwartier of langer verloop het.
Uiteraard oorheers die gebeurtenis my denke vir die volgende paar dae. Ek kan dit nie verklaar nie, maar ek weet dat iets uitsonderliks gebeur het.
Toekomsblik
In nabetragting kom lê ‘n absolute oortuiging in my gedagtes dat ‘n persoon, waarvan ek die naam ontvang, my op ‘n spesifieke dag sowat drie jaar later sal skakel. Maar dis al wat ek ontvang.
Ek skryf die datum en naam op ‘n papiertjie neer, plaas dit in ’n geseëlde koevert en vra my vriend om dit vir drie jaar in sy bybel te bêre.
My lewe gaan daarna normaal vr die die volgende paar jaar voort.
Dan ontvang ek die oproep soos verwag. Ons reël om te ontmoet. Die persoon wil net die antwoord op een vraag hê:
Wie is ek regtig?
Hierdie vraag veroorsaak die grootste krisis van my lewe en ‘n reuse geestelike soektog wat my hele toekoms daarna bepaal het.
Tone op ‘n klip
Die tweede storie gaan oor God se verstommende tydsberekening wat soms in ons lewens sigbaar opduik.
Toe ek op agtjarige ouderdom deur ‘n sterk rivierstroom meegesleur word, het ek besef dat my aardse lewe tot ‘n einde gekom het.
Nadat alle vegterskrag krag my liggaam verlaat het, ontvang ek spontaan die gedagte om self die oomblik van my dood te bepaal.
Ek ervaar ek moet my arms intrek en voete eerste na die bodem sink om my waterdood tegemoet te gaan. Maar wat eintik aan die gebeur was, is dat God op daardie tydstip met my redding besig was.
Op ‘n gegewe oomblik het ek net geweet dis die regte tyd om te sink en my arms ingetrek.
My voete vind toe perfek die enigste rotspunt in daardie omgewing. En my kop steek bo die water uit. Sou ek ‘n sekonde te vroeg of laat gesink het, was my bestaan op aarde verby.
Oopgetrekte gordyne
Lateraan in my lewe merk ek by verskeie geleenthede op dat geestelike vensters op strategiese tye oopgaan met net ‘n beperkte tyd om daardeur te beweeg.
Uit persoonlike ervaring kon ek mettertyd tot geen ander slotsom kom as dat God aardse tyd sorgsaam in Sy beplanning gebruik en ons rolle daarmee verweef is nie.
Prediker verklap iets daarvan.
Prediker 3:1
3 Vir alles is daar ‘n vasgestelde tyd; daar is ‘n tyd vir elke saak onder die hemel.
Die betekenis van die vers in die oorspronklike Hebreeus is egter aansienlik ryker as wat die Afrikaans kan uitdruk. In Engels sou ‘n meer akkurate vertaling wees:
There is an appointed time for everything and a season for every purpose (delight or event) under heaven.
Olie in die ratkas
In hierdie vers is ‘n dinamika omtrent tyd opgesluit wat besonder betekenisvol vir die bestuur van ons lewens is.
Maar voordat ons dieper in die vers delf, wil ek nog twee ander gedeeltes uit die Amplified bybel aanhaal wat daarby aansluit:
Ecclesiastes 3:11
11 He has made everything beautiful and appropriate in its time. He has also planted eternity [a sense of divine purpose] in the human heart [a mysterious longing which nothing under the sun can satisfy, except God]—yet man cannot find out (comprehend, grasp) what God has done (His overall plan) from the beginning to the end.
Acts 17:26-28
26 And He (God) made from one man every nation of mankind to live on the face of the earth, having determined their appointed times and the boundaries of their lands and territories.
27 This was so that they would seek God, if perhaps they might grasp for Him and find Him, though He is not far from each one of us.
28 For in Him we live and move and exist [that is, in Him we actually have our being], as even some of your own poets have said, ‘For we also are His children.’
Opsigtelik gebruik God dus vasgestelde tye oor eeue en geslagte heen om Sy planne en beskikking uit te rol.
Tydens ons kort aardse bestaan leef ons in ‘n klein gedeeltetjie van daardie vasgestelde tye met ‘n ingebore geestelike hunkering om deel van God se planne te wees.
Seisoene
Maar hier is ‘n belangrike waarheid omtrent tyd.
Die belang daarvan word in seisoene geopenbaar. Of anders gestel: Die doel van tyd word in seisoene vrygestel. Of nog anders gestel: Tyd word funksioneel in seisoene.
Veronderstel byvoorbeeld dat God iets besonders in die jaar van 2024 tot stand wil bring. Die enigste manier om vanaf Januarie tot by Desember te beweeg, sal wees om die vier seisoene van somer, herfs, winter en lente te beleef.
Jy kan dit oorslaan nie. Jy kan nie die seisoene omseil nie.
Om in jou baaibroek in die hartjie van die winter op die strand rond te hardloop, sal verkluiming tot gevolg hê. Winter is ontwerp om met warm klere knus by die kaggel af te skakel.
Wandel in eerbetoon
Daarom moet elke seisoen se besondere funksie en doel geëer word. Anders kan daardie seisoen se unieke bydrae nie ontsluit word nie.
Dit is juis die samehang van ál die seisoene wat die waardevolle vrug daarvan vrystel.
So verteenwoordig elke seisoen ‘n besondere oogmerk in ons betrokkenheid by die uitrol van God se planne en Sy beskikking.
Seisoene neem ons op ‘n reis. ‘n Bevryding uit Egipte, ‘n swerftog deur die wildernis en besitsname van die beloofte land.
Dalk is jy te midde van jou wandelpad in ‘n herfs waar alles waaraan jy vasklou begin doodgaan en afval. Dis pynlik, maar vorm nogtans ‘n integrale boudeel van die aksie waarby God wil hê jy in jou somerseisoen betrokke moet wees.
Daarom is dit belangrik om met verligte oë na die seisoene in ons lewens te kyk.
Deur jou winter in protes weg te druk, groei jou wortels dalk nie diep genoeg om die somer se bedoelde vrug te dra nie.
Griekse hoek
Tot hede het ons hoofsaaklik na skrif uit die Ou Testament gekyk. Daar is egter drie Griekse woorde vir tyd in die Nuwe Testament wat ons begrip van die dinamiese werking daarvan verder verbreed :
Kronos:
Dit is werklike tyd wat aantik soos ons dit in die alledaagse gang ken.
Alhoewel dit al die seisoene insluit, verwys ons dikwels geestelik daarna as daardie tyd waarin skynbaar niks uitsonderliks gebeur nie of wat ‘n wagperiode is.
Inderwaarheid is dit juis dan wanneer God dinge in die agtergrond bymekaar bring en jou posisioneer en voorberei vir wat voorlê.
Kairos:
Dit is ‘n spesifieke werking van tyd wat binne kronostyd val.
In Afrikaans word dit as geleë, tydige, gunstige, geskikte of van paste tyd beskryf. In Engels word dit “opportune time” genoem.
Ons sou dit ook kon sien as ‘n venster wat vir ‘n gegewe tyd oop staan sodat na iets nuuts kan aanbeweeg kan word of besitsname van iets kan plaasvind.
Kairos-tye is die sigbaarste manifestasie van God se beplanning en Sy bepaalde tye, want dit veronderstel dat iets in of rondom jou gebeur.
Kolskoot
Kairos het alles met tydsberekening te make. Oorhoofs plaas dit jou dikwels in ‘n nuwe seisoen en belyn jou met God se planne.
Dink daaraan as lente of ‘n deur waaragter vars openbaring en vernuwing lê.
Kairos-tyd speel ook op ‘n mikro-grondslag ‘n wesenlike rol in ons alledaagse lewe ongeag in watter geestelike seisoen ons verkeer.
Die Rooisee skeur oop
Verlede jaar gedurende die Julie-vakansie neem ons gesin twee weke verlof.
Week een daarvan vertrek ons na ‘n bestemming waar ons geestelik gevoed sou word. Vir week twee moes ons by die huis vir ‘n swetterjoel take terug wees.
Die rit is voorafgegaan deur ‘n winterperiode in my eie lewe waartydens ek ‘n geestelike afstomping of blokkasie ervaar het.
Ons voertuig breek alreeds oppad na ons bestemming, maar ons bereik dit darem. Ek bid dat die Here my na die regte werktuigkundige sal stuur wat binne ‘n paar dae die herstelwerk sal kan doen.
Binne ure daarna daag ‘n persoon by my op wat my die naam van ‘n betroubare werktuigkundige gee. Hierdie werktuigkundige hou my egter tot aan die einde van daardie week aan ‘n lyntjie. En verklaar toe dat hy nie instaat is om die herstelwerk te doen nie.
Hy verwys my na ‘n ander werktuigkundige wat werklik uitstekend is, maar my meedeel dat dit ‘n week sal neem om die voertuig weer padvaardig te kry.
Ek is dankbaar, maar kla by die Here dat al my planne erg deurmekaar gekrap is.
So wonder ek ook dikmond waarom Hy toegelaat het dat ek eers by ‘n kwaksalwer uitkom nadat ek spesifiek vir leiding gebid het.
Amper dadelik wys die Here my dat dit noodsaaklik is dat ek onbevange nog ‘n week in Sy teenwoordigheid deurbring. En rig so my voetstappe.
Daardie week word ‘n vensterperiode waardeur ek na iets nuut sou aanbeweeg. ‘n Kairostyd. ‘n Lente met kleurryke veldblomme.
Ek kan nie eers begin om te verduidelik hoe belangrik daardie week was nie. Om die waarheid te sê, kry ek koue rillings indien ek net dink dat ek dit dalk kon mis.
‘n Jaar later kyk ek terug en sien helder watter rol die week steeds in my geestelike lewe speel. Die bloeisels daarvan het intussen vrugte geword.
Tikkende klok
‘n Vriend vertel my onlangs omtrent ‘n ervaring wat hy jare gelede met kairos-tyd gehad het.
Lank loop hy met die gedagte om iets vars met sy lewe te doen. So ontstaan die idee mettertyd vir ‘n unieke bediening.
Maar die stap sou verreikende gevolge vir homself en sy familie inhou. Hy sou ‘n goeie vaste inkomste moes prysgee en sy ondersteuningsbasis verlaat.
Mettertyd raak hy volkome oortuig dat dit die rigting is waarin die Here sy lewe stuur, maar stel die besluit telkens uit omdat die opoffering hom oorweldig. So vertel hy vir niemand van sy voornemens nie, nie eers sy vrou nie.
Op ‘n dag woon hy ‘n byeenkoms van ‘n klompie manne by. Die een persoon laat weet dat hy ‘n besoekende oorsese spreker by die lughawe moet oplaai en vra of hy die man sommer na die groepie kan saambring. Almal bevestig dat dit reg is.
Die besoeker blyk toe ‘n sterk profetiese gawe te hê. Kort voor lank ontwikkel ‘n situasie waar die man homself bereid verklaar om almal profeties te bedien.
My vriend het in die algemeen nie veel erg aan die profetiese gawe nie en vermy sulke geleenthede. Toe dit dus sy beurt is, stem hy bra teësinnig in om ook bedien te word.
Tot sy verstomming vertel die man hom toe presies van die roeping wat in sy hart lê waarvan niemand anders behalwe hyself geweet het nie. Asook dat indien hy nie binnekort ‘n besluit daaromtrent gaan neem nie, die Here iemand anders daarvoor gaan gebruik.
My vriend sê hy besef toe dat die Here se tyd en planne aanbeweeg. Dit staan nie stil nie.
En ons die bus kan mis vir dit waarby die Here ons op ‘n bepaalde tydstip wil betrek. Hy het daarop van rigting verander en sy bediening bied steeds wonderlike mentorskap aan verskeie leiers.
Pleroma:
Dit is vervulde of voltooide tyd.
Dink daaraan soos ‘n kersmaal waarby jy aansit nadat al die voorbereidings afgehandel is. Of Paulus se wenstreep.
Dikwels volg ’n nuwe siklus daarna.
Oogklapppe
Ons weet op hierdie stadium dat seisoene verandering in ons lewens teweeg bring. En dat daardie verandering nodig is sodat ons voorbereid en diensbaar ons posisie in God se planne kan inneem.
Maar wat sal gebeur indien ons nié die seisoene wil aangryp nie? Nie belangstel om nuut te word nie?
Ons sal weldra sien.
Die Grieks gebruik die woorde neos en kainos om nuut te beskryf.
Neos
Neos beteken ‘n bestaande nuutheid wat herhaal. Soos ‘n bestaande model voertuig waarvan identiese eenhede die een na die ander vervaardig word.
Kainos
Kainos beteken ‘n heeltemal nuut vervaardigde model. Dink aan die eerste reeks Toyota Corollas en die jongste reeks daarvan. Al wat effektiewelik dieselfde gebly het, is die naam.
Jesus verduidelik in Matteus die belang daarvan dat ons innerlik sal vernuwe en verander om die volle werking van die Heilige Gees (wat onveranderd bly) te ontvang.
Matteus 9:17
17 “’n Mens gooi ook nie nuwe (neos) wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke oop, die wyn loop uit en die sakke gaan tot niet. Nee, ‘n mens gooi nuwe (neos) wyn in nuwe (kainos) leersakke, en beide bly behoue.”
Reis tussen stasies
Seisoene omvorm ons dus in nuwe wynsakke. En daar is ‘n draad tussen seisoene wat uiters belangrik is indien ons tot nuwe wynsakke omskep wil word.
En daardie draad is VLOEI.
Vloei plaas ons ‘n nuwe posisie wat weer ‘n nuwe perspektief daarstel. ‘n Ander beskrywing vir nuwe perspektief is verligte oë.
Verligte oë is sensitief vir God se tyd en planne, kan dit raaksien en bied die moontlikheid aan die draer om ‘n aktiewe rolspeler in God se planne te word.
Unieke wentelbane
Die diagram verduidelik in ‘n oogwink waarom jy na nuwe geestelike posisies móét aanbeweeg.

Die dilemma is duidelik. Wat jy waarneem, is soms net ‘n gedeelte van die groter prentjie.
God is dalk besig om ‘n silinder as deel van Sy planne te skep. Jou gelowige broer verklaar met oortuiging dat God se plan ‘n vierkant is. Jy is weer oortuig dat dit ‘n kol is.
Albei klou om lewe en dood aan ‘n ou wynsak vas. En baklei eerder met mekaar oor wie die waarheid beet het as om God se groter toekomsplan raak te sien.
Noodgedwonge moet beide ‘n ysige winterseisoen beleef om na die varsheid van lente te smag. En aldus na ‘n nuwe werfplaas aan te beweeg.
In lente sal altwee ‘n verdere deel van God se plan raaksien, synde die vierkant en die kol wat voorheen verborge was.
Noord en suid van die ewenaar
‘n Algemene opmerking omtrent seisoene. Soms sal jy in ‘n somerseisoen wees terwyl jou broer ‘n winter beleef.
Jy wil die wêreld verower en hy wil onttrek om sy lewe te bepeins.
Jy forseer hom egter om in ‘n bottergeel somershempie op die strand vlugbal te speel terwyl hy eintlik alleen in sy wintersjas by ‘n vuurtjie wil sit.
Ek het meermale hierdie fout gemaak.
Gevolglik ervaar jou broer dat hy nie aan verwagtinge voldoen nie en voel geestelik onwaardig. Wees dus altyd sensitief daarvoor dat ons soms in verskillende seisoene reis.
Olifant onder die tafel
Laastens die olifant in die kamer. Iets waaraan heelwat van ons soms dink, maar nie hardop sê nie. Naamlik aardse ouderdom wat ons inhaal.
Susan Macias skryf ‘n pragtige artikel met die opskrif:
Is ek te oud dat God nog ‘n roeping vir my lewe sal hê?
Sy vertel dat sy op ‘n dag met die volgende gedagtes geworstel het:
I am closing in on 60. I often feel it is too late. I waited too long. I’m too old. I should have published multiple books by now. I should have established a speaking ministry already. I’m too old for anyone to want to listen to me.
And I have failed the Lord by not doing His work sooner. I should be at a place to mentor others when I’m trying to begin myself. I’ve dropped the ball. I’m not needed anymore.
Na dae van gebed wys die Here haar op talle bybelfigure sowel as hedendaagse persone wat Hy in hulle tagtigs kragtig gebruik het. Asook persone wat heeltemal onder die radar gevlieg het en eers in hulle vyftigs bedienings begin het soos Corrie Ten Boom.
Bruikbare koffiepot
Máár, sê die Here vir haar, dit gaan in die eerste plek nie oor bedienings of ouderdom nie.
Dit gaan daaroor om Christus te volg. Toe te laat dat Sy lewe deur jou op aarde uitgedruk word.
En daarvoor moet jy jou oë op Christus vestig. Jouself bereidwilligheid verklaar om gebruik te word en onvoorwaardelik beskikbaar wees.
Daarna moet jy in geloof met volle vertroue in Hom uitstap en doen wat jou hand vind om te doen.
Dan gebeur daar in die woorde van Jes 30:21 iets verbasend. Jy sal ‘n stem agter jou hoor wat sê:
Hier is die pad, gaan daarop, wanneer jy regs of links wil hou!
Jy sal ontdek dat jy as ‘n geroepene deel van God se planne word en Hy jou stuur waar jou gawes, ervaring en talente tot die uitbou van Sy koninkryk gebruik kan word.
Die gevoel dat jy die boot gemis het, sal verdwyn.
Want deelname aan God se planne verleen altyd ‘n gewaarwording van betekenis, vervulling en sin aan ons lewens.