Ons bekyk in hierdie lesing die praktiese samestelling van loglyne.
‘n Onderskeid kan tussen simplistiese en opgestelde loglyne getref word.
A. Simplistiese loglyn:
1. Omskrywing
‘n Byvoeglike naamwoord hoofkarakter moet iets doen wat tot ‘n beslissende stryd met ‘n byvoeglike naamwoord opponent/mag/krag lei.
2. Ons merk dat ‘n eenvoudige loglyn uit vier dele bestaan:
1) ‘n Hoofkarakter;
2) ‘n Situasie;
3) Die hoofkarakter se doel;
4) Die opponent
3. Voorbeeld
Ons gebruik die beeld van die gesoute avonturier in die vorige lesing en omskep dit in ‘n loglyn.
‘n Gesoute avonturier (hoofkarakter) wie se familie deur ‘n genadelose grondbaron op korrupte wyse van hulle geboortegrond ontneem is, beland saam met die baron en sy gesin op ‘n verlate eiland (situasie) waar hy hulle oorlewingsvaardighede moet aanleer (hoofkarakter se doel) of almal op die eiland sal van honger en ontbering sterf (opponent).
Duideliker gestel, is die opponent die omgewing wat almal se lewens wil neem, en is die hoofkarakter se doel dat almal oorleef.
Hierdie loglyn gooi die deur wyd oop vir allerhande situasies en sub-intriges by die ontwikkeling van die storiekonsep. Wat sou die situasie wees indien die avonturier besluit om eerder te sterf as om die grondbaron en sy gesin help, maar dan op die grondbaron se dogter verlief raak? Potensiële interne en eksterne konflik is veelryk ingebou.
Wil jy eerder na ‘n video van die praatjie kyk?
B. Opgestelde loglyn
1. Opstelfrase
Die tweede tipe loglyn is in alle wesenlike opsigte dieselfde as ‘n simplistiese loglyn, behalwe dat ‘n opstellingsfrase bygevoeg word. Soms sal ‘n loglyn nie al die moontlikhede ontsluit tensy dit met ‘n opstelfrase ingelei word nie.
2. Voorbeeld
Hier is ‘n voorbeeld van Jordan Smith om te demonstreer hoe dit met die loglyn van ‘n komiese liefdesverhaal sou kon werk.
2.1 In simplistiese vorm:
‘n Doodgewone werktuigkundige van normale intelligensie (hoofkarakter) raak halsoorkop op ‘n briljante fisika-student verlief (situasie) en probeer haar hart wen (hoofkarakter se doel) in stryd met ‘n flambojante dosent (opponent) met wie sy in ‘n verhouding staan.
Die loglyn ontsluit ‘n gewone tipe liefdesverhaal wat komies ingekleur kan word.
2.2 In opgestelde vorm:
WANNEER (opstelfrase) ‘n doodgewone werktuigkundige van normale intelligensie (hoofkarakter) halsoorkop op Albert Einstein se briljant-wiskundige niggie verlief raak (situasie) wat alreeds in ‘n verhouding met ‘n flambojante dosent (eerste opponent) staan, is sy enigste kans om haar hart te verower (hoofkarakter se doel) deur met die hulp van haar neef voor te gee dat hyself ook ‘n geniale akademikus is (tweede opponent).
Die tweede opponent word geskep deurdat the academical establishment hom ook teenstaan tot die mate dat dit dreig om sy skyn aan die lig te bring wat sy kanse sal bederf.
Voordat jy nog ‘n woord van hierdie manuskrip gelees het, kan jy jouself alreeds talle komiese situasies voorstel wat nie met die simplistiese loglyn gebeur het nie. Dit onderstreep die waarde van ‘n goeie loglyn.
2.3 Verdere voorbeeld met opstelfrase
WANNEER ‘n gesoute avonturier wie se familie deur ‘n genadelose grondbaron op korrupte wyse van hulle geboortegrond ontneem is (hoofkarakter), saam met die baron en sy gesin op ‘n verlate eiland beland (situasie) besluit hy om in wraak hulle nie met oorlewingsvaardighede te help nie sodat almal op die eiland van honger en ontbering sal sterf (hoofkarakter se doel en eerste opponent) totdat hy op die baron se dogter verlief raak en sy gevoelens moet afweeg teenoor die onreg wat sy familie aangedoen is (tweede opponent).
Velerlei moontlikhede lê in die loglyn opgesluit wat sal bepaal of sy teenstander mettertyd ‘n opponent of bondgenoot word. Die eiland is ‘n bondgenoot indien die avonturier almal wil laat sterf. Indien liefde egter wen, is die eiland ‘n opponent in die stryd om oorlewing. Onreg is ‘n bondgenoot indien hy almal wil laat sterf en sy gevoelens van liefde ‘n opponent wat hom van sy doel weerhou.
2.4 Sedelike boodskap
Veral by geestelike manuskripte wil skrywers dikwels ‘n sedelike boodskap of tema in die loglyn druk wat onaanvaarbaar is. In die geval van die avonturier sou die frase verkeerdelik uitgebrei kon word om die woorde om uiteindelik te ontdek dat liefde sterker as haat is in te sluit.
2.5 Aard van tema
‘n Terloopse opmerking. Die begrip tema kan verwarrend wees omdat dit na verskillende aspekte in verskillende kontekste verwys.
2.5.1 Eerstens kry jy tema as onderwerp soos byvoorbeeld persoonlike groei.
2.5.2 Tweedens kry jy tema as die konklusie/verklaring ná die ondersoek van die tema as onderwerp.
2.6 Tema as verklaring prakties bekyk
2.6.1 Neem die tematiese onderwerp van Persoonlike Groei.
‘n Moontlike tematiese verklaring/konklusie kan wees dat solank jy in die skadu van jou leermeester bly staan, jy nooit jou volle potensiaal sal bereik nie. Hierdie tematiese verklaring kan as die morele boodskap van die boek gesien word, maar val steeds onder die groter tema van Persoonlike Groei.
2.6.2 Hier is ‘n voorbeeld waar die tematiese verklaring verkeerdelik in die loglyn ingesluit is:
Wanneer ‘n arm treinkontrakteur op ‘n welgestelde reisiger verlief raak, los hy sy werk om oor vastelande heen te reis om haar te vind ten einde te bewys dat liefde geen grense ken nie.
2.6.3 Hier word die tematiese verklaring uitgehaal:
Wanneer ‘n sieklike bejaarde (hoofkarakter) die foto van sy verlore jeugliefde in ‘n oorsese tydskrif opmerk, reis hy ondanks ‘n wêreldwye dodelike pandemie (situasie en eerste opponent) oor vastelande heen om haar te vind ten einde sy liefde te verklaar (hoofkarakter se doel) voordat hy sterf (tweede opponent).
C. Wat as?-vraag
Laastens kyk ons na die omskepping van ‘n wat as?-vraag as idee in ‘n loglyn.
1. Wat as?
Wat as ‘n godvresende man uitvind dat die vrou waarmee hy al jare lank gelukkig getroud is, hom wil vermoor en dit blyk dat die enigste manier waarop hy dit kan keer en sy eie lewe red, sal wees om haar eerste te vermoor?
2. Omskep in ‘n loglyn klink dit soos volg:
Wanneer ‘n godvresende pastoor (hoofkarakter) en sy pasgetroude vrou op haar versoek saam geestelike verdieping op ‘n afgesonderde eiland najaag, kom hy agter dat hulle verhouding net deel van ‘n slinkse plan was sodat sy hom as ‘n invloedryke geestelike leier kan vermoor (eerste opponent en situasie)) en indien hy wil leef, moet hy teen sy Christelike oortuigings haar doodmaak (hoofkarakter se doel) en daarmee sy godsopgelegde lewensroeping versaak (tweede opponent).
Ons het voorheen oor ironie gesels. Hier is die pastoor se lewensroeping ‘n goeie element, maar onder die omstandighede kan dit juis sy vyand wees wanneer, sy vasklou aan die goeie element, juis die slegte elemente instaat stel om sy lewe te neem.
D. Laastens
Jy kan maklik besluit dat loglyne na te veel moeite lyk en jy dit net gaan oorslaan. Onthou die keuse wanneer jy by dertig duisend woorde in jou manuskrip vashaak en besluit dat dit beter sal wees om eerder oor te begin.
Volgende keer gesels ons oor hoe ons jou storie-idee tot ‘n hoër vlak oppomp.
Groete uit die solderkamer.