Ek moes onlangs die gewigtige besluit neem of ek die ikoniese fliek, Forest Gump na amper dertig jaar weer sou kyk.
Dit was gewis ‘n waagstuk. In my twintigs het die film my met onuitwisbare indrukke begeester wat na latere lewensjare oorgespoel het.
Máár ons almal het al ou gunstelinge afgestof net om te ontdek dat die eertydse betowering deur tydsverloop en vars perspektiewe verdof het.
Sou my kosbare herinneringe van Forest Gump dus in die slag bly?
Forest Gump verrys uit die stof
Ek was verniet bekommerd.
My plooie het die nuanses van hierdie tydlose film verrassend nuut ingekleur.
Jare se pyn en skuurwerk aan eie bas het bakkievragte bykomende begrip, insig, en waardering ontsluit.
En moenie my vrou vertel nie, maar ek het weer stilweg ‘n traan of twee gepink. Want na dekades bly ek steeds ‘n sucker vir die underdog wat teen die steil mure van ‘n donker put uitklouter.
Nuwe insig
Daar is kerndele in die film wat ek voorheen te jonk was om te verstaan. Aan die einde van die fliek staan Forest Gump by sy geliefde Jenny se graf en vat die gebeure in die film saam:
I don’t know if we each have a destiny or if we are all just floating around accidental like on a breeze, but I think maybe it is both. Maybe both happen at the same time.
Die ondertone van sy woorde lê diep in die mens se soeke na betekenis: ‘n unieke rede om te bestaan.
Wil jy eerder na ‘n video van die praatjie kyk?
Winston Churchill
Dis ‘n onderwerp wat Winston Churchill na aan die hart gelê het.
Ek lees donkiejare gelede as hoërskoolseun omtrent Winston Churchill se lewe en ontdek dat hy van jongs af ‘n voorwete omtrent sy bestemming gehad het.
Hy word alom as die strateeg en inspirasie beskou wat Hitler se ondergang tydens die Tweede Wêreldoorlog veroorsaak het nadat Churchill op 10 Mei 1940 Eerste Minister van Brittanje geword het.
Orator par excellence
Sy woorde aan die Britse volk resoneer steeds wêreldwyd.
Never give in. Never give in. Never, never, never.
Op 25-jarige ouderdom het hy alreeds aan vier oorloë op vier kontinente as soldaat of verslaggewer deelgeneem. Dit was duidelik dat hy willens en wetens homself telkens in hoogs gevaarlike situasies begeef het.
Dis eintlik ‘n wonderwerk dat hy nie vroeg afgesterf het nie.
Sy moeder was hoogs besorg oor sy oënskynlike onverskilligheid, maar Churchill was van mening dat groter kragte aan die werk was om hom in die lewe te hou.
Daarom skryf hy, effe windmakerig, aan sy moeder:
I do not believe the gods would create so potent a being as myself for so prosaic an ending. I have faith in my star that I am intended to do something in the world.
‘n Kronkelpad terug
Totdat hy egter Eerste Minister op 65-jarige ouderdom word, misluk sy drome as politikus en wêreldleier telkens.
Hy beland op moedverloor se vlakte.
Vele kenners reken dat sy depressie en drankmisbruik oor jare heen gespruit het uit die gevoel dat hy sy ware bestemming misgeloop het.
Maar toe breek die Tweede Wêreld-oorlog uit. Hy was met sy uitsonderlike agtergrond en ervaring, die mees geskikte persoon om die politieke leisels in Brittanje oor te neem.
Met die oorlog in volle swang bereik hy uiteindelik die bestemming wat dekades tevore as ‘n voorwete in sy hart geskuil het.
Hy skryf later:
I felt as if I were walking with Destiny, and that all my past life had been but a preparation for this hour and for this trial.
Sleutels tot oop deure
Sou ons veel van Winston Churchill geweet het indien dit nie vir die Tweede Wêreld oorlog was nie? Dalk nie. Maar so weet nie een van ons watter gebeure moontlik op ons pad vorentoe as sleutel tot ons bestemming wag nie.
Wanneer ek my eie paadjie beskou, dink ek die meeste van ons het verskeie bestemmings wat op ons lewensgang lê.
Ons aankoms by ‘n gegewe standplaas is dikwels net die boublok na die volgende ontvouing in ons aardse wandel.
Ontsnap uit die doolhof
Indien ons egter eerlik is, moet ons erken dat ons meermale verdwaald voel.
Julle ken daardie stem in ons sielsderms wat fluister dat ons êrens tussen bestemmings die pad byster geraak het. Hoe naby is jy daaraan om hoop op te gee? Om jou geroepe toekoms as spookasem te versaak?
Ek is oortuig jy moet die stuk biltong tussen jou tande bly vasbyt. Ruggraat kierts trek.
En daardie verlammende stemmetjie in jouself ‘n venynige opstopper gee deur te verklaar:
I will never give up. Never, ever.
En, so tussen die geklap van vuiste, weer ‘n diep teug van Forest Gump se kinderlike wysheid inasem:
You might feel that you are floating around accidental, but at the same time you are reaching your destiny.
Daarmee die einde van ons praatjie.
Hartlike groete uit die solderkamer.
“You might feel that you are floating around accidental, but at the same time you are reaching your destiny.”
Dankie Christo.
Hierdie wyse woorde van jou het my weer moed en krag gegee om my oë op Hom gerig te hou.
Dankie.
Kobus Esterhuizen
Churchill was natuurlik ‘n orator van formaat en is daar talle inspirerende uitinge van hom wat legendaries is.
Op ‘n ligter trant haal ek een van die bekendste stories van hom aan wat klaarblyklik werklik gebeur het. Gedurende ‘n formele funksie waartydens hy redelik onder die prop was – iets waaroor die eerste vroulike lid van die Britse Parlement, Lady Nancy Astor, erg eksepsie geneem het – het die volgende gesprek na bewering plaasgevind:
“Lady Astor: “You, sir, are drunk.”
Churchill: “Yes, madam, I am. And you are ugly. But tomorrow I will be sober.”
It brings to mind another statement attributed to Churchill, that a gentleman is only rude intentionally……”
RECENT STORIES